Aktueel

Kyk net hoe tower dié studente met wol!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Modeontwerpstudente het nuwe lewe in handgemaakte hekel- en brei-artikels geblaas en dit in kledingstukke omskep.

Die saamgestelde versameling, Curated Collection, is tot 18 Julie, Mandela-dag, by die Brooklyn-winkelsentrum in die ooste van Pretoria te sien.

Die studente van Stadio School of Fashion het onder die leiding van Anna-Mari Pretorius, modebedryfskenner, 22 uitrustings gemaak van oorskot garing en wol en beskadigde en onvolledige wolstof.

"Hierdie wonderlike samewerking het die weg gebaan vir jong ontwerptalent om 'n ander perspektief op wol te kry. Dit was 'n plesier om saam met 'n groep gemotiveerde jong mense te werk wat hul halfjaarvakansie aan hul ontwerpe spandeer het. Wie sê Gen Z is ongemotiveerd?"

'n Inkopieganger in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria kyk na 'n balrokontwerp van stukkies wol en gebreide wolblokkies. Foto: Deaan Vivier
'n Inkopieganger in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria kyk na 'n balrokontwerp van stukkies wol en gebreide wolblokkies. Foto: Deaan Vivier

Pretorius sê die jong ontwerpers het wol se gebruik herverbeel deur hul kreatiwiteit en talent in te span om handgemaakte gebreide en gehekelde wolskeppings soos komberse en serpe wat deur die organisasie 67 Blankets vir Nelson Mandela-dag gemaak is, in kledingstukke te omskep.

Sheree McHaffie, wat die Brooklyn-winkelsentrum verteenwoordig, sê die versameling het tot stand gekom danksy 'n vennootskap tussen dié winkelsentrum, The Scoin Shop (jare lange winkel in dié sentrum), 67 Blankets for Nelson Mandela Day en Embassy Direct.

Verskeie gebreide en gehekelde komberse en serpe ten bate van 67 Blankets for Nelson Mandela Day is tot 18 Julie by die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria te sien. Foto: Deaan Vivier
Verskeie gebreide en gehekelde komberse en serpe ten bate van 67 Blankets for Nelson Mandela Day is tot 18 Julie by die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria te sien. Foto: Deaan Vivier

Dit is vanjaar 67 Blankets for Nelson Mandela Day se 10de bestaansjaar.

Carolyn Steyn, stigter van 67 Blankets for Nelson Mandela Day, sê dié projek is 'n opwindende nuwe hoofstuk vir die organisasie.

Emily Mathabatha neem 'n foto van 'n woluitrusting in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Emily Mathabatha neem 'n foto van 'n woluitrusting in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

"Ons het voorheen die uitsonderlike handwerkvaardighede en toewyding van ons breiers in verskeie prominente Suid-Afrikaanse winkelsentrums ten toon gestel. Hierdie samesmelting van mode en gare sal die wonderlike handewerk van ons handwerkers in die kollig plaas en nuwe entoesiaste na ons brei- en hekelrevolusie lok."

Die Scoin Shop ondersteun 67 Blankets for Nelson Mandela Day sedert sy ontstaan en het vanjaar R100 000 se wolskenkings gemaak om die handwerkpogings te ondersteun. Die Brooklyn-winkelsentrum het nog R10 000 bygedra.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM