In die florerende wolbedryf is dit kardinaal dat kundiges opgelei moet word om wol korrek te klassifiseer. Tisha Steyn vertel meer oor wolklassering.

Geskeerde wol word nie sommer net in sakke geplaas en dan verkoop nie, want dit verg opgeleide en kundige klassers om te verseker dat produsente die regte pryse vir hul wol kry.
Daar word hernude klem gelê op die klasstandaarde van die Suid-Afrikaanse wolbedryf, sê Annelize Smit van Niekerk, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se produksie-adviseur.
In die huidige ekonomiese klimaat waarin die wolbedryf hom wêreldwyd bevind, asook die vereistes wat deur verbruikers gestel word, is dit van uiterse belang dat die Suid-Afrikaanse wolprodusent sy wolskeersel so goed moontlik klas om te kan meeding in hierdie globale mark.

Suid-Afrika is by uitstek 'n kweker van wol van hoë gehalte.
Die sowat 45 miljoen kilogram wol wat jaarliks geskeer word, verdien nagenoeg R5 miljard rand, veral van die Chinese mark, waarheen 97% van die wol uitgevoer word.
Suid-Afrika lewer slegs 2% tot 3% van die wêreldwye wolproduksie, waarvan 12% van hierdie wol vir die vervaardiging van klere is. Wat egter uniek is aan die Suid-Afrikaanse skeersel, is dat 47% van ons wol gesertifiseerd geproduseer word. Daarmee word bedoel dat amper die helfte van Suid-Afrika se wolprodusente volhoubaar en naspeurbaar boer met hul skape.
Suid-Afrikaanse wolprodusente produseer die tweede meeste gesertifiseerde wol ter wêreld en dit plaas Suid-Afrikaanse wol in 'n goeie posisie in die internasionale markte as dit kom by vraag deur verbruikers, wat al hoe meer sensitief is oor naspeurbaarheid en die koolstofvoetspoor van produkte. Daarom is dit van uiterste belang dat die gehalte van die skeersel wat aangebied word op standaard is om aan die wêreldmark te voorsien.
Ten einde die hoë standaard te handhaaf, moet klassers opgelei word volgens die Nasionale Wolkwekersvereniging se klasstandaarde. Hierdie klasstandaard is reeds so vroeg as 1931 opgestel en vandaar ontwikkel het om te voorsien aan internasionale standaarde.
Hoe beter die wol geklas is, hoe hoër die pryse!

Springbokkop-kursus
Dis nie sommer net enigeen wat wol kan klas nie en daar is 'n kursus wat deur belanghebbendes gedoen kan word om hiervoor te kwalifiseer.
"Wolklassers word amptelik gedurende 'n vyf-dag-Springbokkop-wolkursus deur geakkrediteerde instrukteurs opgelei," verduidelik Smit van Niekerk. "Die opleiding stem ooreen met die NWKV se Wolklasstandaard-handleiding wat gebaseer is op die Kode van Skeerselvoorbereiding soos uitgereik deur Cape Wools."
Die Springbokkop-kursus staan so bekend omdat die Springbok-embleem gewoonlik verwys na topprestasie in sport. Daarom is daar besluit om wolklassers wat opgelei word en voldoen aan al die vereistes van wolklassering hierdie eerbetoon te gee, deur die Springbok Wolklas-sertifikaat te ontvang.
Dis is nie net die skaapskeerders wat 'n skaap binne 40 sekondes skeer wat die wol se prys bepaal nie - dis ook die wolklassers wat bepaal hoeveel dollar puntenerige kopers vir Suid-Afrikaanse wol op wolveilings betaal.
Volgens Smit van Niekerk fokus die kursus op praktiese aspekte van wolklas. Voornemende wolklassers word deurlopend geëvalueer en ná afloop daarvan lê die klassers 'n mondelinge en skriftelike eksamen af.
Kursusse kan oor die land heen aangebied word deur Springbokkop-instrukteurs waar daar 'n behoefte en fasiliteite beskikbaar is.
Wolklaskursusse word slegs met merinowol aangebied en ten minste drie vagte per deelnemer word benodig.
Deelnemers word deurentyd deur die Springbokkop-instrukteurs geëvalueer en dit is glad nie te sê 'n klasser gaan ná een kursus as 'n Springbokkop-wolklasser kwalifiseer nie - 'n aanvoeling vir wol en ondervinding is ook 'n vereiste vir die kwalifikasie.
Tydens die wolkursus word wolmonsters vir elke prakties en eksamen uitgepak sodat die deelnemers die verskillende lyne wol volgens die NWKV se klasstandaarde kan identifiseer en akkuraat kan beskryf, byvoorbeeld of dit rugwol of vagwol of lokslyne is.

'n Goeie verstaan van wol
Wolwerk is die eerste stap tot kwalifisering. Dit behels dat die vag opgetel en op die tafel gegooi moet word voordat dit afgerand word.
Treksterkte word bepaal en of dit 'n uitskotvagte is. Dan sal die vag afgerand word waar alle korter wol, sweet en uriene-wol verwyder word, verduidelik Smit van Niekerk.
Klem word ook gelê op die besoedeling van die wol, die identifisering van die besoedeling en die voorkoming daarvan.
Die volgende lyne of klasse word gewoonlik van 'n skaap afgeskeer, naamlik loks, penswol en afrandsels, vagstukke, rugwol en vagwol.
Nadat die vag op die tafel in verskillende lyne opgebreek en geklas is, volg die stukkiesklas.
Hierdie stukkieswol is afkomstig van die afranding van die vag, asook die penswol, wat apart geskeer word.
Hierdie onderlyne sluit die volgende in:
- Loks 1: Lang sweetwol, lang gekoekte borswol, lang kuif- en vagwol en enige stukkie- en penswol wat nie voldoen aan die BP-klas van langer as 25 mm nie;
- Loks 2: Pooitjieswol, kort kuif- en wangwol, dubbelknipsels, kort sweetstukke en veegsels korter as 25 mm;
- Loks 3: Urien-, mis- en bloedbevlekte wol, asook swaar sweetstukke;
- CBP (Combing Bellies and Pieces): Lang, ligter, aantreklike penswol en stukkies langer as 50 mm;
- BP (Bellies and Pieces): Korter, ligte, aantreklike penswol en stukkies in die geval van agt-maande skeersels korter as 50 mm; en
- CB (Combing Bellies): Slegs ligte, aantreklike penswol langer as 50 mm.
"Dit is baie belangrik dat elk van die bogenoemde stukkies wol geïdentifiseer kan word om dit in die regte lyne te kan klas. Die klasser moet ook bewus wees van die hoeveelheid wol om nie onnodige lyne uit te klas nie," sê Smit van Niekerk.
Volgens haar behels die volgende deel van die kursus die klassering van vagwol waar gekyk word na die identifisering en tipering van wolmonsters, die beoordeling van vagte, klasinspeksie van groot en klein skeersels en, baie belangrik, die groepering van die lotte binne 'n skeersel.
Wanneer vagwol geklassifiseer word, word ses fisieke woleienskappe in ag geneem. Elkeen van die eienskappe speel 'n rol wanneer die prys vasgestel word.
"Hierdie eienskappe word egter die beste beoordeel deur al die eienskappe in kombinasie te sien, aangesien die een die ander komplementeer," sê Smit van Niekerk.

Woleienskappe sluit in:
- Treksterkte word in die skeerskuur subjektief bepaal en word gedefinieer as die weerstand wat individuele wolvesels in die wolstapel bied teen spanning, wrywing en slytasie;
- Egaligheid van lengte is baie belangrik tydens die verwerkingsproses, en die verskil in stapellengtes van vagwol in dieselfde klas moenie meer as 25 mm tot 20 mm varieer nie;
- Fynheid behels die vasstelling van die aantal kartels per 25 mm stapellengte. Hoe hoër die kartelfrekwensie hoe dunner die stapel hoe sagter die aanvoeling en hoe hoër die gehalte, met ander woorde hoe fyn die vesels is, of omgekeerd;
- Gehalte word definieer as reëlmatige en duidelike karteling, sagte vol hantering en vry van hare, growwe vesel of gekleurde vesels;
- Kondisie word gedefinieer in terme van die mate van aanwesigheid van enige ander materiaal anders as skoon wolvesel, soos die teenwoordigheid van wololie en wolsweet, sand en stof, plantmateriaal en vog; en
- Voorkoms word bepaal met inagneming van die kleur van die wol, die stapelformasie en die hoeveelheid tip in verhouding tot die lengte van die stapel.
Volgens Smit van Niekerk speel die ouderdom van die skape ook 'n belangrike rol in die klassering van wol. Voornemende klassers word geleer om byvoorbeeld lammerwol van lammers onder agt maande oud, en wissellamwol van lammers tussen agt en 12 maande wat vir die eerste keer geskeer word, te kan identifiseer.
Hierdie tipe wol word altyd apart geklas en gemerk omdat die struktuur van lammerwolvesels verskil van dié van groot skape; dit is 'n spesialiteitswol wat altyd fyner sal wees as die gemiddelde van enige skeersel.
Witwolrasse en kruiswolrasse word op dieselfde wyse geklas, maar verskillend gemerk. Hierdie rasse, asook rasse met growwe wit en gekleurde vesel, word altyd apart geskeer en verpak.
"Die hoofdoel van klassering moet wees om so groot as moontlike vagklasse te maak. Die voornemende wolklassers word dus geleer om binne die reëls en klasstandaarde van vagwolklasse te groepeer sodat dit ekonomies van aard is, met inagneming van die gemiddelde prys per kilogram van die skeersel."
Faktore wat die ekonomiese aard beïnvloed, is die koste van objektiewe meting of OM-lotte, minimum en maksimum toelaatbare gewig van bale, die invloed van splitbale (wat twee lyne wol bevat) op prys, en die beginsels van groepering van wol.

Inklusiewe ontwikkeling
Die kursus is oop vir enige belangstellendes, soos wolprodusente, lede van kommunale skeergeriewe, asook ervare of nuwe klassers.
Dit is vir die NWKV baie belangrik om ook opkomende en kommunale wolkwekers deur vaardigheidsontwikkeling te bemagtig.
"Wol is 'n belangrike bedryf wat sowat 6 000 kommersiële en 4 000 kommunale wolkwekers, sowat 35 000 plaaswerkers en 4 000 skaapskeerders en wolhanteerders raak.
"Die NWKV is 'n inklusiewe produsente-organisasie wat produksie-adviseurs in elke provinsie het wat kommersieel sowel as kommunale wolprodusente adviseur.
"Van die plaas tot die nasionale en internasionale vlak is die NWKV die stem van die wolboer," sê Smit van Niekerk.
- Bronne: Joubert, R. (2025) "Learn How to Class Wool Like an Expert." African Farming.) Wêreldklas-skaapskeerders aangewys op Bloemskou (2025), OFM.
Meer inligting:
Kontak Annelize Smit van Niekerk, produksie-adviseur vir opleiding en ontwikkeling van die Nasionale
Wolkwekersvereniging, by 0829283592 of annelize@nwga.co.za vir meer inligting oor wolklassering en die kursus.

















