’n Ma en haar 11 maande oue baba van Harrismith wat vier dae gelede spoorloos verdwyn het, is steeds soek.
Ané Pienaar (36) en haar dogtertjie is Vrydag laas gesien en is Sondag by die polisie as vermis aangemeld.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die polisie vra die gemeenskap se hulp om Pienaar en die baba op te spoor.
Pienaar is Vrydag die laaste keer deur haar lewensmaat gesien toe hy die oggend werk toe is.
Sy en haar dogtertjie het by die huis agtergebly.
By sy terugkeer van die werk het hy ontdek dat Pienaar en hul baba weg is. Die ma en baba se klere was ook nie meer in die kas nie.
Volgens hom het sy die huissleutel op die vensterbank agtergelaat.
Alle pogings deur Netwerk24 tot dusver om Pienaar se familie op te spoor was onsuksesvol.
Missing Children South Africa het ook ’n kennisgewing uitgestuur om Pienaar en haar dogtertjie op te spoor.
Teen Maandagmiddag was hulle steeds vermis.
Enigiemand met inligting oor waar Pienaar en haar dogtertjie is, word gevra om kapt. Vusimusi Zwane by 060 976 4290 te bel of die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.




















