Zuma: ‘Ek is bly om uit dié pos te tree’

Met net enkele ure voordat 'n nuwe ANC-leier aangewys word, het pres. Jacob Zuma Maandag in Johannesburg gesê hy is "baie bly" om uit dié pos te tree.

Hy het op 'n besigtigingstoer van die sake-ondernemings wat by die Progressive Business Forum (PBF)-lokaal by die ANC se 54ste nasionale konferensie by die Nasrec-eksposentrum uitstal, joviaal en ontspanne voorgekom. Hy was in 'n gemoedelike luim en het geselsies met die meeste van die uitstallers aangeknoop.

Pres. Jacob Zuma sê hy is baie bly om uit die pos as ANC-leier te tree. Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Jacob Zuma sê hy is baie bly om uit die pos as ANC-leier te tree. Foto: Felix Dlangamandla

Hy het aan die mediaskrum van plaaslike en internasionale joernaliste wat hom gevolg het, gesê hy voel nederig dat hy die geleentheid gehad het om een van die 12 ANC-leiers te kon wees wat dié pos die afgelope 105 jaar beklee het.

"Ek is bly dat ek nou uittree - baie gelukkig. Ek dink in my eie mening het ek my eie bydrae gelewer . . . so ek is baie bly."

Zuma het gesê hy weet dat die ANC se saamtrekke weens sy geskiedenis en grootte baie belangstelling lok. "Uit ons oogpunt is dit soos enige ander konferensie, hoewel dit in die voorbereiding geneig het om vir meer opwinding te sorg."

Die feit dat die ANC sewe presidentskandidate gehad het, dui volgens Zuma op die oop en demokratiese aard van die ANC. Die ander punt wat dit beklemtoon, is dat die ANC nie 'n tekort aan lede het wat die party se president kan wees nie, het hy gesê.

Pres. Jacob Zuma tydens sy besigtigingstoer.Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Jacob Zuma tydens sy besigtigingstoer.Foto: Felix Dlangamandla

Zuma het verder daarop gewys dat die konferensie glad verloop. "Afgevaardigdes tree baie robuus op - hulle is baie gereed vir besprekings en om enigiets uit te daag omdat hulle die beste uit die konferensie wil hê."

Hy het die joernaliste aangemoedig om nie oor "ander dinge" bekommerd te wees nie, want dit is maar hoe die lewe is. "Jy loop soms sonder om te dink en skop teen 'n klip en voel die pyn. Die belangrikste ding is hoe reageer jy daarop - dit is die sterkpunt van die ANC. As hy in die moeilikheid is - hoe staan hy op . . ."

"Ek was by tye krities oor sommige van jul skryfwerk en soms het ek gevoel julle is ietwat partydig. Soms raak julle opgewonde oor dinge wat uit my oogpunt nie die land bevorder nie, maar ek dink julle skryf en ek waardeer dit. Ek is seker dat julle sal voortgaan om altyd oor die ANC verslag te doen omdat dit 'n faktor in die lewe van Suid-Afrikaners is."

Pres. Jacob Zuma was in 'n gemoedelike luim en het geselsies met die meeste van die uitstallers by die Progressive Business Forum aangeknoop.Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Jacob Zuma was in 'n gemoedelike luim en het geselsies met die meeste van die uitstallers by die Progressive Business Forum aangeknoop.Foto: Felix Dlangamandla

SPELETJIES VANDAG

CTA