Geregtigheid vir Krisley Dirker is Dinsdag weer in die hooggeregshof in Gqeberha vertraag.
Dit kom nadat die 19 maande oue Krisley se stiefpa, Robin Clarke, aan die hof gesê het hy het nie regsverteenwoordiging nie.
Robin is saam met Kristen, sy vrou en Krisley se ma, skuldig bevind op aanklagte van kindermishandeling.
Robin is ook skuldig bevind op aanklag van moord terwyl Kristen vrygespreek is op daardie aanklag.
By ’n vorige verskyning het Robin die hof in kennis gestel dat hy prof. Deon Erasmus, sy regsverteenwoordiger, laat gaan het.
Regter Vuyokazi Noncembu het Robin gewaarsku dat dit die laaste uitstel is.
Nadat regter Noncembu verlede jaar uitspraak gelewer het, is Robin se borgtog teruggetrek terwyl Kristen s’n verleng is omdat sy die primêre versorger van haar drie ander kinders is.
Netwerk24 het vroeër berig dat Krisley op 10 Oktober 2013 bewusteloos en met ernstige kopbeserings in die hospitaal opgeneem is en nooit haar bewussyn herwin het voordat sy sewe dae later dood is nie.
Netwerk24 het ook berig dat Noncembu verlede jaar in die uitspraak daarop gewys het dat Robin verskillende weergawes aan gesondheidspersoneel en Kristen gegee het oor hoe Krisley op die dag beseer is voordat hy haar kliniek toe gebring het.
Robin, wat in daardie tydperk werkloos was, het bedags na Krisley omgesien terwyl Kristen by die werk was. Uit die getuienis voor die hof het Robin aan gesondheidspersoneel gesê hy het Krisley bewusteloos op die vloer aangetref nadat sy geslaap het.
Hy het egter aan Kristen gesê dat Krisley inmekaargesak het terwyl hy vir haar ander klere wou aantrek op die bed en hy vermoed dat sy die agterkant van haar kop teen ’n kasdeur gestamp het.
Die saak is tot 24 Maart uitgestel.


















