Die saak teen die vermeende onderwêreld-bendebaas Nafiz Modack (44) en sy 14 medebeskuldigdes is Maandag ná ’n vlugtige verskyning in die hooggeregshof in Kaapstad tot volgende week uitgestel.
Die saak is tot Maandag 13 Oktober uitgestel ná ’n verdaging van langer as ses maande.
Regter Robert Henney, die verhoorregter, het die saak aanvanklik uitgestel omdat hy by ’n saak in die konstitusionele hof betrokke was.
Adv. Greg Wolmarans, die staatsaanklaer, het Maandag gesê die staat is ingelig dat Henney nie beskikbaar is om die verrigtinge voort te sit nie.
“Ons is bewus van die feit dat ons normale voorsittende beampte nie teenwoordig is nie, maar ons is vanoggend behoorlik in kennis gestel dat die saak tot volgende Maandag uitgestel word.”
Modack staan saam met sy medebeskuldigdes tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, korrupsie, intimidasie en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
Die aanklagte hou verband met die moord op lt.kol. Charl Kinnear op 18 September 2020, die moord op Nici Heerschap, pa van die voormalige Valke-speurder Nico Heerschap, op 19 Julie 2019 in Melkbosstrand, die poging tot moord op André Naudé op 6 September 2019 by sy huis in Loevenstein, Bellville, die moord op Richard Joseph, ’n insleepvoertuigbestuurder, op 20 September 2019, en die poging tot moord op die Kaapse prokureur William Booth by sy huis in Higgovale, Kaapstad, op 9 April 2020. Naudé is sedertdien op 12 Junie vanjaar in Parow vermoor. Niemand is nog weens sy moord in hegtenis geneem nie.
Modack is op 29 April 2021 ná ’n wilde jaagtog naby Century City in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in aanhouding.
Hy is ook in September 10 jaar tronkstraf opgelê in die streekhof in Kaapstad nadat hy aan bedrog skuldig bevind is. Dit was ’n onverwante hofsaak. Die hof het bevind dat Modack ’n korrupte verhouding met Colin Govender, ’n oudbrigadier in die polisie en voorheen die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor se stasiebevelvoerder, gehad het.
Modack staan ook in die hooggeregshof in Kaapstad saam met nog ander beskuldigdes tereg op aanklagte wat met BTW-bedrog verband hou en in die hooggeregshof in Johannesburg op aanklagte wat met die vervalsing van vuurwapenlisensies verband hou.





















