’n Jong plaasvoorman wat ’n staatsgetuie geword het in die varkhok-moordsaak het Donderdag vir die eerste keer in dié verhoor in Polokwane getuig.
Adriaan Rudolph de Wet (19) het aanvanklik saam met Zacharia Johannes (Sakkie) Olivier (60), eienaar van ondernemings op die hoewe, en William Musora (40), ’n plaaswerker, tereggestaan in verband met die moord op Maria Makgatho (45) en Lucia Ndlovu (35).
Die lyke van die twee vroue is verlede jaar in ’n varkhok op die hoewe buite Polokwane ontdek.
Vroeër is berig dis nie duidelik presies wat gebeur het nie.
LEES OOK | Varkhok-verhoor begin dán in Polokwane-hof
De Wet, teen wie aanklagte voorlopig teruggetrek is, het Donderdag in die hooggeregshof in Polokwane in die getuiebank ingeskuif.
Toe Netwerk24 Donderdagmiddag in die hof was, is De Wet deur adv. George Sekhukhune, staatsaanklaer, kruisondervra. Sekhukhune wou by De Wet weet wat sy reaksie sou wees as dit aan hom gestel sou word dat hy (De Wet) Musora gedwing het om die tweede lyk in die varkhok te gooi.
“Dis ’n leuen,” het De Wet geantwoord.
Regter Jane Ngobeni het die saak tot Woensdag uitgestel. Die verdediging het die uitstel versoek omdat De Wet glo nuwe getuienis gelewer het wat nie in sy beëdigde verklaring vervat word nie.
Olivier en Musora bly in aanhouding.













