Die bejaarde ma van een van die vroue wie se lyk verlede jaar in ’n varkhok op ’n hoewe buite Polokwane gekry is, het Vrydag buite die hooggeregshof in dié stad voor haar uitgestaar.
Linah Makgato moes onverrigtersake terugkeer na haar huis buite die stad nadat die verhoor teen die twee vermeende moordenaars van haar dogter, Maria (45), uitgestel is.
Makgato het langs haar kleinseun, Ranki Makgato (23), in die hofgalery gesit toe regter Jane Ngobeni die verhoor tot volgende Woensdag uitgestel het.

Maria Makgato en Lucia Ndlovu (35) is op 17 Augustus 2024 doodgeskiet en hul lyke is drie dae later in ’n varkhok op ’n hoewe gekry. Hulle het na suiwelprodukte op ’n rommelhoop op die Onverwacht-hoewe gesoek toe daar op hulle geskiet is.
Zacharia Johannes (Sakkie) Olivier (60), eienaar van die hoewe langs die R81-pad buite Polokwane, is in Augustus verlede jaar saam met twee van sy werkers, William Musora (40) en Adriaan de Wet (19), in hegtenis geneem.

De Wet het in Augustus vanjaar ingevolge art. 204 van die Strafproseswet ’n ooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is nou ’n staatsgetuie en in ’n getuiebeskermingsprogram.
Olivier en Musora is borgtog geweier en is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding.
De Wet het verlede Donderdag vir die staat getuig.
Adv. J.J. Venter, Olivier se regsverteenwoordiger, het Woensdag met kruisondervraging van De Wet begin.
De Wet het homself etlike kere weerspreek en getuig dat hulle op die aand van Saterdag 17 Augustus verlede jaar waarskuwingskote “op die silhoeëtte van mense” geskiet het. Hy het erken dat hy met ’n .303-geweer geskiet het.
Venter het Woensdag aangedui hy wil De Wet kruisondervra oor inligting soos vervat in ’n onafhanklike ballistiese kenner se verslag wat deur die verdediging bekom is.
Adv. George Sekhukhune, senior staatsaanklaer, het gesê die staat wil insae in die onafhanklike ballistiese verslag van die verdediging hê voordat De Wet daaroor gekruisondervra word.
Andries Rheeder, die opdraggewende prokureur namens Olivier, moes die verslag, wat in twee dele opgedeel is, aan die staat verskaf.
Die verhoor kon nie Donderdag voortgaan nie, want Ngobeni was die voorsittende beampte in ’n ander verhoor.
Sekhukhune het Vrydag met die aanvang van die saak gesê die eerste gedeelte van die verslag is van Rheeder ontvang, maar nie die tweede nie. Hy het gesê hy moet ook insae in die tweede gedeelte van die verslag hê alvorens die kruisondervraging kan voortgaan.
Venter sowel as Desmond Nonyani, prokureur vir Mursora, wat skuld op alle aanklagte teen hom ontken, het geen beswaar daarteen gehad nie.
Ngobeni het die verhoor tot Woensdag uitgestel.
Die verhoor sal daarna moontlik eers in November kan hervat omdat die regspanne van die staat sowel as die verdediging reeds ander verhore behartig.
Olivier en Musora bly in aanhouding.
Olivier het met die aanvang van die verhoor skuld ontken op twee aanklagte van moord, ’n aanklag van poging tot moord, wat verband hou met beserings wat ’n man opgedoen het wat saam met die twee vroue was, dwarsboming van die gereg, en dat hy ’n onwettige immigrant (Musora) in diens geneem het.
Hy het skuld erken op die aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Hy voer aan mense het sy grond onwettig betree en suiwelprodukte sowel as varke gesteel. Hy het met ’n .22-geweer waarskuwingskote op 17 Augustus 2024 geskiet, sê hy.





















