‘Ons wag vir Ajay,’ sê Valke

Die Valke het Ajay Gupta se pogings om die bestaan van 'n lasbrief te bevraagteken, weerlê en gesê dit is steeds van krag en hy sal met sy terugkeer na Suid-Afrika in hegtenis geneem word.

Adv. Mike Hellens SC, wat aan die hoof staan van die Gupta-gesin se regspan, het Donderdag in Johannesburg aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê sy kliënt verkies om in die buiteland via 'n video-verbinding te getuig.

Ajay Gupta
Ajay Gupta

Volgens Hellens is Ajay verkeerdelik deur die Valke as 'n "voortvlugtige" verklaar en daarom vrees hy 'n wederregtelike inhegtenisname en aanhouding. Hy vertrou ook nie die land se wetstoepassers nie en gaan hom nie aan die "onbevoegdheid" van die Valke onderwerp nie.

Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat die lasbrief vir Ajay steeds van krag is.

"Sy regsverteenwoordigers kan sê net wat hulle wil. Dit is waarvoor hulle betaal word.

"Wat hulle wil doen, is om uit te vind wat die lasbrief behels en waarmee dit verband hou."

Hellens het gesê hy vermoed die klag teen Ajay sal verband hou met die Vrede-melkplaasprojek in die Vrystaat, waaruit die Gupta-familie na bewering voordeel getrek het.

"Daar is aan ons gesê 'n lasbrief is uitgereik vir Ajay se inhegtenisname, maar niemand het 'n beëdigde verklaring van die Valke gesien nie."

As Ajay niks het om weg te steek nie, hoekom wil hy uit die buiteland getuig? Dit is net weer 'n bewys van die ongelooflike arrogansie van die Guptas en hul minagting vir die Grondwet.

—  Protas Madlala, 'n politieke ontleder.

Hoewel Zondo uitspraak voorbehou oor of die Guptas en Duduzane Zuma staatsgetuies kan kruisondervra of nie, wil adv. Vincent Maleka, vir die kommissie, hê mense wat geïmpliseer word, moet kruisondervra word en ook getuig.

Adv. Dawie Joubert SC, namens Duduzane Zuma, het aangedui dat sy kliënt nie bereid is om voor die kommissie te verskyn nie. Dit is omdat daar klagte teen hom hangende is wat verband hou met die getuienis voor die kommissie waarin hy geïmpliseer word.

Die klagte teen Zuma hou verband met die 2015-ontmoeting tussen Mcebisi Jonas, 'n voormalige adjunkminister van finansies, en die Guptas, wat hy na bewering gereël het. Dit was tydens dié ontmoeting dat die Guptas glo vir Jonas R600 miljoen aangebied het as hy sal oorneem as minister sodra Nhlanhla Nene afgedank is.

Zuma is aangekla van die oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Bedrywighede. Sy saak is tot 24 Januarie uitgestel.

Protas Madlala, 'n politieke ontleder, sê die kommissie moet nie 'n uitsondering vir Ajay maak om uit die buiteland via 'n video-verbinding te getuig nie.

"Dit sal 'n yslike presedent skep. As Ajay niks het om weg te steek nie, hoekom wil hy uit die buiteland getuig? Dit is net weer 'n bewys van die ongelooflike arrogansie van die Guptas en hul minagting vir die Grondwet."

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

CTA