'n Vermeende rower wat by 'n string rooftogte Woensdag in KwaZakhele in Gqeberha betrek word, is in hegtenis geneem terwyl nog een deur die polisie doodgeskiet is.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in 'n verklaring drie gewapende mans het Woensdag omstreeks 15:55 die kliniek in Nkewanastraat, KwaZakele, bestorm, die wag by die kantoor ingedwing en die personeel gedreig. Die rowers het personeel van hul besittings, waaronder selfone, beroof. Een van die personeellede se motors, 'n Renault Triber, is ook gekaap.
Kort ná die rooftog by die kliniek was die drie na bewering by twee ander voorvalle betrokke waar hulle nog twee voertuie in KwaZakhele gekaap het. Volgens Mawisa het die mans in 'n Toyota Hilux gevlug en twee ander gekaapte voertuie, die Renault Triber en 'n Volkswagen Tiguan, agtergelaat.
Die blitspatrollie is gevra om op die uitkyk vir die Hilux te wees en het dit in Booistraat in KwaZakele opgemerk.
Die verdagtes het op die hoek van Booistraat en Spondoweg uit die Hilux gespring en die polisie het die 40-jarige bestuurder in hegtenis geneem.

Nog 'n rower, wat 'n vuurwapen op die polisie gerig het, is doodgeskiet.
'n Derde rower, wat in die rigting van die Dora Nginza-hospitaal gevlug het, is steeds soek.
Al die gesteelde items en die gekaapte voertuie is teruggevind, sê Mawisa. Die polisie het ook op die toneel op 'n swart en silwerkleurige Taurus-9 mm-pistool beslag gelê.
Mawisa sê die 40-jarige verdagte sal binnekort in die landdroshof in New Brighton op aanklagte van sakeroof, kaping, die rig van vuurwapens en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie verskyn.














