Zuma ‘wil eers nadink’ oor Zondo

Oudpres. Jacob Zuma wil die uitnodiging om sy weergawe voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg te stel, eers deeglik oorweeg.

Sy prokureur het Donderdag in 'n verklaring gesê soos wat Zuma se regspan aan die begin van die kommissie se sittings aangedui het, "steun hy die kommissie en wil hy betekenisvol aan die proses deelneem".

Jacob Zuma, oudpresident van Suid-Afrika en die ANC
Jacob Zuma, oudpresident van Suid-Afrika en die ANC

Luidens die verklaring sal Zuma vir Zondo laat weet wat hy besluit het sodra hy daaroor nagedink en sy regspan geraadpleeg het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie na staatskaping, het vroeër die dag versoek dat Zuma 'n beëdigde verklaring indien met sy weergawe oor getuienis waarin hy geïmpliseer word.

Themba Maseko, 'n voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingsdiens (GCIS), het Zuma ook uitgedaag: "Kom vertel jou kant van die saak, mnr. Zuma. Ek wil dit graag hoor."

Maseko het getuig oor druk wat Zuma glo op hom uitgeoefen het om die Gupta-broers te help om advertensies vir hul New Age-koerant te kry.

Maseko het so gereageer nadat Ajay en Rajesh Gupta se aansoek van die hand gewys is om getuies voor die kommissie te kruisondervra.

Zondo het gesê so lank as wat die Gupta-broers nie bereid is om na Suid-Afrika terug te keer om persoonlik voor die kommissie te getuig nie, sal hulle nie toegelaat word om getuies te kruisondervra nie.

Zondo het egter nie daar opgehou nie. Hy het gevra dat Zuma - wat Woensdag vir studente op die kampus van die Walter Sisulu-Universiteit gesê het dat daar nie so iets soos staatskaping is nie - 'n eedsverklaring by die kommissie moet indien oor die bewerings in Maseko se getuienis en ook dié van Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP.

Dit is hieroor dat Maseko sê hy sien uit na Zuma se weergawe. Maseko het getuig dat Zuma druk op hom uitgeoefen het om die Gupta-broers te "help" om staatssadvertensies vir hul koerant The New Age te kry.

"Die land wag om sy weergawe te hoor. Hy sal aan die nasie sy weergawe moet kom gee. Ek sien daarna uit," het Maseko by die kommissie aan Netwerk24 gesê.

Die land wag om sy weergawe van die verhaal te hoor. Hy sal aan die nasie moet kom verduidelik wat sy weergawe is. Ek sien daarna uit.

Hy het in reaksie op Zuma se toespraak Woensdag gesê dit is skokkend. "Ek weet nie wie hom die raad gee om sulke verklarings te maak nie."

Mentor het vroeër voor die kommissie getuig dat Zuma teenwoordig was by die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesburg, toe die broers haar die pos van minister van openbare ondernemings aangebied het.

Zondo het ook toestemming gegee dat Duduzane Zuma, wat sentraal geplaas is in die Guptas se beweerde plundering van staatsbates, Mcebisi Jonas, voormalige minister van finansies, mag kruisondervra.

Jonas het vroeër voor die kommissie getuig dat Duduzane Zuma 'n ontmoeting in 2010 tussen hom en die Gupta-broers gereël het, waar Jonas omkoopgeld van R600 miljoen aangebied is.

Toe hy genader is met die vraag of die Gupta-broers ooit weer na Suid-Afrika sal terugkeer om getuies te kruisondervra, het adv. Mike Hellens SC, wat die Guptas verteenwoordig, gesê hy sal hom nie by 'n bespreking daaroor laat betrek nie.

"Ek het geen kommentaar nie. Ek kan nie kommentaar lewer oor hangende sake nie," het hy gesê.

Alex Mashilo, nasionale woordvoerder van die SAKP, het 'n beroep op die Valke gedoen om hul pogings te verskerp om 'n lasbrief uit te reik vir Ajay Gupta sodat hy na die land kan terugkeer.

"Hulle ontwyk inhegtenisname deur die Valke en vervolging deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG)," het Mashilo gesê.

Protas Madlala, 'n politieke ontleder, het gesê die kommissie kan vrugteloos wees as die Guptas nie na die land terugkeer om te antwoord op die bewerings teen hulle nie.

"Hulle (die Valke en NVG) behoort die uitleweringsooreenkomste tussen Suid-Afrika en die land waar die Guptas hulle bevind, te bekyk. Hulle is die sleutelspelers. As hulle nie kom nie, sal die kommissie nutteloos wees," het Madlala gesê.

Zuma het gisteraand volgens News24 gesê hy wil die uitnodiging om deel te neem eers deeglik oorweeg.

Sy prokureur het in 'n verklaring gesê soos wat Zuma se regspan aan die begin van die kommissie se sittings aangedui het, "steun hy die kommissie en wil hy betekenisvol aan die proses deelneem".

Luidens die verklaring sal Zuma vir Zondo laat weet wat hy besluit het sodra hy daaroor nagedink en sy regspan geraadpleeg het.

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

CTA