Die webwerf wat al die dokumente van die Zondo-kommissie huisves, is deur ’n kuberkraker aangeval en vervang met skakels na ’n Indonesiese dobbel-webwerf.
Intussen is dit nog onduidelik watter departement vir die webwerf en die sekerheidsmaatreëls verantwoordelik is.
MyBroadband het die “gekaapte” webwerf ontdek en die probleem by Xneelo, die webwerf se verskaffer, aangemeld.
Die oorspronklike webblaaie is vinnig daarna herstel.
Xneelo kon nie aan MyBroadband bekend maak wie vir die webwerf verantwoordelik was nie.
MyBroadband het gevra of die aanvallers ’n kwesbaarheid in die Zondo-kommissie se webwerf of Xneelo se bediener uitgebuit het.
“Die betrokke webwerf word as ’n selfbestuurde diens aangebied, wat beteken dat ons geen sigbaarheid het van wat op die bediener is nie,” het ’n Xneelo-woordvoerder gesê.
Tlali Tlali, woordvoerder van Sita, die regering se IT-onderneming, het Woensdag aan Netwerk24 gesê hulle is nie verantwoordelik vir die webwerf nie en dat hy nie kan uitwei oor wie daarvoor verantwoordelik is nie.
“Ons weet van ons kliënte wat op ons boeke is, maar ons is huiwerig om te praat oor derdeparty-ooreenkomste wat met ander staatsentiteite kan bestaan.”
Netwerk24 het na die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling, asook die departement van kommunikasie en digitale tegnologie, uitgereik vir kommentaar en om te probeer bepaal wie vir die webwerf verantwoordelik is.
Indien kommentaar ontvang word, sal dit bygewerk word.

Ander staatsentiteite aangeval
Indien die staatskaping-webwerf wel deur ’n staatsinstansie beheer word, is dit nie die eerste keer dat ’n staatsentiteit vanjaar ’n slagoffer van ’n kuberaanval is nie.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se dienste is in Januarie vanjaar tydelik onderbreek toe ’n uitvissing-e-pos tot ’n kuberaanval gelei het.
Dié aanval het meegebring dat die weerdiens nie sy teiken vir nie-staatsinkomste kon behaal nie. Van die data wat weens die aanval beskadig is, is steeds ontoeganklik.
LEES OOK | Donderwolke by Weerdiens nadat uitvissing tot kuberaanval lei
Die tesourie was in Julie ook een van die honderde slagoffers van die kuberaanval op Microsoft se SharePoint-stelsel. Die tesourie se bedrywighede is nie ontwrig nie.
LEES OOK | Tesourie ook ’n slagoffer van kuberaanval op Microsoft
Werknemers by die SAUK is in Augustus ook deur uitvissing-e-posse geteister. Werknemers wat op die skakel geklik het, se e-posrekeninge is gekompromitteer.





















