Iran ‘op rand van ineenstorting’

Pres. Donald Trump
Pres. Donald Trump (Foto: Getty Images)

Pres. Donald Trump sê Iran het hom meegedeel die land “is besig om ineen te stort”, terwyl pogings om die oorlog te beëindig Dinsdag ’n dooie punt bereik het.

In sy nuutste voorstel om die oorlog te beëindig vra Iran dat besprekings oor sy kernwapenprogram vir eers uitgestel word totdat die vyandighede gestaak en skeepsvaartprobleme in die Golf opgelos is. Trump dring egter daarop aan dat die kernwapenkwessie eerste bespreek word, sê ’n amptenaar.

In ’n plasing op Truth Social skryf Trump: “Iran het ons pas ingelig dat hy ineenstort. Hy wil hê ons moet die Straat van Hormoes so gou moontlik oopmaak, terwyl hy sy leierskapsituasie probeer uitpluis (wat ek glo hy sal kan doen).”

Intussen het leiers van die Golfstate in Saoedi-Arabië vergader vir ’n gesamentlike reaksie op Iran se missiel- en hommeltuigaanvalle sedert die VSA en Israel op 28 Februarie die oorlog begin het. Hoewel aanvalle sedert die skietstilstand op 8 April afgeneem het, bly betrekkinge gespanne.

Diplomatieke pogings om ’n oplossing vir die konflik te vind het misluk nadat Trump sy gesante se beplande besoek aan Pakistan gekanselleer het.

Abbas Aragtsji, Iran se minister van buitelandse sake, het intussen na Islamabad en Oman gereis, asook na, Rusland waar hy met pres. Wladimir Poetin vergader het.

Abbas Aragtsji, Iran se minister van buitelandse sake, en pres. Wladimir Poetin van Rusland.
Abbas Aragtsji, Iran se minister van buitelandse sake, en pres. Wladimir Poetin van Rusland. (Foto: Getty Images)

Oliepryse het weer gestyg, met Brent-ruolie 3% hoër. Die Wêreldbank waarsku energiepryse kan in 2026 met 24% styg as die ontwrigtings voortduur.

Minstens ses Iranse olietenkskepe is in die laaste paar dae deur Amerika se blokkade van die seestraat teruggedwing. Iran sê hy het hom reeds hierop voorberei en benut alternatiewe handelsroetes, onder meer via die Kaspiese See en lande soos Turkye en Turkmenistan.

Voor die oorlog het sowat 125 tot 140 skepe daagliks deur die Straat van Hormoes beweeg; nou is dit omtrent sewe, almal sonder olie vir die wêreldmark.

Trump se steun in Amerika taan, wat hom onder toenemende binnelandse druk plaas om die oorlog te beëindig. Instussen stel Iran gefaseerde onderhandelinge voor: eers ’n einde aan die konflik en waarborge daarteen, daarna skeepvaartkwessies, en eers later die kernprogram waaroor Amerika al geruime tyd ontevrede is.

CTA