Anika de Beer sterf

Anika de Beer, meteoroloog en weeraanbieder van kykNET se program ‘Ontbytsake’, is Sondag aan kanker dood.
Anika de Beer, meteoroloog en weeraanbieder van kykNET se program ‘Ontbytsake’, is Sondag aan kanker dood. (Foto: Facebook/Abri de Beer)

Die geliefde weeraanbieder van kykNET se program Ontbytsake, Anika de Beer (33) is Sondag oorlede.

Haar man, Abri, het die nuus in ’n plasing op Facebook gedeel.

“Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van ons geliefde, Anika de Beer, bekend maak. Ten spyte van verskeie gesondheidsterugslae in die afgelope vyf jaar, het sy haar aardse wedloop op 26 Oktober oorwinnend voltooi en is sy in die hemelse Vaderhuis opgeneem,” lui die inskrywing wat deur Pieter Vergeer, ’n familievriend, geskryf is.

“In haar beproewing was sy moedig en standvastig in haar geloof. Haar laaste paar dae en oomblikke was sy by die huis omring deur haar geliefdes en met haar dierbare honde aan haar sy.”

De Beer was ’n metereoloog en weeraanbieder by wie fase 3-melanoomkanker in 2021 gediagnoseer is.

Anika de Beer is Sondag aan kanker dood. Sy was 33 jaar oud.
Anika de Beer is Sondag aan kanker dood. Sy was 33 jaar oud. (Foto: Facebook/Anika de Beer)

Haar dood kom ’n week nadat Ontbytsake op Facebook gedeel het dat sy ’n terugslag in haar kankerstryd gehad het.

LEES OOK | ‘Ontbytsake’-aanbieder kry terugslag, kanker versprei

In Junie vanjaar is ’n gewas uit Anika se brein verwyder en daar is gesê dat sy besig is om goed te herstel.

Die familie het Sondag in die Facebook-plasing gesê Anika se dood is ’n swaar slag.

“Ons vra daarom sensitiwiteit en bedagsaamheid in die wete dat die familie nou tyd nodig het om hierdie groot verlies te verwerk.”

Anika se “innemende persoonlikheid en pragtige, vriendelike glimlag sal ons altyd bybly en in ons harte voortleef. Ons hou ook vas aan die vaste belofte van ons God dat daar, na ’n tyd van skeiding, ’n blye en ewige weersiens sal wees.”

Besonderhede vir Anika se begrafnis sal later bekend gemaak word.

– mlouw1@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA