Dié Franse oogarts kan oogkleur verander en pasiënte reis van heinde en ver vir sy diens

Dr. Francis Ferrari verduidelik hoe die tegniek werk wat hy gebruik om oogkleur te verander.
Dr. Francis Ferrari verduidelik hoe die tegniek werk wat hy gebruik om oogkleur te verander. (Foto: Verskaf)

Die vrou lê op die operasietafel, haar linker­oog deur ’n oftalmiese spekulum oopgehou, terwyl ’n dokter met ’n skalpel stadig ’n pistachiogroen, mineraal­gebaseerde pigment in haar kornea inwerk.

Sy wil haar bruin oogkleur na groen verander. Dr. Francis Ferrari, die Franse oogarts wat die kosmetiese prosedure – Femtosecond Laser-Assisted Annular Keratopigmentation, oftewel Flaak – net meer as ’n dekade gelede ontwikkel het, hou die operasie by die New Eyes Paris-­kliniek dop.

Hy rol sy stoel nader aan die monitor, waarop ’n uiters nabyskoot van die oog geprojekteer word. “Nie te veel in die linkeroog nie,” sê hy vir sy kollega, dr. Jean-François Faure, wat instemmend brom terwyl hy deur die chirurgiese mikro­skoop op sy werk fokus.

’n Paar uur tevore het Francis die pasiënt geraadpleeg en ’n plastiekoogbal omhoog gehou. “Die kleur van die oog word deur die iris bepaal, en ons gaan nie die kleur van die iris verander nie,” het hy gesê. “Ons gaan die kleur van die iris wegsteek deur die kornea in te kleur. Met ’n laser gaan ons ’n sirkelvormige tonnel in die kornea maak waardeur ons die pigment kan inspuit. Verstaan jy?”

“Oui, docteur,” het Aysegül Kolvert (35) gesê. Sy het die vorige dag van Grenoble in Suidoos-Frankryk na Parys gereis. Haar tweelingbroer, Karl, het saamgekom om haar te ondersteun.

Sy’t nog altyd daarvan gedroom om groen oë te hê. En, sê sy, “ek was moeg daarvoor om kontaklense te dra”.

Sy kollega, dr. Jean-François Faure, voer die operasie uit.
Sy kollega, dr. Jean-François Faure, voer die operasie uit. (Foto: Verskaf)

Aysegül is een van meer as 2 500 mense wat na New Eyes Paris gekom het om die operasie te ondergaan. Baie van Francis se pasiënte hoor op sosiale media van keratopigmentasie en stuur dikwels direk vir hom ’n boodskap op Instagram om ’n afspraak oor Zoom te bespreek.

Die meeste wil van donker na ligter skakerings oorgaan en kan uit ’n reeks pigmente kies, waaronder olyfgroen, pistachio, “Riviera-blou”, “heuninggoud” en “oseaan”.

Die prosedure word elke Woensdag uitgevoer in ’n kliniek wat voorheen ’n fabriek vir gebrandskilderde glas was. Dit pas nogal goed by ’n plek waar twee dokters wat hulleself in ’n sekere sin as kunstenaars beskou, die spreekwoordelike vensters van die siel inkleur. Binne ’n paar uur stap pasiënte daar uit met die oë waarvan hulle droom. Volgens Francis duur herstel net een dag.

Voor die prosedure het Francis en ­Aysegül die nabootsing op ’n skootrekenaar bestudeer om te sien hoe die pistachiogroen in haar oë sou lyk.

“Is jy seker dit gaan groen genoeg lyk?” het sy gevra.

Francis het haar verseker dit sal.

Daar’s drie vlakke van kleursterkte: swak, medium en sterk.

“Swak lyk baie natuurlik, maar dis nie baie sigbaar nie,” sê Francis. “Baie van ons pasiënte wat mediumsterkte wil hê, kies daarom sterk omdat hulle weet die kleur sal vervaag. Dit lyk aanvanklik onnatuurlik.”

Omdat die kornea ná die prosedure nie heeltemal genees nie, sê Francis, kan ’n pasiënt wat nie met die resultate van die keratopigmentasie tevrede is nie, sowat 80% van die pigment laat verwyder. Dit word egter nie aanbeveel nie.

Die prosedure is hoogs omstrede in die wêreldwye oogheelkundige gemeenskap omdat die manipulering van die kornea ’n magdom moontlike komplikasies kan veroorsaak.

Kosmetiese keratopigmentasie is nie deur die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) goedgekeur nie. Die American Academy of Ophthalmology (AAO) het ook al twee keer teen die prosedure gewaarsku en gevare soos littekens op die kornea, infeksies en ernstige sigprobleme, selfs blindheid, uitgelig.

“Ek dink daar’s baie vrees onder oogartse, veral omdat daar nie regtig lang­ter­myngegewens oor die prosedure self en die pigmente wat gebruik word, is nie,” sê dr. Amita Vadada, ’n oogarts en kliniese woordvoerder van die AAO. “Die oog is uit ’n immunologiese oogpunt ’n baie sensitiewe orgaan.”

Amita is veral bekommerd oor vreemde pigmente wat in die lae van die kornea ingespuit word omdat dit inflammasie kan veroorsaak.

“Anders as ander dele van die liggaam kan selfs geringe inflammasie van die oog tot permanente littekens, ligsensi­tiwiteit en pyn lei,” sê sy. Met kerato­pigmentasie “verander jy moontlik die funksie van die oog”.

Tog hou Francis vol Flaak is nie gevaarliker as Lasik nie – die laserprosedure wat bysiendheid, versiendheid en astigmatisme regstel deur die kornea te hervorm – en hou minder risiko’s in as kontaklense, wat tot infeksies en korneale ulkusse kan lei.

Hy sê die proses is veiliger as sowel laserdepigmentasie as chirurgie waarin ’n kunsmatige iris ingeplant word. Laasgenoemde is ’n alternatiewe tegniek om oogkleur te verander wat onder die handelsnaam BrightOcular bekendstaan. Dis ’n omstrede prosedure waarin gekleurde silikoon in die oog geplaas word en wat met ernstige oogkomplikasies verbind word.

Francis beskou sy prosedure, Flaak, as ’n manier waarop pasiënte die mens kan wees wat hulle nog altyd wou wees.

“Daar’s werklike lyding,” sê hy. “Natuurlik sal dit beter wees om ’n mens se natuurlike oogkleur te aanvaar, maar daar’s pasiënte wat dit nie kan regkry nie.”

Francis (67) is lank en saggeaard, met – nogal gepas – blink, groenblou oë wat skaars knip, veral wanneer hy in gesprek is. Hy is in Luxemburg grootgemaak. Sy pa het as tolk vir die Europese parlement gewerk, en sy ma het die huis behartig.

Hy is in oogheelkunde aan die Eberhard Karls-universiteit van Tübingen in Duitsland opgelei. Hy’t die eerste mens in sy familie geword wat medies studeer het en sal moontlik die laaste wees, want al vier sy seuns het loopbane in sake of teater gekies.

Hy’s trots daarop dat hy sy konsultasies in Engels, Duits en Italiaans, benewens Frans, kan doen. Hy werk sedert 2019 saam met dr. Jean-François Faure (70), wat ook groenblou oë het. Dit was die jaar waarin Francis sy keratopigmentasiepraktyk in Parys geopen het.

Hy het na ’n bestaande kliniek gesoek wat mooi en prakties is en al die nodige toerusting gehad het. Daarom het hy Jean-François genader, wat reeds ’n kliniek bestuur het wat gewone oogheelkundige dienste, soos oogtoetse, katarak­chirurgie en sekere laseroperasies, aangebied het.

Francis werk net op Woensdae. Andersins is hy by die huis in Straatsburg saam met sy vrou, wat bruin oë het.

Hy doen die konsultasies en hou toesig oor die Flaak-prosedure in die operasie­saal. Hy het die operasie vir twee jaar nie self uitgevoer nie en ­weier om te sê waarom. Jean-François, ’n ervare chirurg wat ewe vaardig met albei hande is, doen nou die prosedure.

Die twee vorm ’n interessante span. Francis is die oë. Jean-François is die hande.

Voor die operasie verduidelik Francis die prosedure aan ’n pasiënt met behulp van ’n plastiekoogbal. Daarna kyk dokter en pasiënt saam na die verskillende kleurkeuses deur middel van ’n simulasie op ’n skootrekenaar.

Die idee vir keratopigmentasie het 15 jaar gelede by Francis opgekom toe hy ’n aanlyn gesprek tussen Franse oogartse gelees het oor die beste manier om oë in te kleur.

Voor- en ná-foto's van drie van Francis ­­se pasiënte. Die Franse oogarts se baanbrekerstegniek is sedert 2013 al sowat 2 500 keer in sy praktyk in Parys uitgevoer.
Voor- en ná-foto's van drie van Francis ­­se pasiënte. Die Franse oogarts se baanbrekerstegniek is sedert 2013 al sowat 2 500 keer in sy praktyk in Parys uitgevoer. (Foto: Verskaf)

Keratopigmentasie is oorspronklik ontwikkel om toestande soos aniridie te behandel. In dié toestand ontbreek ’n deel van of die hele iris in ’n oog, wat dit ligsensitief maak.

“Ek het gedink dit sal goed wees om ’n tegniek te ontwikkel waarmee jy jou oogkleur op ’n veilige manier kan verander. Toe het ek gedink,” sê Francis terwyl hy sy eie oë wyd oopmaak asof hy die herinnering herleef, “die kornea.”

Dit was in Desember 2011.

Hy het daarna op konyne begin eksperimenteer.

“As jy dit in jou artikel skryf, gaan al die diereliefhebbers my opjaag,” sê Francis. Hy gryp na sy foon en wys ’n reeks foto’s van ’n wit konyn met rooi oë. Die rooi oë is suksesvol met die Flaak-metode na blou verander.

Francis het later die oogballe verwyder om dit oop te sny en onder ’n mikro­skoop te bestudeer. Hy het die tegniek ook op ander konyne getoets.

“Ek het hulle my seuns se name gegee,” sê hy.

Francis het die prosedure in Desember 2013 vir die eerste keer op ’n mens uitgevoer. Dit was die eerste keer ter wêreld.

Hy wou vinnig werk omdat hy bang was iemand sou hom voorspring. En sy vermoede was nie verkeerd nie. ’n Ander oogarts, dr. Jorge Alió, wat in Alicante, Spanje, werk, het terselfdertyd ook daaraan gedink.

“Ek het keratopigmentasie vir terapeutiese doeleindes nagevors,” sê Jorge. Hy het na maniere gesoek om oogtrauma te behandel.

“Ek het geen ander oplossing as ’n prostese of kontaklens gehad nie. Kon­taklense kan dikwels nie in dié deel van die oog gebruik word nie omdat hulle onstabiel raak.”

Alió se kliniek het ’n toekenning van die Spaanse regering ontvang om pigmente te ontwikkel.

“Ons het die hele nuwe tegniek ontwikkel,” sê hy. “Dit was baie eksperimenteel.”

En, soos dit geblyk het, ook baie inspirerend. Dit het hom op die idee gebring dat die operasie vir kosmetiese doeleindes gebruik kan word.

Nadat hulle van mekaar gehoor het, het Francis en Jorge mekaar by ’n konferensie in Londen ontmoet. Die ontmoeting was hartlik. Jorge wys graag daarop dat hy meer akademiese artikels geskryf het en die tegniek vir sowel terapeutiese as kosmetiese gebruik ontwikkel het. Tog het die twee dokters ingestem om as “mede-uitvinders” erken te word.

Die operasie is nie vir sensitiewe siele nie. Nadat die oë verdoof is, word die femtosekondelaser op elke oog gerig om ’n sirkelvormige tonnel in die kornea te sny.

Jean-François gebruik dan ’n gewone chirurgiese haak om die insnyding te verbreed. Daarna skuif hy die hele boog van die “Francis-skalpel” versigtig in elke kornea, wat ’n sagte, deursigtige tekstuur het. Met ’n reeks besliste hale stoot hy die pigment daarin. Die kleurstof dwarrel stadig in, soos ’n druppel ink in water.

Die eienaardige ding vir die waarnemer is dat die oog, hoe langer jy daarna kyk, al hoe minder soos ’n oog lyk. Dit kan ’n abstrakte skildery of ’n planeet wees wat deur ’n teleskoop besigtig word. Die eindresultaat lyk soos ’n sonsverduistering. Jy kan die ring van Riviera-­blou of pistachio sien en daaronder die skim van die ou iris.

Die dokters werk daaraan om hulle huidige tegniek te verbeter sodat hulle sproetjies, radiale groefies en kleurva­riasie kan byvoeg om oë natuurliker te laat lyk.

Subtiliteit of realisme is egter nie altyd die doel nie. Dikwels is die “kunsmatigheid” juis die aantrekkingskrag.

Die oogdokter se werk is om die pa­siënt tevrede te stel.

“Daar’s baie gesprekke nodig, baie dialoog met die pasiënt,” sê Jean-François.

“Mense wil altyd meer hê,” voeg Francis by. “Jy weet, daar’s ’n gesegde: Meer is die vyand van goed.”

Die operasie by Francis se kliniek kos R133 000. Pasiënte moet ’n deposito van R28 500 betaal. Francis sê dis terugbetaalbaar “as ek tydens die konsultasie iets in hulle oog opmerk wat beteken die prosedure kan nie gedoen word nie”.

Elke pasiënt het die oggend voor die prosedure ’n konsultasie van 20 minute. Dis dikwels die eerste en enigste keer dat hulle mekaar persoonlik sien. Met behulp van ’n mikroskoop en ’n spekulum bestudeer Francis die kornea en die ­strukture daaragter met optiese koherensietomografie (OCT). Hy neem ook ’n beeld van die netvlies om seker te maak die oë is gesond genoeg vir die behandeling. Daarna finaliseer Francis en die pasiënt die oogkleur deur tussen verskillende simulasies op ’n skootrekenaar te wissel.

Een van Francis se voormalige pasiënte, Viviane Pouget (69), het nooit daaraan gedink om haar bruin oogkleur te verander nie. Toe kyk sy ses jaar gelede op ’n Vrydag ’n TV-insetsel oor die pro­sedure. Die daaropvolgende Maandag het sy Francis se kliniek gebel.

“Ek het gedink: Hoekom nie?”

Die volgende week het sy Francis gesien. “Natuurlik was ek senuweeagtig,” erken Viviane. “Wat sou gebeur? Waarvoor teken ek in?”

Sy was stomgeslaan deur die verandering na Riviera-blou. “Hulle was helderder as wat ek kon hoop. Ek het in die spieël na myself gekyk en gesê: Ek is lief vir myself, ek waardeer myself.”

Viviane sê haar lewe het onmiddellik verander. “Nadat ek die kliniek verlaat het, het ek die trein terug na Parys geneem en iemand het my met my tas gehelp. In my hele lewe het niemand nog ooit my tas vir my gedra nie,” sê sy. “Ek dink wanneer mense blou oë sien, dink hulle aan die see. Wanneer ons donker oë sien, sien ons meer gesag.”

Daar’s nou ’n groeiende netwerk van dokters wêreldwyd wat keratopigmentasie doen, onder andere dr. Alexander Movshovich in New York en Miami en dr. Brian Boxer Wachler in Los Angeles. Albei is deur Francis opgelei.

In Parys alleen is daar ses klinieke wat meeding en die prosedure aanbied. Daarom bied New Eyes Paris Flaak net op Woensdae aan. Met al die mededinging sou dit moeilik wees om die kliniek elke dag vol te bespreek.

Francis glo nabootsers is onvermydelik en erken dat daar tog iets vleiends aan hulle is.

“Daar’s geld om te maak,” sê hy. “Dis nuut. Dit bring afwisseling in die gewone roetine.”

Maar daar’s min wat Francis kan doen oor die gebruik van sy proses sonder dat erkenning aan hom gegee word. Al kan tegnologie in die geneeskunde soms gepatenteer word, is dit byna onmoontlik om ’n prosedure te patenteer. Selfs die skalpel wat hy ontwerp en gepatenteer het, is volgens hom elders nageboots.

Hy bied ’n daglange kursus by die kliniek aan om oogartse op te lei, wat hom nog ’n inkomste uit keratopigmentasie gee. Onlangs het ’n dokter uit Indië gereis om by Francis te leer.

Hy het ook ’n mate van erkenning gekry. Op die lessenaar wat hy met Jean-François deel, staan ’n agtkantige glas­trofee wat Jorge aan hom oorhandig het. Dit erken Francis as “beste spreker” by die tweede jaarlikse KOLOR Congress in Dubai in 2025 – ’n konferensie vir oogartse wat reeds keratopigmentasie doen en ander wat dit wil begin doen.

Die 2026-KOLOR Congress, ’n tweedaagse byeenkoms wat in Mei by die ­Radisson Blu-hotel in Nice gehou is, het 300 oogartse van reg oor die wêreld gelok. Hulle het regstreekse demonstrasies van die nuutste tegnieke gesien en kleurmonsters vir nuwe pigmentskakerings bestudeer.

Op die dag van die operasie wag vier pasiënte om die prosedure te ondergaan. Aysegül is eerste. Sy was opgewonde voor die operasie, maar soos met baie mense wat die operasiesaal binnestap en die twee dokters met maskers tot by hulle oë sien, het haar hande begin bewe. ’n Junior optometris wat met die operasie help, gee haar ’n paar stresballetjies om vas te druk.

Sommige pasiënte trek kleinkoppie en kanselleer op die nippertjie. Dit verbaas Francis nie noodwendig nie.

Jean-François praat deur die hele operasie met die pasiënt en verduidelik wat hy doen. Hy vra haar gereeld om “af na jou voete te kyk” of om haar blik op die plafon te hou terwyl hy die hele omtrek van die kornea behandel.

Ná 45 minute sit Jean-François sy skalpel neer. “C’est fini,” sê hy. Dis verby.

Die chirurgiese doek word saggies van Aysegül se gesig gelig en die spekulum word losgemaak.

“Is alles oukei, Dokter?” vra sy terwyl sy versigtig regop sit. ’n Kunsmatige traan gly teen haar wang af. “Is hulle groen?”

“Hulle’s groen, hulle’s groen, hulle’s groen!” roep Francis vrolik uit terwyl hy nader kom om sy kollega se werk en die vrug van sy uitvindsel te bewonder.

“Ek wil regtig net hê hulle moet groen wees,” sê Aysegül.

“Nie meer nie,” waarsku Francis vir Jean-François.

Daar’s ’n kort stilte terwyl Aysegül haar oë in die handspieël met New Eyes Paris se logo bestudeer.

“C’est magnifique,” sê sy. Dis wonderlik.

Dan wag sy, kyk na die dokters en dan weer na haarself. Versigtig sê sy: “Maar Dokter, hulle’s nie groen genoeg nie.”

“Ek kan jou belowe, hulle’s groen,” sê Francis.

Toe Aysegül haar nuwe oë vir die eerste keer sien, loop sy oor van vreugde en ongeloof. Nadat die dokters seker gemaak het alles is in orde, bedank sy hulle en stap opgewonde uit die operasiesaal.

Sy loop verby die voorkamer waar die volgende pasiënt vir die operasie voorberei word en gaan na haar broer, wat vir haar wag.

“Dis jy,” sê haar tweelingbroer terwyl hy van sy stoel af opstaan.

Hy omhels haar en gee dan ’n paar treë terug om haar behoorlik te bekyk.

“Dis steeds jou oë.”

Saskia Solomon / ©2026 The New York Times Company

1630

SPELETJIES VANDAG

CTA