Drie generasies Bultfonteiners het oor 'n tydperk van 60 jaar in dieselfde klaskamer aan die Hoërskool Bultfontein hul skoolloopbaan begin.
Lumae Strauss (6) gaan vanjaar leer lees en skryf in dieselfde klaskamer waar haar ouma, oupa, pa en twee ooms destyds vir die eerste keer 'n klaskamer betree het.
"Lumae sit boonop ongeveer op dieselfde plek in die klaskamer waar haar ouma, oupa, pa en ooms gesit het omdat die kinders se sitplekke steeds volgens vanne ingedeel is," vertel Lumae se ma, Lizaan Strauss. Pa Ferico was ook by toe sy vir die eerste dag skool toe is.
Boonop was Lumae se ouma en oupa Belmi en Erik Strauss, sowel as haar ouma- en oupagrootjie Jeanette en Tom Strauss, onderwysers by dié gekombineerde skool wat onderrig van gr. 1 tot matriek bied.
Belmi en Erik het in 1989 by die Hoërskool Bultfontein begin skoolhou, nadat Jeanette en Tom reeds in die 1950's daar skoolgegee het.
Dié vier het ook vyf jaar lank saam by die skool gewerk.
"Dit is baie besonders dat my kleinkind nou in dieselfde gr. 1-klas is waar ek ook destyds was," vertel Belmi. "Dit is veral spesiaal omdat die uitleg van die klas nog baie dieselfde lyk!"
Sy het voor haar tweede dag van skool ook baie opgewonde opgestaan en het nog nie eens 'n traan gepink nie.
Lizaan vertel dat Lumae se gesiggie opgehelder het toe sy uitvind dat haar ouma, oupa en pa óók in daardie klas was.
Lumae gaan boonop gr. 1 by dieselfde juffrou as haar pa voltooi. Lumae se ooms Janco Strauss en Erik Strauss jr. was ook by dieselfde gr. 1-onderwyseres.
Lizaan vertel dat Lumae reeds absoluut mal is oor haar onderwyseres, juffrou Tania Venter.
"Lumae het haar eerste dag verskriklik geniet en ek dink dit het haar baie gehelp om te weet haar pappa was in dieselfde klas. Dit is net asof sy dadelik tuis gevoel het," sê Lizaan.
"Sy het voor haar tweede dag van skool ook baie opgewonde opgestaan en het nog nie eens 'n traan gepink nie," sê sy.
'n Foto is ook op die eerste dag van skool van Lumae saam met haar ouma, oupa, pa en juffrou voor die klaskamer by die Hoërskool Bultfontein geneem en op hul sosialemediaprofiele gedeel.
Oudleerlinge onthou Tom en Belmi Strauss as geliefde onderwysers.
"Tom Strauss het vir ons hele huisgesin klas gegee. Albei my ouers en drie sussies was in sy klas. Ek was nog in die laerskool toe Erik en Belmi in die hoërskool was en hulle het toe ook later vir my klas gegee," skryf Hester Thiart in reaksie op die skool wat die foto op sy Facebook-blad geplaas het.
"Baie geluk aan die Strauss-familie. Doen so voort met die mooi tradisie. Tom Strauss was ons geliefde Afrikaansonderwyser in 1978. Hy het sowaar diep spore getrap," skryf Louis Janse van Rensburg.



















