Mense

‘Haak, Vrystaat’: Bloemfonteiners groet hul helde voor CB-halfeind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Thunder Kleinhans, ’n trotse Cheetah-ondersteuner, swaai sy vlag en juig die Cheetahs toe voor hul vertrek na Kimberley vir die Curriebeker-halfeindstryd teen Griekwas.
Thunder Kleinhans, ’n trotse Cheetah-ondersteuner, swaai sy vlag en juig die Cheetahs toe voor hul vertrek na Kimberley vir die Curriebeker-halfeindstryd teen Griekwas. (Foto: Mlungisi Louw)

Dit was Vrydag ’n fees van vlae, toeters en groot glimlagte by die Vrystaat-stadion toe Cheetah-ondersteuners hul span toewuif op pad Kimberley toe vir die Curriebeker-halfeindstryd teen Griekwas.

Ondersteuners het vroeg opgedaag om hul helde te sien en sterkte toe te wens voor die uitklopwedstryd. Jonk en oud het hul beste oranje uitrustings uitgehaal en die stadion het soos ’n see van span-ondersteuning gelyk.

Vir die 11-jarige Christiaan Pienaar, ’n leerling aan Grey Kollege, was dit ’n dag om te onthou.

“Dit was spesiaal om my helde te sien en sterkte toe te wens. Ek hoop Jandré Nel kan weer baie drieë druk. Ek dink ons gaan wen!”

Spelers het ook by die geleentheid die kans kry om met ondersteuners te gesels en hul truie te teken.
Spelers het ook by die geleentheid die kans kry om met ondersteuners te gesels en hul truie te teken. (Foto: Mlungisi Louw)

Sy ma, Ronel Pienaar, wat ook die woordvoerder van die Vrystaat-Cheetahs is, sê dié byeenkoms is ’n eerste vir die unie.

“Die span speel môreaand laat in Kimberley en ons weet baie ondersteuners sou graag daar wou wees. Ons het gedink om iets te doen sodat hulle hul gunsteling-spelers kan sien, totsiens sê en sterkte toewens,” sê sy.

Braam Eckard, wat die Cheetahs al sedert 2000 ondersteun, sê hy is vol hoop.

“Dié span het karakter. Ek dink Prince Nkabinde gaan groot punte aanteken,” sê hy met ’n breë glimlag terwyl hy sy Cheetah-pet regskuif.

Madelein Marais en die Cheetah-speler Vuyo Sisonke voor die span se vertrek na Kimberley.
Madelein Marais en die Cheetah-speler Vuyo Sisonke voor die span se vertrek na Kimberley. (Foto: Mlungisi Louw)

Tussen die opwinding deur het die Cheetahs ook hulde gebring aan Bevin Fortuin, wat vroeër die week oorlede is. Fortuin het tussen 2005 en 2009 in 79 wedstryde vir die Cheetahs uitgedraf. Hy was deel van die Curriebeker-wenspan van 2005 en die een wat die beker in 2006 met die Blou Bulle gedeel het.

Hie’ kommie Cheetahs! Talle vlae van getroue Cheetah-ondersteuners wapper Vrydag by die Vrystaat-stadion.
Hie’ kommie Cheetahs! Talle vlae van getroue Cheetah-ondersteuners wapper Vrydag by die Vrystaat-stadion. (Foto: Mlungisi Louw)

Die unie het sy innige meegevoel met Fortuin se familie en vriende betuig en hom geloof vir die vreugde wat hy altyd na die veld en kleedkamer gebring het.

Die Cheetah-span voor hul vertrek na Kimberley
Die Cheetah-span voor hul vertrek na Kimberley (Foto: Mlungisi Louw)

Met soveel positiewe energie en goeie wense in hul sak, is die Cheetahs op pad na Kimberley met die wete dat Bloemfontein agter hulle staan en hoop dat hulle môreaand ’n plek in die Curriebeker-eindstryd sal verseker.

– robyn.schutte@netwerk24.com

Die voormalige Cheetah-speler Bevin Fortuin is vroeër vandeesweek oorlede.
Die voormalige Cheetah-speler Bevin Fortuin is vroeër vandeesweek oorlede. (Foto: Facebook/Cheetahs Rugby)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM