Mense

Kaapse sjef (35) sterf op private eiland van sir Richard Branson

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
(Netwerk24)

’n Polisieondersoek is van stapel gestuur nadat ’n Kaapse pa van vier op die eiland Necker van sir Richard Branson in die Britse Maagde-eilande dood is.

Sihle Somdaka (35) se familie is in rou gedompel nadat hy Saterdagnag op dié private eiland verongeluk het.

Somdaka was ’n sjef en sy loopbaan het hom geneem van sy studentedae aan die College of Cape Town se Pinelands-kampus tot in die kombuise van die beste restaurante in Kaapstad, die Paarl en Doha.

Somdaka, oorspronklik van Willowvale in die Oos-Kaap, het daarna ’n gesogte pos by Branson se Karibiese oord losgeslaan. Dit was sy eerste keer op die eiland, het sy suster, Nosiphelo Somdaka (28), Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Luidens die familie se verklaring het hy in 2008 van Kaapstad na Willowvale verhuis. Hy het as ’n skoonmaker in ’n kombuis in ’n hotel gewerk en homself opgewerk om ’n bekwame sjef te word, gedryf deur passie en selfmotivering.

Die Royal Virgin Islands Police Force sê in ’n verklaring nog ’n persoon is in die ongeluk beseer waarin Somdaka dood is.

Die Somdaka-gesin sê in ’n verklaring hulle is geskok en hartseer oor die skielike heengaan van hul broer.

“Sihle se skielike heengaan het ons diep geskok, maar ons vertrou op God se genade om ons deur hierdie pynlike tyd te dra.”

Die Britse koerant die Daily Mail berig Somdaka het die betrokke aand ’n partytjie in die hoofhuis op die eiland bygewoon wat ook as Branson en sy vrou se tuiste dien. Kort voor middernag is hy glo met ’n e-voertuig, soos ’n gholfkarretjie, huis toe, maar hy het teen ’n steil pad beheer daaroor verloor en verongeluk.

Na berig word, is die nooddienste dadelik ontbied en volgens die polisie is een man na die Dr. D. Orlando Smith-hospitaal geneem waar hy later dood is.

Nosiphelo, wat in George woon, sê die nuus is vir die familie ’n groot skok en Somdaka laat ’n groot leemte. Sy het haar broer beskryf as die een wat die gesin bymekaargehou het.

“As kind was Sihle ’n raakvatter en het na ons as kinders omgesien. As jong seun was hy die een wat agter die potte was en al die take in die huis gedoen het toe ons in Willowvale gewoon het. En hy het die beste kos gekook,” sê Nosiphelo, met hartseer hoorbaar in haar stem.

“Dís waar hy die inspirasie gekry het om ’n sjef te word.”

Nosiphelo onthou hom as ’n man van vele talente wat eens ’n argitek wou word, maar sy roeping in die kombuis gevind het.

Sihle Somdaka was ’n sjef van Kaapstad. Hy het in die Oos-Kaap grootgeword.
Sihle Somdaka was ’n sjef van Kaapstad. Hy het in die Oos-Kaap grootgeword. (Foto: Facebook/Sihle Somdaka)

“Sihle was alles vir ons familie. Hy is die een wat ons familienaam op die wêreldkaart geplaas het. Hy het die wêreld vol gereis en sy lewe ten volle geniet. Ons is so trots op hom, veral my ma.”

Somdaka word luidens die familie se verklaring deur sy vrou, Linomtha Kelina Biko-Somdaka, en hul vierjarige dogter, Pumelela Lolwethu Somdaka, asook nog drie kinders, Anezwa Manyela (16), Lutho Isange Gcasamba (13) en Sesona Madolo (15), oorleef.

Sy ouers, Nosizile Primrose Somdaka en Mziwonke Welcome Somdaka, en sy sibbe, Lindela, Bonke, Sivile, Lindeka, Ziyanda, Nosiphelo en Zosuliwe, onthou hom met liefde.

“Sy dood is steeds onwerklik en almal sukkel om daarmee vrede te maak. Dit is ’n vinnige en skielike verlies. Sihle was ’n rots vir ons familie,” sê Nosiphelo.

Sy het Donderdag die laaste keer met Somdaka gepraat.

“Ek kon hoor dat hy gelukkig was. Hy het ’n glimlag in sy stem gehad. Hy het nog vir my gesê hy geniet sy tyd op die eiland terdeë,” sê sy.

Sihle Somdaka saam met die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee.
Sihle Somdaka saam met die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee. (Foto: Instagram/chef_sihle_90)

’n Woordvoerder van Virgin Limited Edition het by navraag in ’n verklaring die nuus oor Somdaka se dood bevestig en sy medelye met sy naasbestaandes betuig.

“Hy was ’n uiters talentvolle en uitsonderlike lid van die Necker-eiland-familie, en ons is almal verpletter deur hierdie nuus.

“Ons grootste prioriteit is die welstand van sy familie en vriende, asook dié van ons span, en ons doen alles in ons vermoë om hulle tydens hierdie baie moeilike tyd te ondersteun.”

Sihle Somdaka het in Junie dié foto op Instagram geplaas met die onderskrif: “Caribbean Life”
Sihle Somdaka het in Junie dié foto op Instagram geplaas met die onderskrif: “Caribbean Life” (Foto: Instagram_chef_sihle_90)

Die polisie sê beamptes en ander agentskappe gaan voort met hul ondersoeke om die omstandighede van die ongeluk vas te stel.

Volgens Nosiphelo is die familie in kontak met die owerhede, onder wie Somdaka se bestuurder op die eiland, om sy oorskot huis toe te bring. Dit is egter in hierdie stadium onduidelik wanneer dit sal wees.

– kyran.blaauw@media24.com

5506

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM