Wat doen 'n man wat reeds Kilimandjaro én Everest oorwin het? Hy spits sy aandag toe op die ruimte.
Toe Pieré le Roux (77), 'n afgetrede sakeman van Gqeberha, sy vrou, Maryna, vertel het dat hy 'n kaartjie wil bekom om die ruimte te gaan verken, het sy gedink hy is "koekoes".

"Maar sy weet my liefde vir vlieg, my liefde vir entrepreneurskap, my liefde vir nuwe dinge om te ontdek, is daar," sê hy.
"My vrou het gesê: ‘Hoor hierso, Boet, as jy opgaan hemel toe, dan kos dit jou geld. Jy moet betaal daarvoor. As ek die dag doodgaan, dan gaan ek verniet tot in die hemel," skerts hy.
Le Roux het reeds in 2016 sy kaartjie gekoop om op die Britse sakemagnaat Richard Branson se vaartuig van die Virgin Galactic-maatskappy die ruimte te gaan verken.
Hy sal volgende jaar, op 'n datum wat nog bepaal moet word, dié tog meemaak.
Hy moes sy eiendomsportefeulje verkoop om die peperduur kaartjie van R5 miljoen te bekostig.
Le Roux sê hy droom al daarvan om na die buitenste ruimte te gaan sedert hy as 11-jarige in 1957 die eerste keer saam met sy pa die Sputnik-satelliet oor Suid-Afrika in die nagruim gesien het. "Toe sê ek vir hom ek wil eendag soontoe gaan. Ek wil graag hemel toe gaan en gaan kyk wat daar aangaan," sê hy.
Sy kinders was effens bekommerd oor die avontuur, maar ondersteun hom nietemin.
"Ek was by die kardioloog en hy't my 100% gegee. En dis toetse soos jou bloeddruk, jou hart en die soort van goed om te sien of jy die nodige stres -4 000km per uur - sal kan weerstaan. Jy moet fiks en goed van verstand wees."
Hy glo juis daarin om aktief en besig te bly.
"Ek soek al die jare avonture. Ek en my vrou het Kilimandjaro geklim vir ons wittebrood in 1994. En toe het ek 'n paar jaar later Everest geklim. Toe ek terugkom, het ek iets gesoek, nou ry ek fiets minstens twee keer 'n week, en ek ry sowat 100 tot 200 km elke week. En ek neem deel aan baie kompetisies oor die land."
Virgin Galactic is by 'n spesiale "lughawe" in New Mexico, Amerika, gebaseer. Dit het reeds 800 kaartjies verkoop vir vlugte wat 80 km bo die aarde gaan draai.
















