Atlete op vanjaar se Olimpiese Spele het nie net hul oog op 'n medalje nie, groot prysgeld is ook op die spel vir medaljewenners.
Die geldpryse word gewoonlik deur lande se regerings of borge gebruik om atlete nog verder aan te spoor.
As dié maatstaf gebruik word, sal atlete van Hongkong wat 'n goue medalje wen, die mees gemotiveerde atlete ter wêreld wees. Hulle kan 'n allemintige wentjek van sowat R14,3 miljoen verwag sou hulle heel bo op die podium op vanjaar se Spele in Parys staan.

Daarenteen kan 'n Suid-Afrikaner, soos die swemmer Tatjana Smith, R400 000 verwag vir 'n goue medalje, terwyl die Aussies slegs sowat R240 000 sal ontvang. Maar selfs die atlete van Doer Onder sal 'n beter bonus kry as dié van Brittanje en Nieu-Seeland. Hulle kry nie 'n sent sou hulle op die wêreldverhoog presteer nie.
Smith sal met haar uittrede uiteindelik R600 000 ryker wees ná die Spele. Dit is die bedrag wat sy sal kry vir haar goud en silwer in onderskeidelik die 100 m-borsslag en 200 m-borsslag.
Vir 'n silwermedalje kry 'n Suid-Afrikaanse atleet R200 000, terwyl iemand soos Alan Hatherly, wat brons in bergfietsry gewen het, R75 000 sal kry.

Die Blitsbokke is egter nie so gelukkig nie, maar elkeen van hulle sal nietemin met R50 000 wegstap. Hul prysgeld is minder omdat hulle as 'n span deelneem. Sou hulle die eindstryd gehaal het, sou hulle moontlik R75 000 of R100 000 elk gekry het.
Die afrigters word ook vergoed vir hul atlete se prestasies op die sportveld (of in die swembad). Só sal Rocco Meiring, Smith se afrigter, R100 000 en R50 000 kry vir sy swemmer se twee medaljes. Philip Snyman, breier van die Blitsbokke, sal ook met R50 000 beloon word vir sy werk.
Naas Hongkong is Singapoer die land wat die meeste geld aan sy atlete gee. Sou 'n Singapoerse atleet goud wen, kan hulle 'n meevallertjie van R13,8 miljoen verwag. Vir silwer- en bronsmedaljes sal hulle met onderskeidelik R6,9 miljoen en R3,4 miljoen vergoed word.
Wat betref die Olimpiese reuse, China en Amerika, is dit nie duidelik met hoeveel die Chinese atlete beloon word nie, omdat die regering geen bedrae amptelik bekend gemaak het voor die Spele nie. Daar word egter bespiegel dat die atlete wel bonusse kry, maar niemand weet hoeveel dit is of hoe dit tussen atlete verskil nie.

Amerika sal sowat R710 000 per goue medalje opdok, R430 000 vir silwer en R280 000 vir brons. Teen druktyd het die Amerikaners reeds 19 goue, 29 silwer- en 27 bronsmedaljes verower.
Die gasheerland, Frankryk, het glo sy prysgeld met sowat R300 000 per medalje verhoog sedert die vorige Spele in Tokio, Japan. Sy atlete sal R1,6 miljoen vir goud, R900 000 vir silwer en R410 000 vir brons verdien.
Volgens CNBC sal sommige medaljewenners oor die wêreld heen egter nie net prysgeld ontvang nie. "Kazakstan se regering beloof nie net prysgeld nie, maar ook woonstelle vir sy atlete wat onder die topdrie eindig. Medaljewenners van Suid-Korea ontvang ook 'n pensioen."
Bykomende bron:CNBC



















