Erge donderstorms kan dele van die Noord-Kaap en Vrystaat Maandag tref, met waarskuwings oor moontlike skade en oorstromings wat geld.
Daarna volg ’n droë, warm week met stygende temperature en ’n langtermynvooruitsig van meer reën teen die einde van die jaar.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n geel vlak 2-waarskuwing oor ernstige donderstorms in die verre noordoostelike dele van die Noord-Kaap en die noordwestelike dele van die Vrystaat uitgereik.
Die donderstorms sal na verwagting Maandag oor dié streke van die twee sentrale provinsies woed.
Die storms kan skade aan infrastruktuur, eiendom en voertuie veroorsaak, met ’n risiko van oorstromings op paaie, in laagliggende gebiede en by brûe.
Ná die aanvanklike storms word droër en warmer toestande vir die res van die week verwag.
Geïsoleerde donderbuie word Maandag in die verre noordooste van die Noord-Kaap verwag, maar dit sal andersins warm tot baie warm en sonnig wees.
Vir Dinsdag voorspel die weerdiens sonnige toestande met hoë temperature.
Dit sal Woensdag steeds warm en sonnig in die provinsie wees, maar teen Donderdag sal dit meestal bewolk en baie warm wees.
Teen Vrydag sal dit oorwegend bewolk en koeler wees.
Geïsoleerde donderbuie kan Maandag veral in die noorde en weste van die Vrystaat voorkom waar die geel vlak 2-waarskuwing van krag is. Dit sal deels bewolk en warm tot baie warm en winderig in die provinsie wees.
Van Woensdag af word daar geen betekenisvolle reën verwag nie en sal die temperature geleidelik styg.
Volgens seisoenale voorspellings kan La Niña-toestande teen laat 2025 tot bonormale reënval in Suid-Afrika se somerreënstreke lei, wat die kans op vloede en ander weergevare in die somermaande verhoog.









