Groot operasie om spreeu in Onrus te red is tevergeefs

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Spreeu wat in die dak van 'n huis in Onrus naby Hermanus vasgesit het, is verwyder danksy die hulp van die Overstrand-munisipaliteit se brandweerdiens, maar sy lewe kon nie gered word nie.

'n Veearts het die voël uitgesit omdat sy een poot losgeskeur was.

Die Kogelberg Biosphere Wildlife Rescue and Training Centre het die Overstrand-munisipaliteit se hulp Saterdag ingeroep. 'n Lang leer was nodig om uit te kom by 'n spreeu wat in 'n huis se dak vasgesit het.

Brandbestryders van die Overstrand-munisipaliteit nadat hulle Saterdag die spreeu onder 'n huis se dak uitgehaal het. Op die leer is Bevan Hess, links is Tyrol Mac Kenzie (senior brandbestryder) en regs is Anga Ngongose. Die spreeu is op die voorgrond in die hand van die vrywilliger van die Kogelberg Biosphere Wildlife Rescue.  Foto: Overstrand-munisipaliteit

Tyrol Mac Kenzie, 'n senior brandbestryder, en sy kollegas Bevan Hess en Anga Ngongose is hierop met 'n 10 m lange leer na die huis.

Toe hulle die spreeu red, het hulle gesien sy een poot was beseer. Weldoeners is toe met die voël na 'n plaaslike veearts.

Corlie Hugo van die Kogelberg-biosfeer sê by navraag toe die huiseienaar sien die spreeu sit in die dak vas, het sy raad op onder meer Facebook gevra. Op dié manier het sy by hul groep uitgekom. Hul bedryfsbestuurder het in aanraking gekom met van hul vrywilligers wat opgelei is in die redding van voëls.

Een van die vrywilligers is na die huis in Onrus, maar het besef hulle het 'n baie lang leer nodig om tot by die dak van die dubbelverdiepinghuis te kom.

Die vrywilliger het toe die Overstrand-munisipaliteit se brand- en reddingsdienste om hulp gevra.

"Hulle was wonderlik om uit te kom, het opgeklim en die voël losgekry," sê Hugo.

Die spreeu word uit die dak van dié dubbelverdiepinghuis in Onrus gered. Die hulp van die Overstrand-munisipaliteit se brand- en reddingsdienste is ingeroep omdat hul 10 m lange leer nodig was om by die dak te kon uitkom.  Foto: Overstrand-munisipaliteit

Die vrywilliger is daarna met die spreeu na 'n veearts, wat die spreekkamer spesiaal op 'n Saterdagmiddag oopgesluit het om die spreeu te ondersoek. Die voël moes egter 'n genadedood kry omdat sy poot heeltemal losgeskeur was.

Volgens Hugo kry hulle baie sulke gevalle.

Die Kogelberg Biosphere Wildlife Rescue is verlede jaar op die been gebring. Op die oomblik gee hulle mense raad oor wat om te doen as 'n wilde dier beseer is, of stuur 'n vrywilliger uit om te gaan help.

Sy vertel hulle is in die proses om 'n rehabilitasiesentrum oop te maak op 'n perseel net buite Bettysbaai.

"Ons is besig om die gebou reg te kry. Ons moet nou net aansoek doen vir 'n permit by CapeNature om wettig as 'n sentrum te funksioneer."

Hulle gaan ook verskillende soorte opleiding by die sentrum bied as 'n bron van inkomste.

SPELETJIES VANDAG

CTA