Reën word Dinsdag oor groot dele van die Wes-Kaap verwag, met buie en donderweer wat Donderdag oor groot dele van die Oos-Kaap kan voorkom.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor skadelike deinings wat seevaart kan bemoeilik Maandag tussen Kaappunt en Plettenbergbaai.
Toestande wat uiters bevorderlik is vir die ontstaan van veldbrande word Maandag ook in die munisipale gebied van Beaufort-Wes verwag.
Maandag is daar 'n 30%-kans op motreën die middag in Kaapstad, die Paarl, Worcester, Ceres, Malmesbury, Langebaan, Redelinghuys, Hermanus en Grabouw.
Vir Kaapstad word 'n maksimum temperatuur van 17 °C voorspel en vir George 20 °C.
In Kaap Agulhas kan die noordwestewind 'n snelheid van 40 km/h bereik en in Hermanus 30 km/h.
In die Oos-Kaap word gedeeltelik bewolkte tot sonnige weer verwag, met maksimum temperature grootliks bo 20 °C.
Vir Gqeberha word 'n maksimum van 19 °C voorspel.
'n Noordwestewind van 40 km/h word in Graaff-Reinet, Nxuba (Cradock) en Komani (Queenstown) verwag.
Teen Dinsdag is daar 'n 60%-kans op motreën die oggend en reën deur die middag in Kaapstad, Hermanus en Grabouw.
Oor meeste van die res van die provinsie buiten enkele dele van die Weskus en Karoo is daar 'n 30%-kans op reën of buie, grootliks in die middag.
Vir Kaapstad word 'n maksimum temperatuur van 16 °C voorspel en vir George 17 °C met 'n suidwestewind van 20 km/h.
In die Oos-Kaap word bewolkte tot deels bewolkte weer verwag, met 'n 30%-kans op reën die middag in Joubertina.
Vir Gqeberha word 'n maksimum van 18 °C voorspel en 'n suidwestewind van 30 km/h.
Woensdag is daar nog 'n 30%-kans op reën die oggend in George, Mosselbaai, Plettenbergbaai en Oudtshoorn.
In die Oos-Kaap is daar 'n 30%-kans op reën die middag in Gqeberha, Kariega, Port Alfred, Oos-Londen, Port St. Johns, Bhisho en Mthatha, asook 'n 30%-kans op reën die oggend in Joubertina.
Teen Donderdag word grootliks sonnige en matige tot warm weer in die Wes-Kaap verwag.
In die Oos-Kaap is daar 'n 30%-kans op reën en donderweer die middag oor die grootste deel van die provinsie.
- malherbe.nienaber@24.com




















