Die Nelson Mandelabaai-metro het ’n geraamde 246 dae se watervoorraad oor gegrond op langdurige ondergemiddelde reënval, verhoogde temperature en ongunstige klimaattoestande, wat invloei in damme en opvangstelsels verminder.
Sithembiso Soyaya, woordvoerder van die metro, sê by navraag Maandag was die gekombineerde damvlak van damme wat water aan die metro lewer op 48,7%, waarvan net 38,76% beskikbaar is vir verbruik.
Dié druk word verder vererger deur die huidige waterverbruiksvlakke. Die gemiddelde daaglikse waterverbruik in die metro is tans 380 miljoen liter per dag vergeleke met die teiken van 280 miljoen liter per dag. Die metro verbruik dus 100 miljoen liter per dag bo die volhoubare teiken, wat die onttrekking van beperkte waterbronne aansienlik versnel, sê Soyaya.

Die metro het inwoners in Oktober verlede jaar versoek om water spaarsaam te gebruik en begin vanjaar is waterbeperkings aangekondig. Inwoners is versoek om korter te stort, krane behoorlik toe te draai en waterlekkasies aan te meld.
Hulle is ook versoek om gryswater te gebruik vir hul tuine en skoonmaakdoeleindes, en om die natlei van tuine en die was van voertuie te beperk.
Waterlekke is egter ’n reuseprobleem, want dit word volgens inwoners nie vinnig genoeg herstel nie.
In Walmer Heights is daar byvoorbeeld ’n lekkasie in Verdilaan waar die water al twee weke lank uitstroom. Inwoners is gefrustreerd omdat dit nou reeds die waterdruk by hul huise raak.
Volgens Dries van der Westhuizen, raadslid vir wyk 1 en DA-woordvoerder oor water en sanitasie in die metro, is daar verskeie lekkasies in die metro.
Nog ’n uitvloeisel van die lekkasies is dat dit slaggate veroorsaak, sê hy.
By Netwerk24 se besoek aan Verdilaan Maandagoggend het die water soos ’n rivier in die pad afgeloop.
Van der Westhuizen sê hy het dié lekkasie al telkemale by die munisipaliteit aangemeld, “maar ons versoek om die lek te herstel, val op dowe ore”.
Die lekkasies in die metro kan volgens hom toegeskryf word aan verouderde infrastruktuur en ’n gebrek aan instandhoudingswerk.
“Ek weet nie of die munisipaliteit ’n kontrak het om lekkasies te herstel nie; al wat ek weet, is dat die personeel hul bes doen.”
Volgens Soyaya het die vorige kontrakteur wat waterlekkasies herstel het, se kontrak einde September 2025 verval.
’n Nuwe tender is sedertdien toegeken en is tans in die beswaarfase, wat deel vorm van die voorgeskrewe verkrygingsproses.
“Hoewel dit nie moontlik is om die uitkoms of duur van die beswaartydperk te voorspel nie, sal die proses na verwagting binne sowat vier weke afgehandel wees,” sê hy.
Die metro gaan intussen voort om daagliks waterlekkasies deur middel van sy interne spanne te bestuur en te herstel.
“Die huidige aangemelde agterstand is sowat 2 000 klein lekkasies. Hoewel daar interne vermoë is om dit te hanteer, is bykomende hulp nodig om omkeertye te verkort.”
Soyaya stem nie saam dat die waterlekkasies die huidige waterkrisis veroorsaak nie. Hy sê droogtes is klimaatgebeurtenisse en word nie veroorsaak deur waterlekkasies of verouderende infrastruktuur nie.
Infrastruktuurverwante verliese beïnvloed die doeltreffendheid waarmee beskikbare water vervoer en versprei word sodra dit reeds die stelsel binnegegaan het.
“Die munisipaliteit erken dat verouderende waterinfrastruktuur ’n beduidende bedryfsuitdaging bly, veral in ouer dele van die metro. Dié uitdaging word vererger deur krimpende munisipale finansiering, stygende bedryfskoste, die vandalisering van waterinfrastruktuur en toenemende diensleweringseise.
“Waterverliese wat verband hou met verouderende infrastruktuur is ’n nasionale verskynsel wat munisipaliteite landwyd raak en nie uniek is aan Nelson Mandelabaai nie.”
Prof. Anja du Plessis, kundige in die bestuur van waterhulpbronne en medeprofessor aan Unisa, beklemtoon die belangrikheid van instandhouding. “Ons is ’n waterskaars land . . . en die munisipaliteit moet sy deel doen om te verseker dat instandhoudingswerk aan sy infrastruktuur gedoen word.”
Intussen het die Nelson Mandelabaai-sakekamer weer sy Adopt a School-inisiatief ingestel. Dit behels dat loodgietersfoute en waterlekkasies by skole herstel en reënwateropvangmaatreëls geïnstalleer word.
Denise van Huyssteen, uitvoerende hoof van die sakekamer, sê die metro was drie jaar gelede gevaarlik naby daaraan dat sy krane opgedroog het.
“Dis diep kommerwekkend dat daar sedertdien nie ’n volgehoue fokus op die beskerming van watersekerheid deur sowel die munisipaliteit as verbruikers was nie.
“Die voortdurende verlies van miljoene liters water elke dag is finansieel roekeloos, omgewingskadelik en onvolhoubaar. Voorkomende instandhouding behoort die norm te wees, nie die uitsondering nie. Elke liter wat vandag verlore gaan, bring ons nader aan ’n krisis môre.”
Sy vra ondernemings en lede van die sakekamer om hul samewerking te gee om die watervoorraad te beskerm.


















