Verstrengelde walvisse: Projek kry stukrag in Gansbaai

’n Landwye projek om walvisse te bevry wat in visnette verstrengel raak, het nuwe stukrag gekry danksy opleiding aan mense wat dié diere in nood help.
’n Landwye projek om walvisse te bevry wat in visnette verstrengel raak, het nuwe stukrag gekry danksy opleiding aan mense wat dié diere in nood help. (Foto: Marine Dynamics/Dyereiland-bewaringstrust)

’n Landwye projek om walvisse te bevry wat aan kusgebiede in visnette verstrengel raak, het nuwe stukrag gekry danksy opleiding aan lede van die Dyereiland-bewaringstrust en die bewaringsorganisasie Marine Dynamics in Gansbaai.

Wilfred Chivell, stigter van die trust en Marine Dynamics, en sy seun Dickie Chivell is reeds die afgelope 25 jaar by die bevryding van walvisse betrokke. Die opleiding is deur Mike Meyer van die Suid-Afrikaanse Netwerk vir die Bevryding van Walvisse (SAWDN) verskaf.

Volgens Chivell is die opleiding onderneem weens die toenemende bedreiging vir walvisse wat langs die kus migreer en in visgereedskap soos nette en toue verstrengel raak.

Na raming vrek 386 000 walvisse, dolfyne en ander spesies wêreldwyd elke jaar weens verstrengeling, luidens die SAWDN se webtuiste.

In Suid-Afrika het voorvalle van verstrengeling die laaste paar dekades toegeneem, met 82 voorvalle wat tussen 1999 en 2019 in die Wes-Kaap aangeteken is waarby suidelike noorkappers betrokke was, sê Chivell.

In die tydperk was daar drie bevestigde vrektes.

Die meeste van hierdie voorvalle het tussen Julie en November langs die Wes-Kaapse kus plaasgevind, wanneer suidelike noorkappers die gebiede besoek om te kalf.

Verdere studies oor die vang van vis in fuike (trap fishing) in Suid-Afrika tussen 2006 en 2020, het getoon dat 68% van die verstrengeling van walvisse gekoppel is aan die Weskus-kreefvisserybedryf, met 90% van hierdie voorvalle wat in sones voorkom waar die meeste visvangste plaasvind.

Dr. Loraine Shuttleworth (links), pas aangestelde hoof van navorsing by die Dyereiland-bewaringstrust, Wiehann Myburgh (skipper) en Mike Meyer van die Suid-Afrikaanse Netwerk vir die Bevryding van Walvisse (SAWDN).
Dr. Loraine Shuttleworth (links), pas aangestelde hoof van navorsing by die Dyereiland-bewaringstrust, Wiehann Myburgh (skipper) en Mike Meyer van die Suid-Afrikaanse Netwerk vir die Bevryding van Walvisse (SAWDN). (Foto: Marine Dynamics/Dyereiland-bewaringstrust)

Die spesies wat die meeste geraak is, is volgens Chivell bultrugwalvisse (64%), suidelike noorkappers (25%) en Bryde-walvisse (11%). Daar is ook bewyse dat die verstrengeling van bultrugwalvisse langs die hele Suid-Afrikaanse kuslyn toegeneem het. Bultrugwalvisse word die meeste geraak wanneer hulle van Januarie tot Maart op soek is na kos, terwyl die verstrengeling van suidelike noorkappers meestal tussen Julie en November voorkom wanneer dit hul kalfseisoen langs die kus is.

Walvisverstrengelings word gekoppel aan kreefvissery.
Walvisverstrengelings word gekoppel aan kreefvissery. (Grafika: Netwerk24)

Chivell was self oor die jare heen by verskeie voorvalle van verstrengeling tussen Pearly Beach en Hermanus. Verstrengelde walvisse vrek selde, maar kan maande lank swaar visgereedskap saamsleep, diep wonde opdoen, die vermoë verloor om te vreet, of verdrink as hulle nie die oppervlak kan bereik om asem te haal nie. Talle vrek uiteindelik weens infeksie, verhongering of uitputting.

“Dis werklik verwoestend om te sien wat ons as mense aan hierdie diere doen,” sê Chivell. “Om ’n walvis te sien sukkel met toue wat in sy lyf sny, is iets wat jy nooit vergeet nie. Ek wou seker maak dat nuwe en ouer spanlede behoorlike opleiding, of aanvullingsopleiding kry sodat ons hierdie walvisse in nood kan bly help.”

Die opleiding van die spanlede, dr. Loraine Shuttleworth, Dickie Chivell, Hendrik Odendaal, Kira Matiwane, Francois Swart, Benz Nomandela en Wiehann Myburgh, het twee dae geduur. Marine Dynamics en die Dyereiland-bewaringstrust sal met vennote soos die Nasionale Seereddingsinstituut en die SAWDN saamwerk wanneer dit nodig is. Walvisse soos suidelike noorkappers, bultrugwalvisse en Bryde-walvisse kom heeljaar aan die kus by Gansbaai voor.

– jkruger@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA