Meer as 80% van die uitslae in 2025 se Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen is onverwerk, sê prof. Yunus Ballim, voorsitter van die Raad vir Gehalteversekering in die Onderwys (Umalusi).
Dit is uitslae wat nie vir standaardiseringsdoeleindes verhoog of verlaag is nie.
Ballim het Vrydag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê 81% van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se uitslae is onverwerk en 82,4% van die departement van basiese onderwys s’n.
Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, sê ’n assesseringskomitee het van 18 Desember tot 5 Januarie aan die standaardiseringsproses gewerk. 15 lede, wat by universiteite of navorsingseenhede betrokke is, het dataverslae vir die verskillende vakke nagegaan.
Vir die IEB-eksamens is die uitslae in 47 vakke aanvaar, die uitslae in sewe vakke is verhoog en die uitslae in vier is verlaag. Die IEB het vanjaar 58 vakke aangebied.
Die uitslae van die eksamens in besigheidstudies, lewenswetenskappe, maritieme-ekonomie, fisiese wetenskappe, Sepedi eerste addisionale taal, Sesotho eerste addisionele taal en sport- en oefenwetenskappe is opwaarts aangepas. Die uitslae van die eksamens in rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp, Frans tweede addisionele taal en Setswana eerste addisionele taal is weer verlaag.
Die uitslae in 56 NSS-vakke is onverwerk. Dié in sewe vakke is opwaarts aangepas en vyf vakke s’n is afwaarts aangepas. Die departement van basiese onderwys het 68 vakke aangebied.
Die uitslae in rekeningkunde, dansstudies, Engels eerste addisionele taal, isiNdebele huistaal, isiXhosa huistaal, isiZulu eerste addisionele taal en Sepedi huistaal is vehoog en dié in siviele tegnologie (houtwerk), Engels huistaal, lewensoriëntering, meganiese tegnologie (motorboukunde) en Setswana huistaal is verlaag.
In 2025 is die meeste onverwerkte uitslae in ses jaar aanvaar, volgens ’n verslag van Umalusi. In 2024 is onverwerkte uitslae vir 53 vakke aanvaar en in 2021 vir slegs 35.
‘Integriteit en geloofwaardigheid bly behoue’
Ballim sê die integriteit en geloofwaardigheid van die NSS- en die IEB-eksamens het behoue gebly.
Sowat 927 000 leerlinge het vanjaar die NSS-eksamen afgelê.
Die IEB-uitslae word op 12 Januarie bekend gemaak. NSS-uitslae word op 13 Januarie bekend gemaak, hoewel Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, reeds Maandagaand ’n oorhoofse aankondiging oor die uitslae sal maak.
Die 40 leerlinge wat betrek word by vraestelle wat uitgelek het in die departement van basiese onderwys se eksamens, se uitslae sal volgens Rakometsi nie bekend gemaak word nie. Leerlinge wat in die toekoms by so ’n situasie betrokke is, se NSS-sertifikaat sal teruggetrek word en hulle kan moontlik tronkstraf opgelê word, sê hy.
Sewe vraestelle in drie vakke het uitgelek: Engels huistaal vraestel 1 tot 3, fisiese wetenskap vraestel 1 en 2 en wiskunde vraestel 1 en 2.
Die lekkasie is tot sewe eksamensentrums in Pretoria beperk.
Umalusi het sy kommer uitgespreek oor die “jaarlikse onreëlmatighede”, veral omdat sekere provinsies gereeld by dieselfde onreëlmatighede betrek word.
Rakometsi sê die departement kon onreëlmatighede vroeg opspoor en navolg, wat die geloofwaardigheid en integriteit help beskerm het.
Makhi Feni, voorsitter van die gekose komitee oor onderwys, wetenskap en kreatiewe nywerhede, sê dis nie meer genoeg om net matriek deur te kom en hoë slaagsyfers te bekom nie. “Ons kinders moet toegerus wees vir geleenthede, of dit nou in akademiese of werkverband is. Ons moenie langer matrikuleer en dan weet niemand wat kom volgende nie,” sê hy.

















