Fokus op Stellenbosch: DA-vesting met sy eie probleme

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mense stap in Kerkstraat in Stellenbosch se middedorp. Vanjaar ding 270 kandidate en 23 partye mee in dié munisipaliteit in die Kaapse Wynland.  Foto: Jaco Marais
Mense stap in Kerkstraat in Stellenbosch se middedorp. Vanjaar ding 270 kandidate en 23 partye mee in dié munisipaliteit in die Kaapse Wynland. Foto: Jaco Marais

'n DA-vesting met ikoniese dorpe in die Kaapse Wynlande, wat graag spog met skoon oudits en selfs die eerste munisipaliteit sonder beurtkrag wil word.

Die Eikestad het egter ook 'n verskeidenheid probleme wat hom in die gesig staar, van misdaad en 'n tekort aan behuising tot werkloosheid, ongelykheid en groeiende informele nedersettings.

Vanjaar ding 270 kandidate en 23 partye mee in die Stellenbosch-munisipaliteit, wat ook Franschhoek, Klapmuts, Pniël, Jamestown, Kayamandi, Kylemore en Languedoc insluit.

In die vorige plaaslike verkiesings het die DA se steun van 59% in 2011 tot 69% in 2016 gegroei, terwyl die ANC se steun van 24% tot 19% gedaal het.

Die DA het in 'n hele paar wyke meer as 80% en selfs 90% van stemme ontvang, met die ANC wat meer as 70% in een wyk en meer as 60% in drie ander gehad het.

Adv. Gesie van Deventer is ná die 2016-verkiesings tot burgemeester verkies en is vanjaar weer die DA se eerste kandidaat in Stellenbosch.

Van Deventer het wyle Conrad Sidego as burgemeester opgevolg en sy was voor dit die burgemeester van Drakenstein.

Gesie van Deventer
Gesie van Deventer

Misdaad en informele nedersettings gedy

Stellenbosch het die derde grootste bevolking in die distrik, ná Drakenstein en Breedevallei.

Volgens die Wes-Kaapse regering se data het 73% van huishoudings in 2019 toegang tot formele behuising gehad, die laagste in die Kaapse Wynland-distrik, wat 'n gemiddeld van 81% het.

Daarby het 86% van huishoudings toegang tot vullisverwydering, 94% toegang tot water, 92% toegang tot krag en 91% het toegang tot sanitasie gehad.

In Stellenbosch het 24% van huishoudings in informele woonplekke gebly en is dit ook die hoogste in die distrik, met 'n gemiddeld van 17%.

Die munisipaliteit het die hoogste vlakke van inkomsteongelykheid in vergelyking met ander in die distrik en die provinsie.

Verder is aansienlik meer inbrake in woongebiede per 100 000 van die bevolking in Stellenbosch (644) aangemeld as in die Kaapse Wynland (587) en is daar ook meer dwelmverwante en seksuele misdade.

Die munisipaliteit het op 11,3% in 2019 ook die tweede hoogste werkloosheidskoers in die distrik (10%) gehad.

Oor die laaste paar jaar het die Eikestad dikwels onder die top-30 polisiekantore in die land verskyn vir onder meer eiendomsverwante misdade, inbrake en diefstal uit voertuie uit.

In 2019-'20 se misdaadstatistieke was Stellenbosch 12de onder die top-30 polisiekantore waar eiendomsverwante misdade aangemeld is, sesde vir diefstal uit voertuie uit en 21ste vir inbrake by nieresidensiële eiendomme.

Statistieke Suid-Afrika noem in sy gemeenskapsopname van 2016 dat Stellenbosch een van die min munisipaliteite in die Wes-Kaap is waar swart Afrikane meer as 'n derde van die bevolking uitmaak, saam met Bitou, Knysna, Mosselbaai, die Overstrand en Kaapstad.

Onder mense van 20 jaar en ouer het 39% van die bevolking nie hoërskool voltooi nie, teenoor 38% in die distrik en 37% in die provinsie.

In 2016 het die munisipaliteit op 34% die hoogste persentasie huishoudings in informele wonings in die Wes-Kaap (16%) gehad, teenoor 17% in die Kaapse Wynland.

Terselfdertyd het Stellenbosch van die laagste persentasie huishoudings in HOP-huise gehad op 20%, in vergelyking met 24% in die distrik en 29% in die provinsie.

Onder die huishoudings in HOP-huise het 33% die gehalte as goed beskryf en 29% het gesê dit is swak.

In dié tyd het 8% van huishoudings wateronderbrekings in die voorafgaande drie maande ervaar, die hoogste in die Wynland (4%) en hoër as die provinsie se gemiddeld (7%).

Stellenbosch het ook by verre die meeste huishoudings in die distrik sonder toiletgeriewe gehad (446) en die tweede meeste huishoudings sonder vullisverwydering (1 082).

Daarby het 14% van huishoudings (7 337) in 2016 aangedui dat hul kosgeld in die voorafgaande 12 maande opgeraak het - die derde hoogste in die distrik.

Die munisipaliteit het ook 10% van huishoudings (5 237) gehad wat 'n maaltyd in die voorafgaande 12 maande oorgeslaan het, die tweede meeste in die Wynland (9%) en meer as die Wes-Kaap se gemiddeld (8%).

Op 14% het Stellenbosch die grootste persentasie huishoudings in die provinsie gehad wat in die voorafgaande 12 maande 'n slagoffer van misdaad was, teenoor 8% in die distrik en 9% in die provinsie.

Verder het 52% van huishoudings gesê hulle voel "baie veilig" as hulle alleen in die dag stap, teenoor 58% in die distrik, terwyl 9,6% gesê het hulle voel "baie onveilig", die hoogste in die Wynland (6%).

Onder 45 082 huishoudings wat gevra is tot watter mate hulle saamstem dat die munisipaliteit probleme probeer oplos, het 61% sterk verskil - die tweede hoogste in die distrik (51%) - en net 1,2% het sterk saamgestem - die laagste in die Wynland (4,6%).

DA positief oor meerderheid in raad

Van Deventer het Donderdag gesê die DA verwag goeie uitslae in alle wyke, maar die nuwe wyk 23 is 'n "onbekende faktor", hoewel sy volhou dat die party dié wyk ook sal wen.

"Met die talle klein partye landwyd en ook in Stellenbosch, is voorspellings maar moeilik. Ons is wel baie opgewonde en positief dat ons 'n goeie meerderheid in die raad sal behaal, want ons het oor die afgelope vyf jaar geweldig baie uitstekende projekte in Stellenbosch voltooi."

Van Deventer sê die munisipaliteit het onder die DA se leiding reeds begin met "talle ander fantastiese projekte" in die omgewing en sien uit daarna om dit te voltooi.

Indien die party op 1 November verkies word, wil hy klem lê op kragopwekking om inwoners teen beurtkrag te beskerm.

Sy het ook benadruk dat behuising van die grootste fokuspunte in Stellenbosch is en die munisipaliteit sal voortgaan om "soveel as moontlik behuisingsgeleenthede te skep".

"Die Stellenbosch-munisipaliteit is besig om homself te posisioneer as een van die beste munisipaliteite in die land. Oor die afgelope vyf jaar het die DA-beheerde raad verseker dat ons gehaltedienste aan al ons inwoners lewer."

Waar die DA regeer, is skoon oudits, aanspreeklikheid en deursigtigheid "aan die orde van die dag" en word korrupsie nie geduld nie, sê Van Deventer.

"Inwoners weet dat hul geld reg spandeer word, daar waar dit benodig word. Hierop wil ons voortbou en verbeter."

Sy voer aan dat Stellenbosch 'n "uiters progressiewe"

deernisbeleid het om die armste inwoners te beskerm, terwyl grootskaalse beleggings in infrastruktuur, ontwikkeling en instandhouding "net weer eens wys dat ons 'n regering is wat omgee".

Volgens Van Deventer sal die DA ook toesien dat die Eikestad 'n "optimale omgewing bly waar besighede en nywerhede kan floreer" om beleggings te lok, werk te skep en ekonomiese groei aan te moedig.

Sy sê 'n stem vir die DA is 'n stem vir "stabiliteit, dienslewering en vooruitgang".

EFF wil hier begin met onteiening

Verlede week was Stellenbosch weer in die nuus toe Julius Malema, EFF-leier, hier besoek afgelê het, waar hy onder meer gesê het dit is 'n "rassistiese dorp" wat sy party wil verander. Lees die berig hier.

Hy het daarop gewys dat dele van die munisipaliteit nie water en toilette het nie en die ANC en DA daarvan beskuldig dat hulle nie voldoende toilette en behuising in informele nedersettings lewer nie.

Malema het toe ook beloof as die EFF wen, sal hy in Stellenbosch begin met die onteiening van grond en ook van die wynplase in die gebied teiken.

Die EFF het in 2016 3,7% van die stemme gekry en het vanjaar 23 kandidate.

Van Deventer het verlede Vrydag in reaksie die dreigement van "gedwonge onteiening" verwerp, sowel as taal wat inwoners glo probeer verdeel.

Sy sê slegs die DA kan verhoed dat "Malema se onteiening-nagmerrie" verwesenlik word en haar party wil mense verenig deur eiendomsregte uit te brei.

Van Deventer het benadruk dat die munisipaliteit in vyf jaar 2 200 titelaktes vir wonings aan begunstigdes van behuising oorhandig het.

"Malema se dreigement herinner ons egter daaraan hoe gevaarlik dit is as klein partye en onafhanklikes probeer om die DA se steun te versplinter."

Die DA het 53 kandidate vanjaar.

ANC wil fokus op gelykheid, grond

Die ANC in Stellenbosch het Donderdag gesê indien hy verkies word, sal hy toesien dat beleid gegrond word op gelykheid vir alle inwoners.

Sy fokusgebiede sluit in grond vir behuising en kleinboere, plaasuitsettings, plaasmoorde, werkloosheid, verskaffing van elektrisiteit aan informele nedersettings en gelyke geleenthede vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme.

Verder beloof die ANC om korrupsie te bestry en kaderontplooiing te stop, sowel as 'n beleid vir regstellende aksie en bekostigbare erfbelasting en tariewe.

Volgens die ANC is die uitdagings waardeur die munisipaliteit in die gesig gestaar word onder meer die gaping tussen ryk en arm, swak behuising en infrastruktuur, 'n gebrek aan grond vir kleinboere en die bestuur wat glo "almal wit is".

Die ANC verwag om minstens al vier wyke in Kayamandi te wen en om die drie wyke terug te kry wat hy in 2016 afgestaan het.

Vanjaar het hy 39 kandidate in Stellenbosch.

Nog 'n rugbyman staan vir Good

Good sê hy verwag om vanjaar munt te slaan uit kiesers wat moeg is vir die ouer partye en sien "massiewe potensiaal vir groei" in die Eikestad.

Christie Noble, Good se burgemeesterskandidaat, sê dié partye het die afgelope 20 jaar baie beloof en min opgelewer, terwyl hulle ook nie meer 'n sterk greep op die dorp het nie.

Noble is 'n boorling van Cloetesville en is bekend as 'n voormalige rugbyspeler en afrigter.

Dié nuwe party het ook vir Peter de Villiers, voormalige Bok-afrigter, as burgemeesterskandidaat vir Drakenstein, nog 'n rugbyman in die Boland.

Volgens Noble bly dienslewering 'n groot bekommernis vir inwoners, veral in arm gebiede.

"Daar is 'n duidelike gebrek aan verantwoordbare wyksraadslede - wat slegs sigbaar is tydens verkiesings en dan inwoners sonder verteenwoordiging laat vir die volgende vyf jaar."

Noble sê Stellenbosch het 'n "erge sosio-ekonomiese wanbalans", wat die kern van meeste probleme is en hy meen dit kan reggestel word deur die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk te hersien.

"Om ons mense op die buitewyke te los, ver van ekonomiese geleenthede, is 'n ongeregtigheid wat dringend aandag sal geniet. Ons sal jeugontwikkeling en bemagtiging prioritiseer en toesien dat die kringloop van 'n gebrek aan onderwys en armoede gebreek word.

"Good gaan wys dat ons 'n groeiende party, nie 'n klein party is nie en sal beslis in die regering wees."

Hy hou vol dat Good "nuwe hoop vir ons demokrasie gaan bied" en dat dit 'n geloofwaardige en opregte politieke beweging is wat daartoe verbind is om almal se lewens te verbeter.

Good het 27 kandidate.

VF Plus wil magsbalans wees

Die VF Plus se tienpuntplan vir munisipaliteite sluit in dat aanstellings slegs op meriete gegrond word en die beste persoon vir elke pos in diens geneem word.

Hy beloof om plaaslike regering te desentraliseer en magte af te wentel so na aan die gemeenskap as moontlik.

Verder wil hy onbillike verhogings van belasting en tariewe keer, sowel as om 'n gunstige omgewing vir die private sektor te skep.

Die VF Plus sê hy wil ook optree as 'n magsbalans in veelpartyregerings en as 'n "doeltreffende waghond teen wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid".

Nog prioriteite is besoedeling, instandhouding, doeltreffende polisiëring en om 'n kultuur van herwinning te skep.

Daarby wil die VF Plus waterverliese weens gebarste pype en lekkasies verminder, erfenis beskerm en diversiteit respekteer en 'n "gesonde, veilige omgewing skep".

Dié party het bekend gemaak dat hy nie koalisies met die ANC of EFF sal sluit nie.

Verlede week het die VF Plus ook sy samewerking met die CapeXit-beweging formeel bevestig met 'n openbare bewusmakingsveldtog en 'n gesamentlike verkiesingsplakkaat.

Selfbeskikking is een van die VF Plus se beleidsmikpunte en hy glo 'n referendum oor dié kwessie in die afsienbare toekoms is "onafwendbaar en noodsaaklik".

Die VF Plus het drie kandidate en het in 2016 799 stemme (0,7%) ontvang.

Burgemeesterskandidate

Gesie van Deventer, DA (63)

Van Deventer het in Vanrhynsdorp in die Noord-Kaap grootgeword en 'n LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, waarna sy in 1982 as advokaat toegelaat is.

Sy het ook diplomas in wynbou, plantkunde en as wynmaker.

In haar regsloopbaan het sy as aanklaer en advokaat opgetree en later as 'n landdros in die Paarl.

Verder tree sy as motiveringspreker op en het sy gewerk as wynmaker, bestuurder en eienaar van die wynplaas Domaine Brahms buite die Paarl.

In 2011 is sy tot burgemeester van Drakenstein verkies, waar sy 'n "suksesvolle omkeerstrategie" bewerkstellig het en in 2016 het sy die burgemeester van Stellenbosch geword.

Sy is getroud met dr. Johan van Deventer, 'n bekende in die varsproduktebedryf, en het twee seuns.

Christie Noble, Good (58)

Noble het in Cloetesville grootgeword en aanvanklik bekendheid verwerf as een van die min bruin rugbyspelers wat teen die einde van apartheid naam gemaak het, veral as Natal-speler.

Later het hy ook aansien behaal as afrigter, onder meer van die Valke.

Noble is ook betrokke by die Christie Noble Fitness Fixer Foundation in Klapmuts, wat 'n platform bied vir benadeelde gemeenskappe om mense van 'n gesonde leefstyl bewus te maak, te oefen en fiksheid vir alle ouderdomme te bevorder.

Dié stigting se doelwit is om sentrums vir fiksheid vir benadeelde gemeenskappe landwyd te skep, sowel as om kospakkies aan behoeftiges in Stellenbosch en omliggende dele te gee.

Hy is getroud met Beverley-Lynn Noble en hulle het twee seuns.

Isabelle de Taillefer, VF Plus (62)

De Taillefer word beskryf as baie betrokke in haar gemeenskap en sê haar geesdrif vir haar omgewing is tans sigbaar in Stellenbosch waar sy betrokke is by die instandhouding van parke en tuine.

Sy het 30 jaar ondervinding by die SAUK en in media, wat sy sê as raadslid van waarde sal wees en tot voordeel van die gemeenskap aangewend kan word.

Tans is sy ook betrokke as die VF Plus se alternatiewe mediabestuurder.

De Taillefer is glo 'n "bekende by die ouetehuise in Stellenbosch", waar sy betrokke is en help met die behoeftes van bejaardes.

Sy het 'n diploma in skakelwese en toerisme en vergesel mense op dagtoere deur die dorp en omliggende dele van die Wes-Kaap.

SPELETJIES VANDAG

CTA