Die voortslepende diensleweringskrisisse in die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat (Welkom en omgewing) het nou nie juis ontevrede kiesers na die stembus laat stroom nie.
Dit wil eerder voorkom asof die kiesers besluit het om die regerende ANC met 'n wegblystem te straf.
Johnny Maseko, president van die Patriotic Front of Azania (PFA), het gesê die ANC het baie mense vir spesiale stemme geregistreer.
Volgens Maseko het heelparty van dié mense geweier om te stem en wou hulle nie ANC-werwers toelaat om hulle te help stem nie. "Hulle het net geweier om te stem."
Teen Maandagmiddag het die meeste stempunte in die townships stempersentasies van so laag as 20% gehad.
Igor Scheurkogel, 'n DA-kandidaat in Odendaalsrus, het gesê hy glo 'n wegblystem is vir baie inwoners 'n manier om protes teen die swak dienslewering aan te teken.
Hy het gesê die meeste stempunte in Odendaalsrus was baie stil.
Ook in Thabong, Phomolong, Meloding en Saaiplaas het mense Maandag deur die loop van die dag traag by stembusse opgedaag.
'n OVK-beampte, wat nie sy naam bekend wou maak nie, het gesê hy dink mense is so teleurgesteld dat hulle nie eens die moeite wil doen om te stem nie.
Hoewel plaaslike verkiesings nooit hoë stempersentasies oplewer nie, het OVK-amptenare gesê dit is vanjaar stiller as verwag.
Van hulle is al sedert 1994 by die OVK werksaam.
Hulle is baie kwaad oor die water; van die mense was twee weke lank sonder water.
Maroping Khabele, hoofbeampte in Saaiplaas, het gesê hy glo dat mense nog deur die loop van Maandagaand sou stem, maar dit was gedurende die dag beslis stiller as gewoonlik.
In Thabong het die hoofbeampte, Veronica Sesing, gesê dit is vir haar ook stiller as met vorige plaaslike verkiesings.
Sy het gesê sy hoop mense kom teen laatmiddag stem sodat die stempersentasie, wat Maandagmiddag maar op 20% gestaan het, hoër sal wees.
Happy Letsitsa, 'n boer van Welkom, het gesê hy het mense probeer aanmoedig om te stem, maar hulle is keelvol en weier.
"Hulle is baie kwaad oor die water; van die mense was twee weke lank sonder water."
Susan Taljaard, 'n VF Plus-kandidaat, het gesê in Welkom het die stemmery in die meeste wyke baie traag verloop.
In wyk 27 het net 365 uit 1 307 kiesers teen Maandagmiddag gaan stem, en in wyk 32 net 614 mense uit 'n totaal van 1 738 kiesers.
Taljaard het gesê ook sy meen dit is kiesers se manier om die ANC te straf. Sy het gesê die gemoedere loop hoog in Welkom ná die afgelope twee weke se waterprobleme en mense sê openlik hulle sal nie stem nie.
'n Onbekende man het kiesers buite die stemlokaal in die laerskool in Hennenman glo gedreig.
Louanne Daffue, 'n DA-kandidaat, het gesê 'n man het stilgehou by die DA se tent en aan die party se ondersteuners wat by haar gestaan het, gesê hy weet waar hulle woon.
Daffue het die OVK-amptenare se aandag daarop gevestig, waarna die man weggery het.

















