Nie eens die helfte van die geregistreerde kiesers in Limpopo het Maandag hul kruisies in die plaaslike verkiesing gaan trek nie.
Teen Dinsdagmiddag het Nkaro Mateta, hoofbeampte van die OVK in Limpopo, gesê 42,9% van die 2 585 080 geregistreerde kiesers het gestem.
Al die stemme is egter nog nie getel nie, maar volgens Mateta sal dit teen Dinsdagaand getel wees.
Sy het gesê weens probleme met internetverbindings was geen stemme nog teen 17:00 in die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit getel nie.
Luidens die OVK se inligting lyk dit nie asof die politieke landskap in Limpopo veel gaan verander nie.
Die ANC kraai steeds koning in die meeste van die 22 munisipaliteite met 66,55% van die steun teen Dinsdagmiddag laat. Dit lyk asof die EFF met 13,61% steun teen Dinsdagmiddag steeds die amptelike opposisie in Limpopo sal wees.
Die DA het 8,48% en die VF Plus het 2,61% van die stemme.
In 'n verrassende wending het die VF Plus wyk 5 in Mookgophong by die DA afgevat.
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo en lid van die provinsiale wetgewer, het Dinsdagmiddag gesê die VF Plus het nou drie setels in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit. In die plaaslike verkiesings in 2016 het die party net twee setels gehad.
Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is slegs een van twee munisipaliteite in Limpopo wat deur 'n koalisieregering beheer word. Marlene van Staden was sedert 2016 die DA-burgemeester van die munisipaliteit.
Die uitslae van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is vroeg Dinsdagaand bekend gemaak. Die ANC het 14 van die 28 setels, oftewel 49,83%, gekry. Die DA het sewe setels (23,17%) gekry, die EFF het vier setels (14,66%) en die VF Plus het drie setels (10,28%) gekry.
Die Thabazimbi-munisipaliteit is ook sedert 2016 deur 'n koalisie regeer nadat die DA, VF Plus, EFF en die Thabazimbi-belastingbetalersvereniging kragte saamgesnoer het om die beheer by die ANC oor te vat. Die uitslae van Maandag se plaaslike verkiesings daar is nog nie bekend nie.
Daar was Maandag 3 191 stempunte in Limpopo.
Itumeleng Seanego, bestuurder van die OVK in Limpopo, het gesê 87% van die stempunte het betyds om 07:00 geopen.
Van die enkele probleme wat in Limpopo aangemeld is, was 'n bestuurder van die OVK wat Maandagoggend buite Louis Trichardt met sy motor teen 'n bees vasgery het. Die bestuurder is ongedeerd, maar die ongeluk het veroorsaak dat die stemmery laat begin het.
Seanego het gesê 'n OVK-beampte in Botlokwa, sowat 50 km buite Polokwane, is afgedank nadat sy glo 'n stemboks oopgemaak het sodat 'n kieser wat na bewering 'n fout op sy stembrief gemaak het, dit kon regstel.
"Dit is heeltemal onaanvaarbaar en kan nie geduld word nie. Die betrokke stemboks is verwyder en die OVK is besig met 'n ondersoek," het Seanego gesê.



















