Die VF Plus in Gauteng het rede om te glimlag nadat hy daarin geslaag het om sy steun in Lesedi en Midvaal te laat groei.
Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, het by navraag gesê hoewel die party nie 'n wyk in Lesedi of Midvaal by die DA of ANC kon afneem nie, het die party wel steun van die DA en die ANC afgerokkel.
"Dis nie net wit kiesers wat vir ons gestem het nie, maar ook swart en bruin kiesers. Die kiesers is keelvol vir slegte diens en wil verandering sien."
Die kiesersopkoms in die Lesedi-munisipaliteit in die suide van Gauteng het met meer as 10% gedaal. Uit die 47 853 geregistreerde kiesers het slegs 24 576 (51,36%) hul kruisies in die 2021- munisipale verkiesings getrek. In 2016 het 30 805 (63,73%) uit die 48 336 geregistreerde kiesers gestem.
In Lesedi het die VF Plus se steun met byna ses persentasiepunte geklim tot 9,04%. Die EFF se steun het gegroei van 10% in 2016 tot 13,53% in 2021.
Dis nie net wit kiesers wat vir ons gestem het nie, maar ook swart en bruin kiesers. Die kiesers is keelvol vir slegte diens en wil verandering sien.
Met 26 setels wat in die Lesedi-munisipaliteit (Devon, Heidelberg, Nigel, Vischkuil) op die spel is, het die ANC 13 gewen, die DA vyf, die EFF vier, die VF Plus drie en die nuweling SEFM het een setel gewen. Sowel die ANC as die DA se steun het hier gedaal. Die ANC het 50,34% van die stemme op hom verenig teenoor 2016 se 62,1%. In 2016 het die DA 23,77% van die stemme gekry teenoor 20,32% vanjaar. Die ANC sal nou met partye gesels om 'n koalisieregering in die munisipaliteit te vorm.
Die ANC se hoof van regskwessies en kontrolering in die provinsie, Ezra Letsoalo, het by die Verkiesingskommissie se provinsiale operasionele sentrum in Alberton gesê hulle sal eers later meer duidelikheid gee oor 'n koalisieregering in Lesedi.
Met die uitslag wat nog in die ander munisipaliteite in die munisipaliteit verwag word, het Letsoale gesê hulle is tevrede met die resultate in die drie metro's.
Dit lyk of die DA beheer gaan hou in Midvaal waar die party se steun gegroei het. Sowat 90% van die stemme is getel.
Die DA se steun het van 59,7% in 2016 tot 62,74% gegroei, die VF Plus van 2,99% tot 6,33% en die EFF van 4,8% tot 4,99%. Die ANC se steun het met meer as 10% afgeneem van 32,08% in 2016 tot 21% in vanjaar se munisipale verkiesings.
Khume Ramulifho, Gautengse DA-LPW, het gesê die DA is baie bly oor Midvaal se steun.
"Ons het in Midvaal gegroei en dis 'n teken dat die kiesers tevrede is met ons diens daar."
In die drie metro's - Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni - vaar die nuweling ActionSA betreklik goed. Lerato Ngobeni, die party se nasionale woordvoerder, sê hulle is geweldig aangemoedig, geïnspireer en selfs meer vasbeslote om voort te gaan om die werk te doen om die land reg te ruk.
Teen Dinsdag kort voor 20:00 was ActionSA in die derde plek met 17,32% van die 29% van stemme in die Johannesburg-metro wat reeds getel is. Die ANC het 37,14% van die stemme op hom verenig en die DA is in die tweede plek met 22,04%. Die EFF het 12,56%.
Met 38% van die stemme wat getel is in Ekurhuleni loop die ANC voor met 36,85%, gevolg deur die DA (30,8%), die EFF (13,26%), ActionSA (6,3%) en die VF Plus (3,73%).
In Tshwane is nog net 19% van die stemme getel en die DA het sover die voortou geneem met 38,87% van die stemme, gevolg deur die ANC (29,07%). Die EFF en die VF Plus is kop aan kop met onderskeidelik 9,31% en 9,18% en ActionSA met 7,24%.
Ramulifho het gesê sover is hulle tevrede met die uitslag in Gauteng en wag nog in spanning op die res van die uitslae.


















