Spesiale kiesers kan Maandag nog stem

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Alex Cumming het Saterdag sy stem uitgebring by die AGS-Kerk in Fairbridge, Kariega (Uitenhage) in die Nelson Mandelabaai-metro.   Foto: Lulama Zenzile
Alex Cumming het Saterdag sy stem uitgebring by die AGS-Kerk in Fairbridge, Kariega (Uitenhage) in die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Lulama Zenzile

Kiesers wat geregistreer het vir spesiale stemme, maar vir een of ander rede nie die naweek hul stem kon uitbring nie, kan steeds Maandag aan die plaaslike verkiesing deelneem.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het Sondagmiddag sowat 'n uur voor die sluiting van stemlokale in 'n verklaring gesê tussen 50% en 70% van die tuisbesoeke vir die rekordgetal 1,1 miljoen kiesers wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het, is voltooi.

In die Oos-Kaap het meer as 201 000 kiesers vir spesiale stemme aansoek gedoen, waarvan 113 584 hul stemme tuis wil uitbring.

Verskeie politici het ook die geleentheid gebruik om hul stemme die afgelope naweek by stemlokale uit te bring.

Kayakazi Magudumana, die OVK se verkiesingsbeampte in die Oos-Kaap (PEO), het Sondagmiddag omstreeks 16:00 gesê hul beamptes sal selfs nog ná 17:00, wanneer stemlokale amptelik sluit vir die laaste dag van spesiale stemme, voortgaan met tuisbesoeke vir geregistreerde kiesers om hul stemme uit te bring.

"Dit is dieselfde konsep wat ons by (stem)lokale gebruik, waar enigeen wat na 17:00 binne die stemlokaal is, toegelaat word om te stem," sê Magudumana.

Sonder om uit te wei op statistieke, sê Magudumana daar is gevalle waar die OVK-beamptes Saterdag en Sondag by dooiemansdeur van kiesers opgedaag het.

"Ons doen 'n beroep op dié kiesers om hul eie stemlokale môre (Maandag) te besoek. Hulle sal toegelaat word om hul stem uit te bring, omdat hulle op die kiesersrol van die wyk sal wees waar hulle geregistreer het."

Volgens Magudumana het die stemmery Saterdag in die provinsie met slegs etlike probleme begin, in vergeleke teenoor die vorige verkiesings.

"Ons het drie lokale gehad wat nie betyds kon open nie, as gevolg van protesoptrede deur gemeenskapslede.

"Maar weens die ingryping van veiligheidsmagte is die protesoptrede beëindig en ons kon voortgaan met die werk."

Die betrokke stemlokale is onderskeidelik in die Ngqushwa-, Nyandeni- en Matatiele-munisipaliteit geleë.

Magudumana het Sondag gesê die Oos-Kaap is gereed om Maandag die stemlokale om 07:00 te open. Stemlokale sal tot 21:00 oop wees, waarna beamptes met die tel van die stemme sal begin.

Alex Cumming en sy vrou, Sarah, gooi hul stembrief in die boks nadat hulle Saterdag in Kariega hul stemme uitgebring het. Foto: Lulama Zenzile
Alex Cumming en sy vrou, Sarah, gooi hul stembrief in die boks nadat hulle Saterdag in Kariega hul stemme uitgebring het. Foto: Lulama Zenzile

"Ons is van plan om die vaslegging van uitslae op die aand van die verkiesing te voltooi," het sy bygevoeg.

Nomakhosazana Meth, Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, het op haar beurt ook kiesers versoek om gesondheidsmaatreëls te gehoorsaam midde die heersende koronaviruspandemie.

"Onthou ons leef in 'n nuwe normaal- die era van Covid-19. Voordat jy die stemlokaal binnegaan, maak seker jy gebruik 'n alkohol-gebaseerde handreiniger en verseker jou masker bedek jou neus en mond.

"Indien jy aan enige iets binne die stemlokaal vat, maak seker jy gebruik weer die handreiniger," het Meth gesê.

Hoewel penne binne die stemlokale beskikbaar sal wees, word kiesers aangemoedig om hul eie pen saam te neem.

SPELETJIES VANDAG

CTA