8 maniere hoe begroting nr. 3 jou sak raak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Peperduur skemerkelkies wen veld, al drink mense minder alkohol. Foto: Unsplash
Peperduur skemerkelkies wen veld, al drink mense minder alkohol. Foto: Unsplash

Die BTW-verhoging wat in Maart se begroting voorgestel is, is beslis iets van die verlede, maar hoe gaan die nuwe voorgestelde begroting jou sak raak?

1. Pyn by die vulstasie van Junie af

'n Inflasieverwante verhoging in die brandstofheffing word van 4 Junie af voorgestel. Die algemene brandstofheffing was die afgelope drie jaar onveranderd om verbruikers verligting te gee van die hoë inflasie wat geheers het, ook op brandstof.

Om 'n gedeelte van die verlore inkomste te vervang weens die BTW-verhoging wat wegval, word die algemene heffing per liter so verhoog:

• vir petrol met 16c van R3,85 tot R4,01; en

• vir diesel met 15c van R3,70 tot R3,85.

Dit was nie in Maart met die tweede begrotingsvoorstel beoog nie.

2. Geen belastingverligting

Soos met die Februarie- en Maart-begroting is daar geen verligting in persoonlike inkomstebelasting nie.

Dit is omdat die belastingkerwe nie met die inflasiekoers aangepas word nie.

Dit beteken jou salarisverhoging kan jou opskuif na 'n belastingkerf met 'n hoër belastingkoers.

Die drempels en -kortings vir belasting op persoonlike inkomste is ook sedert 2023 nie aangepas nie.

Die belastingdrempel vir individue jonger as 65 jaar is R95 750 vir die belastingjaar tot einde Februarie 2026.

Dié maatstaf gaan na raming R15,5 miljard se ekstra persoonlike inkomstebelasting tap uit individue in die belastingjaar tot einde Februarie 2026.

Al die belastingmaatstawwe wat in die begrotingsoorsig aangekondig is, gaan R18 miljard insamel, wat beteken die meeste kom hieruit.

3. Mediesefondslede ly

Geen inflasieverhoging in mediesebelastingkrediete kom nie. Dit is 'n belastingkrediet wat belastingverligting aan mediesefondslede gee. Wanneer die belasting betaalbaar deur 'n persoon bereken word, kan dié bedrag afgetrek word.

Dit bly R364 per maand vir die eerste twee persone wat deur 'n mediese fonds gedek word en R246 vir elke bykomende afhanklike. Die ekstra belasting hieruit is R1,2 miljard.

4. Geen nuwe produkte van BTW vrygestel

Die voorstel in Maart om verligting aan armes te bied deur nog noodsaaklike voedselprodukte van BTW vry te stel word teruggetrek. Daar sou 21 items bygevoeg word by die lys van produkte waarop nie BTW gehef word nie. Dit sou byvoorbeeld afval en blikkiesgroente ingesluit het.

5. Betaal vir jou sondes

Die aksyns op drank en tabak se verhoging bo inflasie bly soos in Maart aangekondig is.

• Op 'n 340 ml-blikkie bier styg dit van R2,31 tot R2,47 (afgerond).

• Op 'n 750 ml-bottel brandewyn styg dit van byvoorbeeld R88,49 tot R94,46.

• Op 'n 750 ml-bottel wyn styg dit met 29c en op vonkelwyn met 90c.

Die verskil is nou omdat die inflasiekoers intussen laer is, is die reële verhoging in die aksyns op die produkte meer as wat dit in Maart was.

• Op 'n pakkie van 20 sigarette styg die aksyns met 4,75% van R21,77 tot R22,81. Die reële verhoging is 0,67%.

• Vir verhitte tabakstokkies styg dit tot 77c per pakkie van 20.

• Die aksyns op sigare en pyptabak styg met 6,75%.

Die aksyns wat die staat met alle sondebelastingverhogings invorder is R1,3 miljard.

6. Huiskopers gehelp

Soos in Maart se begrotingsoorsig voorgestel is, word die drempels vir hereregte met die koop van eiendom opwaarts aangepas om vir inflasie voorsiening te maak. Dit het April in werking getree.

Voorheen sou die eerste R1,1 miljoen van die waarde van die aangekoopte eiendom sonder hereregte wees. Dit is nou R1,21 miljoen.

Die ander kerwe is ook aangepas.

7. Volgende jaar dalk nóg belasting

Wat beskryf is as "bykomende belastingmaatreëls" kom in volgende jaar se begroting.

Wat dit is, is nog nie bekend nie, maar die staat wil volgende jaar R20 miljard ekstra daarmee insamel.

Die minister van finansies sal dit in die 2026-begroting aankondig, behalwe as Jan Taks sy sokkies optrek met die insameling van belastingskuld.

8. Geen verligting vir arm oues

Die inkomstebelastingdrempels vir individue bo 65 jaar en die kortings op persoonlike inkomste is ook nie sedert 2023 aangepas nie.

Die bedrag wat 'n individu bo 65 jaar kan verdien voordat daar vereis word dat belasting vir die belastingjaar tot einde Februarie 2026 betaal word, bly dus dieselfde. Dit is R148 217 vir mense tussen 65 jaar en 74 jaar en R165 689 vir oueres.

- nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA