Die kanse op sukses vir staatsamptenare wat hul oog op vroeë aftrede het, is nou die helfte kleiner.
Hoewel die regering se program vir vroeë aftrede vir staatsamptenare van 55 en ouer voortduur, is die teikens en begroting daarvoor gehalveer, blyk uit die nasionale begroting.
Die staat wil met dié program die staatsalarisrekening bestuur deur jonger mense teen intreevlaksalarisse na die staatsdiens lok.
'n Bedrag van R11 miljard is aanvanklik vir die volgende twee boekjare vir vroeë aftrede opsygesit en 30 000 staatsamptenare is daarvoor geteiken.
Al gaan die program voort, is die toewysing daarvoor afwaarts aangepas vanaf R11 miljard wat in die 2024-mediumtermynbegrotingsraamwerk geraam is, na R5,5 miljard vir die huidige en komende boekjaar.
Die tesourie het Woensdagoggend op vrae hieroor gesê die vorige teiken van 30 000 staatsamptenare om van die projek gebruik te maak, is nou na 15 000 aangepas.
Besprekings is tans aan die gang met vakbonde oor die proses in die bedingingsraad vir die staatsdiens. Die toewysing sal herbekyk word ná die afhandeling van die konsultasies as deel van die volgende begrotingsproses, hoewel funksies wat nie deel is van die proses in die bedingingsraad nie - soos die departement van verdediging - kan voortgaan met die toepassing daarvan.
Die proses het ten doel om die staatsalarisrekening te help bestuur.
Staatsamptenare van 55 jaar en ouer word as deel van die program aangespoor om af te tree, wat ten doel het om besteding aan vergoeding te temper namate nuwe rekrute die staatsdiens met intreevlak-salarisse betree.
Voorlopige besparings sou gemiddeld R7,1 miljard per jaar op die medium- tot lang termyn beloop het. Dié besparings gaan volgens die tesourie ook nou gehalveer word na rofweg R3,5 miljard per jaar.
- philda.essop@24.com





















