Die waarde van die beleggings wat in die pypleiding is vir die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) vir die volgende vyf jaar, trek by R18 miljard, het Andrew Whitfield, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, Vrydag met sy besoek aan die SEZ gehoor.
Hy het met die bestuurspan van die Atlantis SEZ vergader en het 'n voorlegging bygewoon oor onder meer die bedrywighede van die SEZ, waaronder die uitbreiding van infrastruktuur, voornemende beleggers sowel as inisiatiewe wat op vaardighede, ondernemings en die gemeenskap gerig is.
Hy het 'n toer van die bouperseel onderneem waarvan grootmaat-infrastruktuur deur die fonds vir spesiale ekonomiese sones van sy departement ter waarde van R115 miljoen gefinansier is.
Hy het Everflo, 'n gevestigde vervaardiger van nywerheidsverkoeling en verkoelingseenhede wat nie aan die kragnetwerk gekoppel is nie en wat na landelike dele van Afrika ontplooi word, ook besoek. Everflo voer 90% van sy vervaardigde produkte van Atlantis af uit.
Die Atlantis SEZ is een van die aangewese spesiale ekonomiese sones in die land. Dit is gevestig as 'n vervaardigingspilpunt vir groentegnologie in reaksie op die regering se program vir onafhanklike kragaankope vir hernubare energie.
Die departement het vroeër in 'n verklaring gesê die Atlantis SEZ dryf uitvoer en werkskepping deur die ondersteuning van geteikende bedrywe in die waardeketting vir hernubare energie.
Whitfield het in 'n verklaring wat ná sy besoek uitgereik is sy tevredenheid uitgespreek oor die vordering by die SEZ om beleggings te lok, vervaardiging uit te brei en werksgeleenthede in die plaaslike gemeenskappe te skep.

Hy was beïndruk deur voorleggings van die bestuurspan en hul planne vir die toekoms, asook die beleggings wat hulle die afgelope paar jaar vir die SEZ verkry het.
Die Atlantis SEZ pas 'n geïntegreerde ekosisteem-ontwikkelingsmodel toe wat die gemeenskap en die ontwikkeling van vaardighede en ondernemings behels.
"Dít is 'n groot deel van die departement se verantwoordelikheid vir inklusiewe ekonomiese groei. Wat ons by die Atlantis SEZ gesien het, is innoverende groentegnologie-produkte wat aan die voorpunt is van uitvoer na die internasionale mark, maar ook die insluiting van plaaslike gemeenskappe en vaardigheidsontwikkeling en die bemagtiging van vroue om ongelooflik belangrike funksies in die ondernemings te verrig," het Whitfield opgemerk.
Matthew Cullinan, uitvoerende hoof van die Atlantis SEZ, het luidens die verklaring gesê hul verhouding met die departement is kritiek vir die sukses van die sone.
Vrydag se besoek illustreer volgens hom die ondersteuning van die nasionale regering vir die groenekonomie wat die fokus is van die Atlantis SEZ. Die mandaat van die Atlantis SEZ is om groentegnologie en belegging in agri-ondernemings te mobiliseer. Dit sluit hernubare energie, energie-berging, agri-verwerking en die herwinningsektor in.



















