Cosatu eis dringende ingryping ná bourampe waarin 38 sterf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Optog van Cosatu voorheen in Durban.  Foto: Gallo Images
’n Optog van Cosatu voorheen in Durban. Foto: Gallo Images

Die vakverbond Cosatu eis dringende ingryping ná die onlangse konstruksie-rampe in George en Ballito waarin 38 mense dood is.

Die vakverbond het Woensdag in 'n verklaring gesê hy is diep verontrus en wil dringend met Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, vergader oor omvattende ingrypings om werkers te beskerm.

Saterdag is vier konstruksiewerkers in Ballito, KwaZulu-Natal, dood toe 'n sandbank en muur op 'n bouperseel ineengestort het. 'n Vyfde man het wonderbaarlik oorleef. In George is 34 mense dood toe 'n woonstelblok wat in aanbou was op 6 Mei ineengestort het.

Matthew Parks, die vakverbond se waarnemende nasionale woordvoerder, sê terwyl Suid-Afrika duidelike en progressiewe beroepsgesondheids-, veiligheids- en bouregulasies het, dui die rampe op 'n stelsel wat nie werk nie.

Parks sê terwyl die oorsake van die ongelukke nog bevestig moet word, is die werkers oënskynlik aan onveilige toestande blootgestel.

Die reddingspogings in Ballito is afgelas weens verdere ineenstortings en dit lyk nie asof inspeksie gedoen is om vas te stel of die perseel veilig is nie. Dit lyk ook nie asof grondverskuiwings voorsien is of hoe om dit te voorkom nie, sê Parks.

Van die ingrypings wat Cosatu vra, is dat werkgewers seker maak die families van die oorledenes ontvang die nodige vergoeding en dat die beseerde werkers die nodige gesondheidsorg en vergoeding ontvang totdat hulle kan terugkeer werk toe.

Die vakverbond vra dat die ondersoeke na die voorvalle versnel word en as iemand aanspreeklik is, hulle verantwoordbaar gehou word en dat die departement en georganiseerde arbeid landwyd kyk na veiligheid en gesondheid in hoërisiko-sektore soos die konstruksiesektor.

Die getal arbeids-, gesondheids- en veiligheidsinspekteurs landwyd moet ook verdubbel word.

Navrae is aan die departement van indiensneming en arbeid gerig en die kommentaar sal bygevoeg word wanneer dit ontvang word.

SPELETJIES VANDAG

CTA