In William Shakespeare se komedie Die koopman van Venesië bevind ene Antonio hom in die moeilikheid.
Ten einde sy arm vriend Bassanio finansieel te help sodat laasgenoemde die beeldskone Portia se hart kan wen, het Antonio ingestaan as borg vir die lening teenoor die geldskieter Shylock.?Antonio beloof dat, indien die skuld nie binne drie maande terugbetaal word nie, Shylock op 'n pond van Antonio se eie vlees geregtig sal wees.
Antonio meen sodra sy skepe in die hawe aankom die lening gemaklik terugbetaal sal word.
Nodeloos om te sê,?Shakespeare bewerk die saak só dat Antonio se skepe vergaan en die skuld kan nie terugbetaal word nie. Shylock dring aan op nakoming van die ooreenkoms: The pound of flesh which I demand of him is dearly bought; 'tis mine and I will have it.
Verbeel jou dat 'n eienaar wat vandag agterstallig raak met?sy heffings in 'n deeltitelskema aan 'n soortgelyke lot onderwerp kon word!
Daar sou waarskynlik minder regspersone wees wat gebuk gaan onder die las van agterstallige heffings, maar - grappies op 'n stokkie - om arms of bene af te sny ter vereffening van skuld is nie 'n aanvaarbare oplossing nie.?
Die Suid-Afrikaanse reg sal 'n ooreenkoms soos dié tussen Antonio en Shylock beskou as contra bonos mores("teen die goeie sedes van die samelewing"), en derhalwe as ongeldig en onafdwingbaar. Daar is ook jare gelede reeds afgesien van tronkstraf vir skuldenaars wat versuim om hofbevele na te kom wat hul gelas om hul skuld te betaal.?
Trouens, moderne regstelsels ag genade aan debiteure as net so belangrik soos skuldeisers se reg op skuldinvordering.??
Een van die maatreëls in die Suid-Afrikaanse reg wat poog om 'n balans tussen skuldeiser en skuldenaar se regte te bewerkstellig, is die Wet op Verjaring 18 van 1969. Art. 11 van die wet bepaal in effek dat gewone skuld sal verjaar (verval) drie jaar nadat die bedrag verskuldig geraak het. Die bepaling sal byvoorbeeld heffingskuld geld. Daar is wel langer verjaringstydperke vir sommige soorte skuld, byvoorbeeld skuld wat deur 'n verband oor onroerende eiendom verseker is en vonnisskuld (skuld waarvoor gedagvaar en 'n hofbevel - of CSOS-bevel - bekom is). Dié soorte skuld verjaar eers ná 30 jaar.
Met die eerste oogopslag blyk dit dus dat die trustees van 'n deeltitelskema se regspersoon drie jaar tyd het, bereken van datum dat 'n eienaar se heffingskuld agterstallig geraak het, om regsaksie ter invordering van die skuld in te stel. Onsekerheid oor die interpretasie van die wet rakende 'n bepaalde uitsondering, soos beskryf in die Engelse weergawe van die Verjaringswet, het egter gelei tot 'n onlangse hofuitspraak.
Die Verjaringswet voorsien 'n aantal uitsonderings wat daartoe sal lei dat die tikkende horlosie van verjaring tydelik gestop word. Anders gestel, daar is sekere omstandighede waaronder verjaring gestuit word sodat die datum waarop die skuld volgens wet sou verjaar, uitgestel word tot 'n latere datum.
Die uitsondering wat van direkte belang is ten aansien van deeltitelskemas, word in art. 13(1)(e) aangestip. Hiermee 'n opsommende aanhaling uit die Afrikaanse weergawe van die wet:
"Indien die skuldeiser 'n regspersoon is en die skuldenaar 'n bestuurslid van daardie regspersoon, . . . word die verjaringstermyn nie voltooi voordat 'n jaar verstryk het vandat die persoon opgehou het om sodanig 'n bestuurslid te wees, nie."
Dié bepaling verhoed dat 'n persoon wat beheer kan uitoefen oor die proses van regsaksie teen hom uit hoofde van daardie magsposisie dit só bewimpel dat sy skuld verjaar.
Dink byvoorbeeld aan die direkteur van 'n maatskappy wat aan daardie maatskappy geld skuld; as dit nie vir a 13(1)(e) van die Verjaringswet was nie, sou hy deur manipulasie van sy mededirekteure die uitreiking van dagvaarding teen hom onbepaald kon uitrek.
Dit is vir doeleindes van vandag se bespreking belangrik om daarop te let dat die woord "regspersoon'" soos hierbo aangehaal nie verstaan moet word in die eng sin van die woord, soos ons die begrip vandag direk met deeltitelskemas vereenselwig nie. Nee, die woord soos dit in die Verjaringswet gebruik word, het 'n wyer betekenis. Dit verwys na enige entiteit wat met regspersoonlikheid beklee is, soos byvoorbeeld ook 'n maatskappy. Vandag sal ons dalk eerder die anglisisme "juridiese persoon" vir hierdie doel aanwend. (Die Verjaringswet is in 1969 op die wetboek geplaas, terwyl die eerste Deeltitelwet, waar die woord "regspersoon'" sy bepaalde betekenis in die deeltitelkonteks gekry het, in 1971 gepromulgeer is.)
Die Engelse weergawe van art. 13(1)(e) lui dat wanneer the creditor is a juristic person and the debtor is a member of the governing body of such juristic person . . . (dan word verjaring uitgestel soos hierbo beskryf).
In die konteks van agterstallige heffings in deeltitelskemas is die Engelse weergawe van hierdie artikel in die Verjaringswet se betekenis nie so duidelik soos in die Afrikaans nie, want wat beteken dit to be a member of the governing body of such juristic person? Is 'n eienaar sodanige persoon of slegs iemand wat 'n trustee is?
Onsekerheid oor die betekenis van die Engelse artikel se bewoording het gelei tot 'n saak wat onlangs in die hooggeregshof beslis is, naamlik Ashu en 'n Ander teen die Regspersoon London Place en andere 2025(1) SA 147 WCC. (Terloops: As die partye tog maar net die Afrikaanse weergawe van die Verjaringswet geraadpleeg het, sou dit nie nodig gewees het om die hof te nader vir 'n verklarende bevel oor die interpretasie van art. 13(1)(e) nie.)
In die onderhawige saak het mnr. A en mev. A tussen die jare 2011 en 2016?aansienlike heffingskuld ("historiese skuld") opgeloop, asook daarna. Die regspersoon het nooit regsaksie geneem om die agterstallige heffings in te vorder nie, maar toe mnr. A onlangs sy aandeel in die eiendom ingevolge 'n egskeiding-skikkingsakte aan mev. A verkoop het, het die trustees geweier om 'n heffingsuitklaringsertifikaat, soos vereis deur die Akteswet, uit te reik en kon die oordrag daarom nie plaasvind nie.
Met verwysing na die Engelse weergawe van die Verjaringswet het mnr. A die hof genader met drie versoeke:
- 'n Verklarende bevel tot dien effek dat governing body vir doeleindes van art. 13(1)(e) "die trustees" beteken, en nie die regspersoon as sodanig nie;
- En gevolglik, omdat hy nooit 'n trustee was nie en bloot net 'n eienaar, dat die historiese skuld reeds verjaar het; en
- Dat die trustees van die regspersoon daarom deur die hof beveel moet word om die uitklaring uit te reik sodat die eiendomsoordrag kan plaasvind.
Die hof (wat volgens alle aanduidings ook nie bewus was van die duideliker Afrikaanse bewoording nie) het gelukkig tot die regte gevolgtrekking gekom, naamlik dat vir doeleindes van die Verjaringswet die trustees as die governing body beskou word.
Mnr. A was nooit 'n trustee nie, net 'n eienaar. Verjaring is dus nooit gestuit nie, en die historiese skuld het gevolglik verjaar.
Omdat mnr. A se huidige heffings egter ook agterstallig was (en wat dus nog nie verjaar het nie) het die hof egter beveel dat die trustees nie verplig word om 'n heffingsuitklaring uit te reik nie.
Om die lang storie kort te maak: Trustees in deeltitelskemas moet sorg dat hulle betyds stappe doen om agterstallige heffings in te vorder. Heffingskuld verval ná drie jaar, behalwe waar die skuldenaar ook 'n trustee is, in welke geval verjaring gestuit word en die heffingskuld op die vroegste sal verval 'n jaar nadat die persoon opgehou het om 'n trustee te wees.
Ten slotte dan: Gewapen met basiese regskennis en goeie bestuurspraktyke kan regspersone, soos Shakespeare se Antonio, hoop op 'n gelukkige einde waar skuld betaal word en geen bloed hoef te vloei nie.
Onthou ook, wanneer daar onsekerheid oor die interpretasie van wetsbepalings ontstaan, dat daar in die geval van ouer wetgewing moontlik nog 'n Afrikaanse weergawe van die wet is wat lig op die saak kan werp!











