Eiendomme

DEELTITELFORUM: Honderd en nie uit nie!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: GESKEP DEUR TOQAN KI
Illustrasie: GESKEP DEUR TOQAN KI

Die Proteas se klinkklare krieketoorwinning teen Australië verlede maand op Lord's het Suid-Afrikaners groot vreugde verskaf.

Dit is met dieselfde soort genoegdoening dat kollega Maryna Botha en ek, Lizelle Kilbourn, vandag ons "honderdtal" in Die Burger se Deeltitelforum-rubriek vier.

Dit is 'n voorreg om in ons moedertaal te kan skryf oor regsake, veral gesien in die lig van die feit dat hierdie aflewering geskied in die jaar waarin Afrikaans se honderdste amptelike verjaardag (Mei 2025) gevier word.

Dit laat ons met 'n gevoel van dankbaarheid wat herinner aan wat Antjie Krog onder andere oor 'n lojale maat skryf in haar gedig "Omdat":

My kers brand

omdat jy kaalvoet saam met my

deur die dorp loop

en wag as ek iets in 'n

supermark koop

omdat jy pouses vir my brood gee,

smiddae vir my wiskunde verduidelik

en soms oor my skoon hare vee.

(Uit: Eerste Gedigte (1994)

Deeltitelforum-rubriek nr. 100 word gewy aan 'n lys en opsomming van ons artikels wat vanaf aanvang op 27 Mei 2023 tot op hede gepubliseer is.

Dankie aan die lesers wat ons rubriek lees, navraag doen, saamgesels en ons dikwels laat kopkrap oor oplossings vir deeltitelvraagstukke.

Ons dra hierdie aflewering op aan die nagedagtenis van wyle Tertius Maree wat die rubriek begin het, en daarmee volgehou het tot en met sy afsterwe vyf jaar gelede in April 2020.

Ten slotte is dit vir ons aangenaam om lesers mee te deel dat Die Burger beplan om die genoemde 100 artikels in 'n bundel te publiseer, wat in die afsienbare toekoms saam met die Saterdagkoerant aan lesers versprei sal word.

#1 Deeltitelskema gee aan elk sy regte Saterdag 27 Mei 2023 - Maryna Botha:'n Onderskeid word getref tussen voltitel - en deeltitel­eienaarskap.

#2 Waar vind jy die ‘deeltitelbybel?' Saterdag 3 Junie 2023 - Lizelle Kilbourn: Deeltitelwet, Deeltitelbestuurswet, Bestuurs- en gedragsreëls vir die skema, en hofuitsprake.

#3 Wie slaan werklik 'n kompleks-kitaar? Saterdag 10 Junie 2023 - Maryna Botha: Die verdeling van gesag en pligte tussen trustees en eienaars soos in wetgewing gestruktureer.

#4 Trustees besluit só oor sake Saterdag 17 Junie 2023 - Lizelle Kilbourn: Vereistes vir die neem van geldige trusteebesluite.

#5 Stap-vir-stap-gids vir neem van besluite Saterdag 24 Junie 2023 - Maryna Botha: Kommunikasie, kennisgewing, vergadering, notulering.

#6 Mandaat van nader bekyk Saterdag 1 Julie 2023 - Lizelle Kilbourn :Waar begin en eindig die magte en bevoegdhede van trustees?

#7 Wat kan trustees se besluite kelder? Saterdag 8 Julie 2023 - Maryna Botha:'n Bespreking rakende 'n onlangse hofsaak wat oor die geldigheid van 'n bepaalde trusteebesluit aangaande korttermynverhurings handel.

#8 Instandhouding is kardinaal Saterdag 15 Julie 2023 - Lizelle Kilbourn: Gebarste pype en waterlekke: Wie se verantwoordelikheid is die herstel en die dra van die koste van sodanige herstel?

#9 Kopseer vir eienaars, trustees Saterdag 22 Julie 2023 - Maryna Botha:Praktiese voorbeeld oor hantering van 'n waterlek in 'n eenheid en gemeenskaplike eiendom in 'n deeltitelskema.

#10 Wie moet verseker, en wat? Saterdag 29 Julie 2023 - Lizelle Kilbourn:Inleiding tot deeltitelversekering

#11 Is bates korrek verseker? Saterdag 5 Augustus 2023 - Maryna Botha: Bespreking oor vervangingswaarde, die noodsaak van waardasies en vasstelling van versekeringspremies in deeltitelskemas.

#12 Dié drie moet in plek wees Saterdag 12 Augustus 2023 - Lizelle Kilbourn:Deeltitelskemas is verplig om drie soorte versekering uit te neem: strukturele versekering, openbare aanspreeklikheidsversekering en verlies-aan-fondse versekering.

#13 Is dit alleenlik die eienaar se besluit? Saterdag 19 Augustus 2023 - Maryna Botha:Is toestemming van die regspersoon nodig vir aanbouings en opknappings aan eenhede en gemeenskaplike eiendom?

#14 Leser se ondervinding met lekplek Saterdag 26 Augustus 2023 - Lizelle Kilbourn: 'n Gevallestudie wat handel oor die aanspreeklikheid vir herstel van 'n lekplek wat in 'n deel­titeleenheid ontstaan het.

#15 Verskille tussen soorte groepsbehuising Saterdag 2 September 2023 - Maryna Botha: Die verskille ten aansien van regulering en regstrukturering, tussen deeltitelskemas enersyds en skemas wat deur huiseienaarsverenigings bestuur word andersyds, word uitgewys.

#16 Begryp dié verskillende definisies Saterdag 9 September 2023 - Lizelle Kilbourn:Die betekenis van begrippe wat betrekking het op vol­titelskemas, huiseienaarsverenigings, landgoedere, ensovoorts, word verduidelik.

#17 Trustees moet mooi dink Saterdag 16 September 2023 - Maryna Botha: 'n Bespreking oor die uitspraak in 'n onlangse hofsaak: trustees het nie die bevoegdheid om skikkings aan te gaan wat eienaars vrystel van agterstallige heffings nie.

#18 Dit was eens vas; nou los Saterdag 23 September 2023 - Lizelle Kilbourn:Die oorsprong van deeltitelwetgewing is te vinde in die bestaan van die Romeinse Reg-stelreël superficies solo cedit. Die geskiedenis van deeltitelwetgewing en die aard en invloed van dié reël in die Suid-Afrikaanse eiendomsreg word kortliks beskryf.

#19 Wie besluit watter reëls geld? Saterdag 30 September 2023 - Maryna Botha: Inleidende bespreking oor die bestuursreëls en gedragsreëls wat in deeltitelskemas geld en die bron uit hoofde waarvan hierdie reëls hul gesag verkry.

#20 As jy in 'n glashuis woon Saterdag 7 Oktober 2023 - Lizelle Kilbourn:Die rubriek handel oor die ondermynende krag van swak besluite deur trustees en regspersone, wat kan lei tot ongesonde presedente en uiteindelik die deeltitelskema se bestuur destabiliseer.

#21 Hou by reëls, volg stappe Saterdag 14 Oktober 2023 - Maryna Botha: Ongemagtigde aanbouings het onvoorsiene gevolge; die reëls wat nagekom moet word om op 'n wettige wyse strukturele aanbouings aan eenhede te mag aanbring.

#22 Wat presies is 'n aftree-oord? Saterdag 21 Oktober 2023 - Lizelle Kilbourn:Die Wet op Behuisingsontwikkelingskemas vir Afgetrede Persone en die regstrukturering van aftree-oorde word kortliks bespreek.

#23 As die deeleienaar self ingryp Saterdag 28 Oktober 2023 - Maryna Botha: Hoe ver strek eienaars se regte in skemas? Wees versigtig om nie stappe te doen namens 'n regspersoon sonder om aan die wet se voorskrifte gehoor te gee nie.

#24 Maak só vir 'n eie gebruiks­gebied Saterdag 4 November 2023 - Lizelle Kilbourn: Die reg voorsien twee roetes waarvolgens uitsluitlike gebruiksgebiede geskep kan word, naamlik formele registrasie ingevolge artikel 27 van die Deeltitelwet, of via die skema se reëls, soos bepaal in artikel 10(7) van die Deeltitelbestuurswet.

#25 Daar is raad met kortverblyf Saterdag 11 November 2023 - Maryna Botha:Kortverblyf kan probleme in skemas veroorsaak. Die reg bied bepaalde oplossings, maar dit bly 'n aangeleentheid wat versigtig hanteer moet word.

#26 Wie slaan die kitaar? Saterdag 18 November 2023 - Lizelle Kilbourn:Oor watter soort aangeleenthede mag trustees besluite neem, en watter besluite moet deur die lede tydens 'n algemene jaarvergadering geneem word?

#27 Verhuring g'n soos 'n besigheid Saterdag 25 November 2023 - Maryna Botha: Onderskei tussen vereistes vir die skep van bestuursreëls en dié aangaande gedragsreëls om te bepaal of besluite rakende korttermynverhurings geldig is.

#28 Maak so met besluite Saterdag 2 Desember 2023 - Lizelle Kilbourn: Die rubriek lys die vereistes vir die neem van geldige spesiale besluite en dui aan welke soort sake spesiale besluite verg;

#29 As besluite in 'n moeras vasval Saterdag 9 Desember 2023 - Maryna Botha:'n Bespreking wat handel oor die gevalle waar die Gemeenskaps­ombudsdiens (CSOS) van hulp kan wees wanneer dispute ontstaan;

#30 Maak so met die taai besluite Saterdag 13 Januarie 2024 - Lizelle Kilbourn: Die vereistes vir die neem van geldige eenparige besluite word uitgewys en die rubriek noem daardie soort besluite in 'n deeltitelskema wat eenparige instemming vereis.

#31 Maak so as daar onmin is Saterdag 20 Januarie 2024 - Maryna Botha:Trustees moet krapperige onderlinge persoonlike verhoudings reg hanteer en regverdig optree, anders kan die hof teen hulle beslis.

#32 Sewe wenke vir wanneer jy koop Saterdag 27 Januarie 2024 - Lizelle Kilbourn: Wat moet voornemende kopers in 'n deeltitelskema in ag neem om te verseker dat hulle nie vir hulself 'n kat in die sak koop nie?

#33 As sake haper met die bestuursagent Saterdag 3 Februarie 2024 - Maryna Botha:Die regte manier om konflik tussen 'n bestuursagent en die regspersoon te hanteer.

#34 Ontwikkelaar het ook plig Saterdag 10 Februarie 2024 - Lizelle Kilbourn: Die ontwikkelaar se verpligting tot bydrae tot koste aan die regspersoon, beskou deur die lens van 'n onlangse hofsaak.

#35 Keer so dat poppe dans met POPI-wet Saterdag 17 Februarie 2024 - Maryna Botha: 'n Bespreking oor die aard en toepassing van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Wet 4 van 2013) in die konteks van deeltitelskemas.

#36 Raad met onwettige struktuur Saterdag 24 Februarie 2024 - Lizelle Kilbourn:Die wetsvoorskrifte en reëls wat geld ten opsigte van onwettige aanbouings op gemeenskaplike eiendom.

#37 Takel agterstallige skuld gou Saterdag 2 Maart 2024 - Maryna Botha:Trustees moet nie talm met invordering van agterstallige heffings nie.

#38 Eie kragbeleid sal trane spaar Saterdag 9 Maart 2024 - Lizelle Kilbourn: Regspersone word aangemoedig om 'n beleid oor sonpanele en ander kragvoorsieningstoerusting te formuleer en dit as deel van die skema se reëls te integreer.

#39 Eienaars is geregtig op finan­siële inligting van die regspersoon Saterdag 16 Maart 2024 - Maryna Botha: Eienaars in 'n deeltitelskema, synde die lede van die regspersoon en wie se heffingsgeld aangewend word vir die onderhoud en administrasie van die gemeenskaplike eiendom, is geregtig op die regspersoon se finansiële inligting. Bespreking in die lig van 'n onlangse hofuitspraak.

#40 Eenhede word so in stand gehou Saterdag 23 Maart 2024 - Lizelle Kilbourn:Befondsing van uitgawes rakende die gemeenskaplike eiendom se instandhouding geskied ooreenkomstig die regspersoon se jaarlikse goedgekeurde begroting. Die vereiste geld word ingesamel in die vorm van heffingsinkomste. Heffingsbydraes bestaan uit twee dele, naamlik 'n "admin"- oftewel operasionele komponent en 'n reserwefondskomponent.

#41 Dís wat bykom vir eienaar Saterdag 30 Maart 2024 - Maryna Botha:Deeltiteleienaarskap behels nie slegs die besit van 'n fisieke deeltiteleenheid nie, maar ook van 'n onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike eiendom in die skema. Hierdie regstrukurering is uniek aan die konsep van deeltiteleienaarskap, en die twee fasette kan nie van mekaar geskei word nie. Die besit van 'n onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike eiendom gaan gepaard met bepaalde voorregte asook verantwoordelikhede.

#42 Volg hierdie stappe voor veranderinge Saterdag 6 April 2024 - Lizelle Kilbourn: 'n Stap-vir-stap bespreking oor die regsvereistes wat gevolg moet word wanneer 'n eienaar sy deeltiteleenheid wil vergroot, of soos dit in regsterme bekendstaan, die uitbreiding van 'n deeltiteleenheid.

#43 Trustees nie net 'n ‘kliek wat ledig sit' Saterdag 13 April 2024 - Maryna Botha:Die magte en verantwoordelikhede van trustees word uiteengesit. Selfs al is 'n bestuursagent aangestel, bly trustees in die laaste instansie verantwoordelik. Eienaars het ook 'n rol te speel.

#44 Dink mooi oor wysigings aan reëls Saterdag 20 April 2024 - Lizelle Kilbourn: Faktore wat die wysiging van reëls beïnvloed, stappe om regsgeldigheid te verseker, en beskrywing van die wyse waarop die besluit ter wysiging geneem word.

#45 Protokol, huisreëls en voorskrifte Saterdag 27 April 2024 - Maryna Botha:Die reëls van 'n skema het die status van wetgewing vir daardie bepaalde skema. Geen reëls is geldig indien dit nie wettiglik in die bestuurs- of gedrags­reëls vervat is nie. Toepassing van die reëls is onontbeerlik vir goeie administrasie.

#46 Maak só met beveiliging, noodplanne Saterdag 4 Mei 2024 - Lizelle Kilbourn: Die verpligting tot, en belang van goedgeformuleerde noodplanne en gereelde hersiening van brandweerplanne of brandplanne, ook vir versekeringsdoeleindes.

#47 Agente in skemas: Is daar voorkeur? Saterdag 11 Mei 2024 - Maryna Botha:Mag trustees besluit welke eindomsagente in die skema bemarking en verkope mag doen en welke nie? 'n Bespreking aan die hand van 'n voorbeeld, van die vereistes bevat in die Wet op Eiendomspraktisyns en regulasies, wat sekere optredes verbied omdat dit gelyke en gesonde mededinging wegkalwe.

#48 So werk dit wanneer jy wil aanbou Saterdag 18 Mei 2024 - Lizelle Kilbourn: Regsvereistes, waaraan voldoen moet word in die uitbreiding van dele. Verdere besonderhede oor die regstappe wat gevolg moet word, en waaroor daar reeds inleidend in artikel nr. 42 geskryf is.

#49 Ombud moet kyk na dispuut-feite Saterdag 25 Mei 2024 - Maryna Botha: 'n Bespreking oor die Ombudswet vir Gemeenskapskemas en die Ombuddiens as dispuutoplossingsmeganisme.

#50 Maak seker oor reëls vir asbes Saterdag 1 Junie 2024 - Lizelle Kilbourn: 'n Bespreking oor die regsvereistes aangaande die herstel of vervanging van asbesdakke in deeltitelskemas.

#51 Sies vir kompleks se vuil tuin Saterdag 8 Junie 2024 - Maryna Botha: Die regspersoon se instandhoudingspligte word bespreek, met die fokus op die rol wat trustees in hierdie verband moet vervul.

#52 Wees bedag op kuberdiefstal Saterdag 15 Junie 2024 - Lizelle Kilbourn:'n Beskrywing van die beginsels vervat in 'n onlangse hofuitspraak oor die risiko van kuberdiefstal in eiendomstransaksies, en wie die verlies moet dra as geld (byvoorbeeld die koopprys) op hierdie wyse gesteel word.

#53 Wie moet eintlik na wie se pype dans? Saterdag 22 Junie 2024 - Maryna Botha: Wie dra die koste vir herstel van skade aan pype in 'n deeltitelskema? Die moeilike besluit wat soms geneem moet word ten opsigte van die instandhouding van die gemeenskaplike eiendom in die deeltitelskema en die afkap van bome wat pype beskadig.

#54 Trustees se finansiële pligte en die ouditeure se rol Saterdag 29 Junie 2024 (slegs digitaal gepubliseer) - Lizelle Kilbourn: In die oorsig oor deeltitelskemas se boeke speel ouditeure 'n kardinale rol. 'n Oorsig van die verantwoordelikhede van trustees in deeltitelskemas ten aansien van die skema se finansies.

#55 Trustees se finansiële pligte en die ouditeure se rol soos bo en gepubliseer op Saterdag 6 Julie 2024 - Lizelle Kilbourn: 'n Oorsig van die verantwoordelikhede van trustees in deeltitelskemas ten aansien van die skema se finansies.

#56 Wie hou dié beursie dop? Saterdag 13 Julie 2024 - Maryna Botha: 'n Opsomming van die trustees se finansiële verantwoordelikhede ingevolge bestuursreëls 21, 23 tot 25.

#57 State gee betroubare oorsig Saterdag 20 Julie 2024 - Lizelle Kilbourn:Die vereistes vervat in bestuursreël 26 rakende finansiële rekords, begrotings, verslae en ouditering van deeltitelskemas se state word beskryf.

#58 Ouditeure kan nie, al wil hulle Saterdag 27 Julie 2024 - Lizelle Kilbourn:Bepaalde probleme bestaan met betrekking tot ouditeure se vermoë en opdrag om die boeke van die regspersoon in fyn besonderhede na te gaan. Die beperkinge word bespreek in die lig van die ouditeursliggaam, SAICA, se voorskrifte aan sy lede. Die posisie is onbevredigend en verg moontlike wetswysigings. Die pligte van ouditeure soos gereguleer deur die Deeltitelbestuurswet, rakende oudit van en rapportering oor deeltitelskemas se boeke, word onder die loep geneem.

#59 Raak betrokke, eienaars! Saterdag 10 Augustus 2024 - Maryna Botha:Onbetrokke eienaars in 'n deeltitelskema kan nadelige gevolge vir die bestuur en waarde van eiendomme in die skema inhou.

#60 Konsolidering van ‘dele' in kompleks werk so Saterdag 24 Augustus 2024 - Lizelle Kilbourn:'n Uiteensetting van die regsprosesse wat gevolg moet word wanneer 'n eienaar twee of meer deeltiteleenhede wil konsolideer (regtens laat saamsmelt, om een groter nuwe deeltiteleenheid te vorm).

#61 Moet heffings-bydraes aangepas word as jy jou houtrame met aluminiumrame vervang? Saterdag 31 Augustus 2024 - Maryna Botha: 'n Eienaar benodig toestemming om aanpassings aan sy eenheid te maak wat die uiterlike voorkoms daarvan verander. Maar wie is daarna verantwoordelik vir die onderhoud en instandhouding van die rame en wie moet daarvoor betaal?

#62 Hou dit in gedagte voor jy koop Saterdag 7 September 2024 - Lizelle Kilbourn: 'n Bespreking oor die verskil in regsaard tussen, asook die voor- en nadele van beleggings in deeltitelskemas, huiseienaarsverenigings en aftreeoorde.

#63 Inklusiewe behuising oral Saterdag 14 September 2024 - Maryna Botha:Neem kennis van owerhede se voorneme en beleid om toenemend behuising inklusief vir alle ekonomiese groepe te maak. Dit kan meebring dat die aard van die behuisingslandskap, in sover dit sosiaal-ekonomiese groeperings betref, in die toekoms kan verander.

#64 Bou - brou is eienaar se saak Saterdag 21 September 2024 - Lizelle Kilbourn:Wie is verantwoordelik vir die herstel van konstruksiefoute aan eenhede in deeltitelskemas? 'n Gevallestudie tref 'n onderskeid tussen onderhoud van die gemeenskaplike eiendom (wat die regspersoon se verantwoordelikheid is) en gevalle waar 'n ontwikkelaar se konstruksiefoute herstel moet word (die ontwikkelaar of eienaar se verantwoordelikheid).

#65 Huis, paleis en ek sal daar werk Saterdag 28 September 2024 - Maryna Botha: 'n Bespreking oor toelaatbaarheid van die gebruik van 'n residensiële deeltitelskema-eenheid vir doeleindes van die bedryf van 'n besigheid.

#66 Trustees maak ook op eienaars staat Saterdag 5 Oktober 2024 - Lizelle Kilbourn:Eienaars kan nie van trustees verwag om alles in die skema te doen nie; hulle het self ook 'n plig om die moue op te rol.

#67 ABC van deelplanne: nr. 1 Saterdag 12 Oktober 2024 - Maryna Botha: Hoe om deelplanne te lees: 'n inleidende bespreking oor die bewoording, uitleg, aard en doel van deelplanne; dit is die regsfondasie waarop deeltiteleienaarskap berus.

#68 Kyk planne met 'n vergrootglas Saterdag 19 Oktober 2024 - Maryna Botha:Die tweede aflewering in die rubriek oor die bewoording, uitleg, aard en doel van deelplanne. Hoe om deelplanne te lees en te interpreteer.

#69 Ken jou deelplan - nr. 3 in ons reeks Saterdag 26 Oktober 2024 - Maryna Botha: Die derde aflewering in die rubriek oor die bewoording, uitleg, aard en doel van deelplanne, met klem op bepaalde definisies en wetgewende vereistes.

#70 Die toelaatbare gebruik Saterdag 2 November 2024 - Maryna Botha: Watter soort besluit of toestemming, indien enige, moet bekom word voordat 'n motorhuis wat deel van 'n eenheid vorm, in 'n slaapkamer of leefvertrek omgeskakel kan word? Bespreking aan die hand van 'n onlangse hofuitspraak.

#71 Verstaan doel van dié plan Saterdag 9 November 2024 - Lizelle Kilbourn: Die afsluiting van die gesprek oor deelplanne, met spesifieke verwysing na die registrasie van deelplanne van uitbreiding.

#72 Jou man mág werk, maar . . . Saterdag 16 November 2024 - Maryna Botha:Mag 'n trustee in 'n deeltitelskema se eggenoot as werknemer of kontrakteur van die regspersoon aangestel word, of is die belangebotsing te groot?

#73 ‘Kennis is mag' het betrekking op deeltitelskemas Saterdag 23 November 2024 - Lizelle Kilbourn:Dit word aanbeveel dat elke trustee 'n lêer saamstel met tersaaklike inligting oor die skema. 'n Bespreking oor watter inligting trustees byderhand moet hou om goeie bestuur toe te pas en sinvolle besluite te kan neem. #73 (nommer gedupliseer) Kan trustees 'n stokkie voor dié tameletjie steek? Saterdag 30 November 2024 - Maryna Botha: Die wet vereis dat 'n uitklaringsertifikaat bekom moet word alvorens 'n deeltiteleenheid na 'n nuwe koper oorgedra kan word. Dit is 'n sertifikaat wat bevestig dat alle geld wat deur die huidige eienaar aan die regspersoon verskuldig is, betaal is (of voorsiening gemaak is vir sodanige betaling). Mag die trustees weier om hierdie sertifikaat uit te reik indien 'n eienaar versuim het om sekere ander wetsvereistes teenoor die regspersoon na te kom? 'n Bespreking aan die hand van 'n onlangse hofuitspraak, waar 'n eienaar versuim het om goedgekeurde bouplanne aan die trustees voor te lê ten opsigte van 'n afdak wat hy laat oprig het.

#74 Kennis én wysheid nodig Saterdag 7 Desember 2024 - Lizelle Kilbourn:As trustees, eienaars en bestuursagente nie basiese regsbegrippe of reëls, en die konteks waarin dit aangewend word, begryp nie, word onoordeelkundige besluite en verkeerde uitsprake soms gemaak. Trustees moet verder goeie redes vir hul besluite kan verskaf en in belang van die regspersoon optree.

#75 Wie luister daarna? Saterdag 14 Desember 2024 - Maryna Botha: "Daar word nou soveel nuwe ingewikkelde vereistes aan die bestuur van deeltitelskemas gestel dat deskundige hulp onontbeerlik geword het." Is dit nodig om 'n prokureur se bystand te bekom as trustees hul pligte versuim of eienaars nie die reëls nakom nie? Of is dit beter om die Ombudsdiens in sulke gevalle te nader?

#76 Respekteer ook sosiale komitees Saterdag 21 Desember 2024 - Lizelle Kilbourn: Wat is die regstatus van sosiale komitees in deeltitelskemas? Is dit die trustees se plig om 'n toesigrol te speel, of kan hulle onafhanklik van toesig funksioneer? Verskil die antwoord indien daar bankrekeninge en bydraes deur inwoners ter sprake is?

#77 Maak só met heffing-dispute Saterdag 18 Januarie 2025 - Maryna Botha:Heffingswanbetalers kan, en moet vasgevat word. 'n Bespreking oor die toepaslike bestuursreëls, trustees se pligte en die situasie met betrekking tot rente op agterstallige heffings.

#78 Begroot deeglik vir onderhoud Saterdag 25 Januarie 2025 - Lizelle Kilbourn:Daar word dikwels te min begroot vir onderhouds- en hersteluitgawes in 'n deeltitelskema. Die wetgewer het maatreëls voorsien om die neiging te probeer teëwerk. 'n Inleidende oorsig oor die toepaslike wetsbepalings en rol van die verpligte reserwefonds en tienjaar-onderhoudsplan.

#79 Die lang en duur van balkonne Saterdag 1 Februarie 2025 - Maryna Botha: Is alle aanbouings op balkonne (wat gemeenskaplike eiendom is) noodwendig 'n uitbreiding, met ander woorde, waar die lang en duur proses wat in artikel 24 DBW voorgeskryf is, dan gevolg moet word?

#80 Goeie plan vir skema se onderhoud nodig Saterdag 8 Februarie 2025 - Lizelle Kilbourn:'n Bespreking oor die vereistes vervat in bestuursreël 22 en die ses kategorieë van inhoud wat in die skema se onderhoudsplan vervat moet word.

#81 Voorsitter se ‘reëls' nie alles Saterdag 15 Februarie 2025 - Maryna Botha: Hoe gemaak as 'n ‘moeilike' voorsitter die eienaars en inwoners in die skema wil hiet en gebied? 'n Toegewyde voorsitter is goud werd en werk dikwels harder as die ander trustees, maar het geen spesiale magte nie. Die verantwoordelikheid vir die skema se bestuur rus op die skouers van al die trustees gesamentlik, en ook húl magte word beperk tot dit wat die wet toelaat.

#82 Trustees, hou hiermee kop! Saterdag 22 Februarie 2025 - Lizelle Kilbourn: Die aflewering dui aan, met verwysing na die tersaaklike wetgewende bepalings, hoe deeltitelskemas se tienjaar-onderhoudsplan en reserwefonds met mekaar verband hou.

#83 Sonpanele en trustees: Ja, nee? Saterdag 1 Maart 2025 - Maryna Botha: Sonkrag is 'n gewilde alternatief om elektrisiteit te genereer vir huishoudelike gebruik. Die deeltitelwet en reëls plaas 'n beperking op 'n eienaar se reg om eiendom op die gemeenskaplike eiendom in 'n deeltitelskema te plaas. Wat bepaal die reg oor die kwessie van eienaarskap van sonpanele, toestemming vir plasing, versekering en instandhouding daarvan?

#84 Wat as kompleks nie geld het? Saterdag 8 Maart 2025 - Lizelle Kilbourn: "Ons deeltitelkompleks het blykbaar groot moeilikheid. Nou wil die trustees koste besnoei en 'n spesiale heffing instel." Mag trustees hierdie drastiese stappe neem?

#85 Vooruitbetaalde elektrisiteit Saterdag 15 Maart 2025 - Maryna Botha:Die installering van afsonderlike water- en/of elektrisiteitsmeters vir elke deel in 'n deeltitelskema is 'n groot hulp vir finansiële bestuur, want elke eienaar se gebruik kan akkuraat bepaal word. Wanneer kan of moet voorafbetaalde meters in 'n skema geïnstalleer word, en hoe gemaak as betaling hiervoor agterstallig raak?

#86 Beplan vir die onderhoudsplan Saterdag 22 Maart 2025 - Lizelle Kilbourn: Praktiese stappe wat trustees kan neem om 'n tienjaar-onderhoudsplan saam te stel: Sluit hierby in 'n matriks, kosteberekeninge, 'n historiese onderhoudsverslag en hou die belangrike doelwitte voor oë.

#87 Kaart, transport word digitaal Saterdag 29 Maart 2025 - Maryna Botha: Die Wet op die Elektroniese Registrasiestelsel (Wet 19 van 2019) het op 1 April 2025 in werking getree. Belangrike bepalings uit die wet word belig en die artikel verduidelik hoe die registrasiestelsel tot op hede gewerk het, en dui aan hoe titelaktes voortaan uitgereik sal word.

#88 Mev. A toe onverhoeds betrap Saterdag 12 April 2025 - Lizelle Kilbourn:Die voorbehoud en uitoefening van 'n ontwikkelaar se reg tot uitbreiding van 'n skema word in artikel 25 van die Deeltitelwet uiteengesit. Die aflewering verduidelik aan die hand van 'n voorbeeld hoe sodanige voorbehoud en uitoefening prakties geskied, waarop kopers bedag moet wees wanneer hulle in deeltitelskemas waar so 'n reg bestaan, eiendom koop, en wat die regte van die onderskeie partye in breë trekke behels.

#89 Hou skema met sorg in stand Saterdag 19 April 2025 - Maryna Botha: Die immer tersaaklike onderwerp van onderhoud in skemas, befondsing van onderhoudsuitgawes ten aansien van gemeenskaplike eiendom, en die soort voorsorg wat in begrotings daarvoor getref moet word, word weer onder die loep geneem.

#90 Ontwikkelaar kry bloedneus Saterdag 26 April 2025 - Lizelle Kilbourn: Die meeste ontwikkelaars wat 'n reg van uitbreiding in 'n skema behou is eerbare persone en instansies wat hul verpligtinge nakom en aan die keiser (oftewel die regspersoon) betaal wat hom in hierdie verband toekom. Die wet het bepaalde voorskrifte in hierdie verband. Daar is egter soms kansvatters wat tegniese skuiwergate sal soek om hul verantwoordelikhede te ontduik. Die bespreking handel oor die ontwikkelaar wat só 'n reg hou se verpligting om bydraes tot koste van die regspersoon te doen, en vermeld 'n onlangse hofuitspraak wat groter sekerheid bied oor hoe die bedrag wat verskuldig is, bereken moet word.

#91 Rondomtalie - besluitneming Saterdag 3 Mei 2025 - Maryna Botha: Die artikel bespreek die wyses waarop die lede van 'n regspersoon geldige besluite kan neem, en fokus op die aard van, en vereistes vir, die neem van 'n rondomtalie-besluit. Sekere besluite kan skynbaar nie regtens op hierdie wyse gemaak word nie.

#92 Wat sou hof oor HEV's beslis? Saterdag 10 Mei 2025 - Lizelle Kilbourn:Anders as in die geval van deeltitelskemas, is daar nie spesifieke nasionale wetgewing wat huiseienaarsverenigings of die inhoud van hul grondwette reguleer nie. Is daar raad vir die situasie waar dit blyk dat ontwikkelaars hulself bevoordeel het deur by aanvang van die skema se oprigting vir hulself voortdurende onredelike regte en voorregte in die oprigtings­dokumente van die verenigings in te skryf?

#93 Té puntenerig oor vereistes Saterdag 17 Mei 2025 - Maryna Botha: In 'n onlangse hofuitspraak verloor die regspersoon 'n saak teen 'n eienaar wat agterstallig is met heffings, op 'n tegniese punt. (Die reëls vereis dat elke dokument wat namens die regspersoon onderteken word, twee trustees se handtekeninge moet bevat; slegs een trustee het hier geteken.) Die gevolg blyk onredelik en tot nadeel van die regspersoon te wees, maar dit benadruk die feit dat voldoening aan wetsvereistes nie opsioneel is nie.

#94 Om jou pond te eis Saterdag 24 Mei 2025 - Lizelle Kilbourn: Trustees in deeltitelskemas moet sorg dat hulle betyds stappe doen om agterstallige heffings in te samel, om sodoende verjaring van die skuld te vermy. 'n Onlangse hofuitspraak ontleed die bewoording van die Wet op Verjaring (Wet 18 van 1969), en gee sekerheid oor wanneer heffingskuld van eienaars in deeltitelskemas verjaar.. Heffingskuld verjaar normaalweg drie jaar nadat dit ontstaan het.

#95 Wat sê reëls oor bestuursagent? Saterdag 31 Mei 2025 - Maryna Botha: Wat is die prosedure wat gevolg moet word wanneer 'n regspersoon 'n bestuursagent wil aanstel? Moet sodanige aanstelling deur die lede in algemene vergadering gedoen word, of is 'n blote trusteebesluit voldoende? Die bepalings van bestuurs­reël 28 word bespreek, in die groter geheelsamehang van die res van die Deeltitelbestuurswet se bepalings.

#96 Is dié versekering 'n luukse of wel nodig? Saterdag 7 Junie 2025 - Lizelle Kilbourn:Die belangrike onderwerp van versekering in deeltitelskemas word herbesoek en die aard en doel van die betrokke wetsbepalings word aan die hand van 'n voorbeeld verduidelik.

#97 Is bestuursagent reg opgelei? Saterdag 14 Junie 2025 - Maryna Botha:"Bestuursagente se portefeuljebestuurders is heeltemal oorlaai met die getal geboue waarna hulle kyk." Die artikel wys op 'n wesenlike leemte in die Deeltitelbestuurswet, naamlik die versuim om te vereis dat diegene wat 'n deeltitelskema bestuur, verpligte spesifieke opleiding in hierdie verband moet ondergaan. Seker oplossings word aan die hand gedoen.

#98 Wie besluit oor aanstelling? Saterdag 21 Junie 2025 - Lizelle Kilbourn:Die aflewering sit die bespreking oor die aanstelling van bestuursagente voort, na aanleiding van 'n leser se navraag. Die onderskeid tussen ‘n "gewone" bestuursagent en 'n uitvoerende bestuursagent, soos in die Deeltitelbestuurswet uiteengesit, word getref en die praktiese stappe vir die aanstelling van sodanige agente word bespreek. Trustees mag 'n gewone bestuursagent aanstel sonder verdere insette van eienaars, mits die goedgekeurde begroting vir die uitgawe (fooie) voorsiening maak.

#99 ‘Eenparige' besluite Saterdag 28 Junie 2025 - Maryna Botha:Vir welke sake wat in deeltitelskemas aandag geniet, is eenparige besluite nodig? Maryna lys en bespreek nege spesifieke gevalle waarvoor die wet eenparige besluite vereis. Om 'n eenparige besluit te bekom is 'n uitdagende proses, veral in groter skemas. As die regspersoon nie daarin slaag om so 'n besluit te bekom nie, en meen dat instemming deur 'n lid onredelik weerhou is, kan die Gemeenskaps­ombudsdiens in sekere gevalle genader word vir hulp. 'n Onlangse hofuitspraak dien ter illustrasie van wanneer 'n hof (of die Ombud) weiering om toe te stem tot 'n eenparige besluit as onredelik sal beskou.

#100 'n Lys en kort opsomming van die 100 artikels wat sedert Mei 2023 uit die pen van Maryna Botha en Lizelle Kilbourn in Die Burger se Saterdag Deeltitelforum-rubriek verskyn het.

  • Saamgestel deur Lizelle Kilbourn en Maryna Botha, skrywers van die Deeltitelforum-rubriek wat elke Saterdag in Die Burger se Eiendomme verskyn.
Lizelle Kilbourn en Maryne Botha