Kopers van luukse-eiendomme mik nie net al hoe meer Kaap toe vir die prentjiemooi huise daar nie, en Hermanus raak toenemend 'n ewe aanloklike beleggingsbestemming, aldus Paul Kruger van Seeff Hermanus.
Oor die afgelope vyf jaar was daar 'n styging in eenhede wat bo R5 miljoen geprys is in dié gebied, asook minstens 26 huise wat elkeen teen tussen R20 miljoen en R40 miljoen in Kwaaiwater verkoop is. In Voëlklip is 'n eiendom vir R47 miljoen van die hand gesit.
Die semigrasieneiging dui op veral 'n merkbare opswaai onder goed gefinansierde kopers van woon-, aftree- en tweede huise.
Die jaarlikse New World-welvaartverslag wys daarop dat 'n opvallende 25% meer hoë-nettowaarde-individue vanaf Gauteng, asook die Kaap, na dié kusgebied migreer. Hierdie syfer oortref die welvaartgroei van die Kaap (10%), die Wynlande (18%) én die Tuinroete (22%).
Lightstone Data dui verder aan dat Hermanus met die hoogste aantal- en transaksiewaarde onder mede-kusdorpe soos Jeffreysbaai, Knysna, Plettenbergbaai en Ballito spog, oftewel 808 transaksies ter waarde van meer as R2,6 miljard tot einde Januarie 2025.
Verkope van eiendomme bó R5 miljoen het oor die afgelope vyf jaar vanaf 57 in 2019 tot 132 in 2024 verdubbel. Hermanus ding nou met Plettenbergbaai mee in die hoëwaardekategorie, nadat 26 huise elk ter waarde van meer as R20 miljoen daar oor die afgelope vyf jaar van die hand gesit is.
Sy rustige, kosmopolitaanse leefstyl en lae misdaadsyfer is kern-aantrekkingspunte. Daarbenewens het die dorp geen tekort nie aan fasiliteite soos 'n winkelsentrum, gesondheidsdienste en Curro- en Generation-privaatskole.
Behalwe vir Hermanus se bekendheid as 'n top-walviskykbestemming, is daar verder meer as 20 wynplase in die nabygeleë Hemel-en-Aardevallei, asook die gesogte Benguela Cove Lagoon-wynlandgoed van 200 hektaar wat oor pragtige wooneiendomme beskik.
Kruger sê wynlandgoed-kopers hoef nie nou meer uitsluitlik daarvoor in die Boland te soek nie.
In stede daarvan kan hulle daardie wingerd-gevoel kombineer met 'n uitsig oor die Botrivier-strandmeer by Benguela Cove - tesame met 'n skilderagtige agtergrond van die omliggende olyfboorde en berge. Die landgoed is die gebied se grootste wynprodusent met 'n reusekelder, proelokaal, restaurant, snuistery-winkel en 'n rits vermaaklikheidsaktiwiteite. Bogenoemde sluit onder meer gholf, tennis, basketbal en boule in, en daar is ook 'n swembad en wandelpaaie vir inwoners.
Booteienaars word na omgesien met tewaterlating- en vasmeerplekke, bergingsgeriewe en 'n klubhuis, terwyl jy daar kan ski, roei en vlieërbranderry.
Benguela Cove is 'n kopersparadys vir primêre en sekondêre huiskopers. Erwe is tot 4 000 m² groot. 'n Huis van 700 m² kos tot R28,875 miljoen en bied lieflike uitsig vanuit elke vertrek.
Dié huise is hipermodern met hoë plafonne, verskeie leefareas, 'n braaivertrek met 'n see-uitsig, vier en suite-slaapkamers, 'n wynkelder, 'n ruim studeerkamer wat lei na 'n dek- en tuingebied, personeelverblyf, 'n driemotor-garage, verhitte swembad en ander luukses soos kaggels, 'n sonkragstelsel, reënwatertenke en 'n sentrale stofsuierstelsel.




















