KI kan help om koop van eiendom seepglad te laat verloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Waar kunsmatige intelligensie (KI) en rekenaar-selfleer vantevore vir baie mense wetenskapsfiksie was, het die implementering daarvan oor die afgelope drie jaar ongetwyfeld die werkwêreld én eiendomsmark getransformeer.Eiendommehet meer uitgevind oor dié verskynsel.

Só verreikend vir die mensdom - positief én negatief - is die uitwerking daarvan dat die koms van KI gelykgestel word met die Nywerheidsrevolusie.

'n Onstuitbare tegno-tsoenami wat danksy reuseklompe data tot sy beskikking sekere menslike arbeid deur outomatisering, besluitneming en voorspelling, slimmer en vinniger as mense kan verrig.

Die amper gedwonge integrasie van KI in hul werkwyse is noodsaaklik vir besighede om nie net mededingend te bly nie, maar in wese ook om bloot te oorleef.

Die eiendomsbedryf is geen uitsondering nie en trek voordeel uit die gebruik van KI in sy bemarking, kliëntediens, administrasie en die bestuur van eiendomme.

Maar hoe werk dit in die praktyk?

Deur die toepas van rekenaar-selfleer en toegang tot historiese en kontemporêre markdata oor verbruikersvoorkeure in woongebiede, is een van die ooglopendste gebruike van KI meer akkurate prysevaluering.

Voorgenome huisverbeteringe se waarde kan raakgeskat word; en andersins onsigbare prys­bepalende faktore wat menslike voorspellings nie in ag neem nie, sal deur KI bygereken word. (Word daar dalk 'n groot snelweg naby 'n stil woonbuurt beplan, of eersdaags 'n skool langs 'n nuwe ontwikkeling gebou?)

Die eindgebruiker vind uiteraard ook baat. KI-gedrewe eiendomsoektogte se waarde lê in hul selfleervermoë en die gevolglike verpersoonliking van voorstelle gegrond op verbruikers se behoeftes en begroting, en dié van hul toekomstige bure in 'n gekose area.

Daarna kan voornemende kopers hul kortlys vinniger opstel deur middel van virtuele, 360°-skouhuistoere danksy blitsvinnige internetverbindings. Selfs tydens dié proses sal KI hul voorkeure en afkere waarneem en dienooreenkomstige alternatiewe voorstel.

Met 'n koopaanbod op hande, sal KI in die eiendomsagent se kantoor daarna roetinetake soos die invul van data, finansiële analise en ander papierwerk self voltooi, wat op sy beurt transaksietyd en arbeidskoste spaar.

Sou die kooptransaksie beklink word, en met die nuwe huissleutel in sy of haar sak, kan eienaars KI inspan om te help met die monitor en bestuur van hul eiendom. Alhoewel tuis­outomatisering kwalik 'n nuwe verskynsel is, bied KI meer omvattende en outonome beheer oor jou tuistoestelle, met koste wat bespaar kan word deur die toepas van aangeleerde patrone (waarom is 'n geiserelement byvoorbeeld aangeskakel wanneer daar niemand tuis is nie?); of die vroegtydige identifisering van ontwikkelende defekte.

Hoewel KI onteenseglik voordele vir alle betrokke partye in die eiendomsbedryf bied, bly die balans tussen outomatisering en persoonlike diens ewe ononderhandelbaar. Menslike verhoudings bly noodsaaklik in huurder-verhuurder-verhoudings, en word veelkantige konflikte wat empatie vereis, makliker deur menslike interaksie besleg.

KI sal jou dus altyd kan help om na huise te kyk, maar nooit met watter een jy uiteindelik gaan kies nie.

Bronne:

Tegnologie is selde volmaak en selfs in die eiendomsektor kan KI se voordele se lof nie sonder die by­reken van sy nadele besing word nie.

KI help met:

  • Doeltreffendheid: KI kan herhalende take versnel en groot datavolumes prosesseer sodat eiendomsagente kan konsentreer op meer mensgedrewe verantwoordelikhede.
  • Kliëntediens: Met die inagneming van data kan kletsrobotte en soekenjins meer gefokusde antwoorde tydens aanlyn soektogte formuleer wat tyd bespaar en kliëntetevredenheid verhoog.
  • Tyd spaar: Virtuele assistente is 24 uur aanlyn beskikbaar om navrae te beantwoord, besigtigings­afsprake te skeduleer en relevante eiendomsinligting te deel.
  • Deursigtigheid en toekomsvoorspelling: Huur- huispryse kan akkurater vasgestel word sonder subjektiewe assesseringsafleidings.

Pasop vir:

  • Implementeringskoste: Die inwerkingstelling van KI vereis aansienlike beleggings in sagteware, personeelopleiding asook hardeware in sekere gevalle.
  • Datagehalte- en sekuriteit: Die massavolumes data waarmee KI daagliks omgaan, is 'n goudmyn vir kubermisdadigers. Die veilige berging van inligting gaan daarom toenemend 'n ongekende uitdaging vir eiendomsagente word.
  • Vooroordeel: Enige algoritme is net so goed soos sy leerstof-brondata; en ingeboude, afwykende voorkeurkriteria kan kliënte wat nie geskik is nie insluit, of dié wat ideaal is uitsluit.

https://www.dealmachine.com/blog/ai-real-estate#:~:text=Predictive%20Analytics%3A%20AI%20enables%20real,economic%20indicators%2C%20and%20historical%20data.

SPELETJIES VANDAG

CTA