Rode-verslag: Sake nog stram

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Suid-Afrikaanse eiendomsmark verkeer steeds onder druk, maar daar is wel lig in die donker gang dat sake later vanjaar, en veral volgende jaar, beter sal verloop.

So lui die jongste Rode-verslag oor die stand van die Suid-Afrikaanse eiendomsmark in die tweede kwartaal, wat pas deur die Rode-eiendomsgroep uitgereik is.

Nywerheidseiendom, soos pakhuise, het veral goed herstel sedert die Covid-pandemie. Foto: iStock
Nywerheidseiendom, soos pakhuise, het veral goed herstel sedert die Covid-pandemie. Foto: iStock

Die verslag van 226 bladsye het verskeie databasisse van staats- en private instellings benut, asook onderhoude met kenners in die eiendomsbedryf, en genoteerde eiendomsgroepe.

Die verslag fokus op vier hoofareas: Genoteerde eiendom (eiendomsgroepe wat winkelsentrums en kantoorgeboue besit, en op die JSE genoteer is); die kantoormark; die nywerheidsmark; en die residensiële sektor.

'n Sentrale tema is die stram impak van hardnekkige inflasie, maar veral ook die hoë rentekoerse.

Strykdeur die verslag word die hoop egter ook op die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) geplaas vir 'n positiewe verbetering in die algemene ekonomie, en dat rentekoerse vanaf die tweede semester en veral volgende jaar algaande sal daal.

Genoteerde eiendom

Luidens die Rode-verslag maak genoteerde eiendom 'n sterk terugkeer. Dit word gesteun deur die stigting van die nuwe RNE en die hoop op 'n verlaging in rentekoerse in die tweede semester.

Aandeelpryse het sterk herstel knap ná die aankondiging van die RNE. Groei in hierdie sektor word deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek op 2% geraam danksy beter kragvoorsiening, laer rentekoerse en die nuwe RNE.

Kantoormark

Die herstel van die kantoormark duur voort danksy laer leegstaankoerse en beter huurpryse. Rode sê dié tendens word aangehelp deur al hoe meer werkers wat terugkeer kantoor toe, selfs in 'n nuwe hibriedmark.

Die leegstaankoers vir kantoorruimtes (13,1%), op nasionale vlak, is wel nog bokant Suid-Afrika se pre-Covid-vlakke van 10,5%. Kaapstad en Durban was die twee stede in die land wat die beste met hul leegstaankoerse gevaar het.

Rode waarsku wel dat as boukoste-inflasie (9%) in berekening gebring word, maak dit nog nie sin vir ontwikkelaars om nuwe kantore op te rig nie. Nuwe kantoorontwikkelings is nog nie ekonomies haalbaar nie.

Nywerheidsektor

'n Verrassende uitskieter was die land se nywerheidsektor. Hier het huurgroei sterk toegeneem te midde van 'n lae leegstaankoers. Huurinkomste is vandag 20% hoër as pre-Covid, en die groei in groot nywerheidsgeboue wat opgerig is, het met 6,2% toegeneem.

Residensiële mark

Huispryse groei steeds stadiger as die inflasiekoers te midde van 'n swak ekonomie en hoë rentekoerse. Nominale huisprysgroei het met net 0,4% toegeneem teenoor die tweede kwartaal van 2023.

As inflasie dus in ag geneem word, het huispryse in reële terme aangehou om skerp te daal.

Die Wes-Kaap was die streek waar huise die vinnigste verkoop is, terwyl huise in Gauteng die stadigste verkoop.

Rode verwag dat huisprysgroei sal voortgaan om onder druk te verkeer oor die volgende paar maande.

Daar is meer entoesiasme oor 2025 aangesien rentekoerse kan begin daal en ekonomiese groei kan toeneem.

Wat woonstelle betref, was die leegstaankoers op nasionale vlak 6,7%, wat effens laer was as die eerste kwartaal se 7,9%.

Die Wes-Kaap (2,7%) vaar die beste met die minste leë woonstelle. Gauteng het op sy beurt sy leegstaankoers afgebring vanaf 9,3% na 6,5%.

Rentekoerse pla

'n Refrein wat deur die Rode-verslag eggo, is die negatiewe impak wat die hoë rentekoers tans op die eiendomsmark - in sowel die sake- as die private omgewing - het.

Dit beteken dat ondanks 'n verbetering in die tweede kwartaal verhurings steeds 'n nominale verlies toon.

2,7%

Die leegstaan-koers vir woonstelle in die Wes-Kaap is tans slegs 2,7%. Dit staan in skerp kontras met Gauteng se syfer van 6,5% (wat reeds 'n verbetering van die eerste kwartaal se 9,3% is).

Huise in die Wes-Kaap verkoop ook die vinnigste in die land. As inflasie in berekening gebring word met huisprys-groei het huispryse jaar op jaar slegs met 0,4% gestyg.

Nywerhede klou

Een lig wat in die donker tonnel van trae ekonomiese groei en hoë rentekoerse skyn, is die nywerheidsektor.

Verhurings vir dié sektor (pakhuise, verspreiding-depots) bly steeds fluks groei en is reeds 20% hoër as wat dit voor die Covid-pandemie was. Jaar op jaar het verhurings met 6,1% gestyg, met inflasie reeds in ag geneem. Luidens die Rode-verslag het die nywerheidsektor dit merkwaardig reggekry om verhurings vinnig by pre-Covid-vlakke te kry, en stelselmatig weer te verhoog. Dit dui op vertroue in die ekonomie.

SPELETJIES VANDAG

CTA