Reserwebank besig om prima uitleenkoers te hersien

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, by die Reserwebank in Pretoria.
041214 BeeldSake 'n onderhoud met die president van die Reserwebank, Lesetla Kganyago by die Reserwebank in Pretoria. Fotos Denzil Maregele Storie Jan de Lange Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, by die Reserwebank in Pretoria. (Denzil Maregele/Foto: Denzil Maregele)

Die Reserwebank is besig om die prima uitleenkoers – wat banke gebruik om te bepaal teen watter rentekoers ’n lening verskaf word – te hersien.

Die Reserwebank het in ’n e-pos aan Bloomberg gesê hy is besig om die prima koers te hersien, maar hoe lank dit gaan duur, is nog nie bepaal nie.

Die prima koers is sedert 2001 op 350 basispunte bo die repokoers. Die repokoers is die een waaroor die Reserwebank besluit.

Banke bepaal die prys van lenings deur die prima koers as verwysing te gebruik en iemand sal meer of minder rente op ’n lening betaal afhangende van onder meer die kredietwaardigheid van die kliënt.

Die totale lenings en krediet van banke het in Oktober R6 200 miljard ($378 miljard) beloop, volgens inligting van die sentrale bank.

Bisarre oorblyfsel

“Die prima uitleenkoers is ’n bisarre oorblyfsel van die geskiedenis waaraan die Reserwebank in die verlede geweier het om te raak, met ’n verskoning oor wat dit die banke en ander gaan kos om kontrakte te verander. Dit lyk asof die Reserwebank nou die lig gesien het,” sê Peter Attard Montalto, besturende direkteur by die adviesfirma Krutham. “Dit was lankal tyd om aan te beweeg. Selfs al is die positiewe impak hiervan gering, is dit steeds ’n gratis ete.”

Dalk afskaf

Van die potensiële veranderinge kan insluit dat die prima koers in geheel afgeskaf word of dat die verskil tussen dié koers en die repokoers verander word.

Enige veranderinge sal beteken dat banke en kredietverskaffers bestaande kontrakte vir huisverbande, oortrokke rekeninge, motorlenings en kredietkaartgeriewe sal moet wysig.

Dit kan banke se inkomste uit rente beïnvloed.

LEES OOK | Rentekoerse: Dis wat jy moet weet as jy oorweeg om jou skuld teen die laer rentekoers vas te maak

Vorige hersiening

’n Vorige hersiening van die prima koers deur die sentrale bank en Bankvereniging van Suid-Afrika amper twee dekades gelede het die speling bo die repokoers bevestig, en het tot die gevolgtrekking gekom dat die omvang daarvan nie ’n rol speel wanneer banke rentekoerse bepaal nie.

Sou die marge tussen die repo- en prima koers verminder word, sal dit op lang termyn nie ’n verskil maak aan die rentekoerse wat kliënte op skuld betaal nie omdat dit eerder afhang van wat die risiko is om geld aan iemand te leen, volgens daardie studie.

Positief vir verbruikers

Op kort termyn sal dit egter die koste van skuld vir verbruikers verminder, finansieringsbeperkings verlig en toegang tot lenings vir ondernemings verbeter, het Sanisha Packirisamy, hoofekonoom by Momentum Investments, gesê.

Bankwinste geraak

“Die uitdaging sal wees om banke se winsgewendheid en dus finansiële stabiliteit in die land te behou om te verseker dat kredietverskaffing help om ekonomiese groei te verhoog,” het sy gesê.

Adrienne Damant, ’n senior bankontleder van Avior Capital Markets, meen as die prima koers afgeskaf word, of die gaping tussen dit en die repokoers verminder word, sal die impak in geheel positief wees vir banke en die ekonomie.

Dit sal die bekostigbaarheid van lenings verbeter en ’n groter vraag skep.

Na verwagting sal die Reserwebank soos altyd die insae van die mark soek.

SPELETJIES VANDAG

CTA