Die internasionale oliereus BP gaan sowat 4 700 poste of sowat 5% van sy totale werkmag skrap.
Daarby sal meer as 3 000 kontrakteursposte ook geskrap word, het Murray Auchincloss, uitvoerende hoof van BP, Donderdag aan die personeel gesê.
Dit is om koste te besnoei.
BP beplan nog kostebesnoeiings vir die res van die jaar en verder. Sedert Junie verlede jaar is 30 projekte reeds gestaak of vertraag sodat slegs gefokus word op dié wat die winsgewendste is.
Volgens Auchincloss is 'n digitaliseringsveldtog en die groter gebruik van kunsmatige intelligensie oor alle afdelings heen deel van die planne om koste te besnoei.
BP het agter geraak vergeleke met die ander oliereuse gedurende Auchincloss se termyn as uitvoerende hoof. BP se markwaarde is nou minder as die helfte van dié van Shell. Dit is selfs ingehaal deur maatskappye wat voorheen slegs 'n fraksie was van BP se waarde.
Navrae by BP Suid-Afrika oor of die postebesnoeiings ook die plaaslike bedrywighede van BP sal raak, is nog nie beantwoord nie. BP en sy mededinger Shell het in Suid-Afrika die Sapref-raffinadery gesamentlik besit. Hulle het die raffinadery onlangs vir 'n simboliese bedrag van R1 aan die staatsbeheerde Sentrale Energiefonds verkoop. Die aanleg is erg beskadig in die vloede in KwaZulu-Natal in 2022, maar die twee oliemaatskappye het voor die vloede al bedrywighede afgeskaal omdat hulle dit nie meer winsgewend gevind het om te bedryf nie.
Sonder hulp van die staat om die olieraffinaderye in Suid-Afrika op te gradeer om aan strenger brandstofspesifikasies te voldoen, het van die brandstofmaatskappye besluit om eerder meer brandstof in te voer. BP en Shell se plaaslike mededinger Engen het ook sy raffinadery in Durban gesluit.
BP-aandeelhouers dring aan op verandering, en die verwagting is dat Auchincloss in Februarie kan aankondig dat die groep verder terugskuif na olie en gas.
Auchincloss is nog net 'n jaar hoof van die groep, maar BP se agteruitgang kom al vir 'n paar jaar aan, onder meer weens strategiese foute soos die poging om na laekoolstofenergie te skuif, gegrond op 'n foutiewe voorspelling dat internasionale olieverbruik verby sy hoogtepunt is.
Bernard Looney, Auchincloss se voorganger, het duur projekte aangepak soos aflandige windplase, maar hy is weens persoonlike wangedrag afgedank voordat die strategie gerealiseer kon word. BP het sedertdien Looney se strategie stelselmatig afgewater. Die beplande afskaal van olie- en gasproduksie is in Februarie 2023 verlangsaam en 'n reeks waterstofprojekte is gestaak of uitgestel.
In Desember het BP sy aflandige windplase almal verkoop.
BP het eers weerstand gebied teen 'n meer aggressiewe terugkeer na fossielbrandstowwe waarop sommige aandeelhouers aangedring het. Sedert 2020 is net een nuwe olieprojek in die Golf van Mexiko goedgekeur. Die lang tydperk van onaktiwiteit in nuwe olie- en gaseksplorasie sal dit volgens ontleders moeiliker maak vir BP om 'n vinnige ommekeer te maak.
BP mik om teen einde 2026 koste van $2 miljard te besnoei. BP het netto skuld van sowat $24 miljard. - Bloomberg, bygewerk





















