Staat gaan nie meer Sapref-raffinadery koop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
The Sapref refinery in Durban
The Sapref refinery in Durban

Die verkoop van die Sapref-raffinadery in Durban aan die staat is van die baan.

Daar is te veel skade aan die perseel aangerig tydens die vloede in April verlede jaar en dit kan enigiets tussen $500 miljoen en $800 miljoen kos om alles ten volle te herstel.

Dit blyk uit 'n gesprek met Hamlet Morule, kommunikasiehoof van BP Suider-Afrika. BP is saam met die oliegroep Shell die eienaar van die raffinadery.

Volgens Morule het BP al in 2020 besluit om die raffinadery te verkoop, en het met onderhandelings met die Sentrale Energiefonds (SEF) begin.

Maar die skade weens verlede jaar se oorstromings was so groot dat die hele transaksie heroorweeg moes word.

Amptenare van die SEF het juis in Mei in die parlement bevestig dat die transaksie heroorweeg word weens die herwaardasie van die bates weens die vloedskade.

Dit het ook in Mei geblyk dat die staat nou met die beleggingsgroep Remgro onderhandel oor 'n moontlike transaksie om sy belang in TotalEnergies te koop. TotalEnergies is op sy beurt die mede-eienaar van die Natref-raffinadery by Sasolburg in die Vrystaat saam met Sasol.

Die staat is al jare naarstiglik op soek na 'n manier om 'n groter staatsbelang in die brandstofmark te verkry.

Volgens Morule is daar uiteindelik besluit om die transaksie met die SEF te laat vaar, want dit sou onverantwoordelik van BP wees om die Sapref-perseel in sy huidige toestand te probeer verkoop. Shell en BP het nog nie finaal besluit wat die toekoms van die perseel is nie.

Morule beklemtoon egter dat BP beslis nie beplan om hom aan Suid-Afrika te onttrek nie. Die brandstofgroep wil juis daarop fokus om sy netwerk van vulstasies in die land uit te brei, veral langs nasionale hoofweë waar hy tans onderverteenwoordig is.

Dit kom in reaksie op kommentaar van onder andere die DA in Maart vanjaar toe BP besluit het om nie meer vliegtuigbrandstof aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika te lewer nie. Volgens Morule was dit 'n besluit as deel van 'n hersiening van BP se internasionale sakestrategie.

BP vier juis volgende jaar sy 100ste bestaansjaar in Suid-Afrika nadat die maatskappy in 1924 in die land begin sake doen het.

Oor die afskaling van sekere bedrywighede soos die besluit om Sapref te verkoop, sê Morule dit is nie net BP wat dit doen nie. Dis 'n internasionale tendens waar die klem verskuif na mega-raffinaderye.

BP het tans sowat 500 vulstasies in Suid-Afrika, 'n kortkop agter TotalEnergies se sowat 550. Daar is groter vulstasiegroepe soos Engen, Shell en Astron Energy (voorheen Caltex). Engen het meer as 1 280 vulstasies in Suider-Afrika en Mauritius, en Astron Energy het sowat 850. Shell het sowat 750 vulstasies in die land.

Volgens Morule is BP tans meer gefokus op die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng, maar wil sy gapings vul soos om langs die nasionale hoofweë meer vulstasies oop te maak. As deel van sy lojaliteitsprogramme het BP suksesvolle vennootskappe met Pick n Pay, Discovery en Nedbank aangegaan, en het ook onlangs 'n ooreenkoms met Uber Eats beklink.

SPELETJIES VANDAG

CTA