Brandstof in April duurder weens pypleidingtariewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Pompstasie by Transnet Pipelines se brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng.  Foto: Transnet
’n Pompstasie by Transnet Pipelines se brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng. Foto: Transnet

Soos Eskom het Transnet nie heeltemal sy sin gekry wat betref onlangse besluite deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) nie.

Die gereguleerde vastekostedeel van brandstofpryse kan vanjaar met minstens 5,23c per liter verhoog weens Nersa se jongste besluit oor Transnet se pypleidingtariewe.

Dit is as Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, die pypleidingtariewe sou gebruik as riglyn vir die vervoerkoste van brandstof van Durban na Johannesburg, lui Nersa se verklaring hieroor.

Tariewe styg met 8,7%

Nersa het aan Transnet 'n tariefverhoging van 8,73% toegestaan vir die 2025-'26-boekjaar, en 'n verhoging van 5,71% vir die daaropvolgende boekjaar.

Dit was teenoor Transnet se versoek vir 'n verhoging van 20,77% vir die eerste jaar, maar 'n verlaging van 0,21% in die tweede jaar.

Dit sou brandstofpryse se vastekostedeel vanjaar met 13,34c per liter verhoog het, wat betref brandstof wat van Durban na die Alrode-brandstofdepot in Gauteng vervoer word. Dit sou vir die tweede jaar wel uitgeloop het op 'n verlaging van 0,58c per liter.

Maar Nersa het 'n meer stelselmatige trajek vir tariefverhogings verkies.

In totaal oor die twee jaar het Nersa aan Transnet 'n toelaatbare inkomste toegestaan wat 7,3% laer is as waarvoor Transnet aansoek gedoen het.

Transnet het gevra vir R8,71 miljard in die eerste boekjaar en R8,69 miljard in die tweede jaar, teenoor die onderskeidelik R7,842 miljard en R8,29 miljard wat Nersa goedgekeur het.

Brandstofheffing

Die tariewe tree op 1 April in werking. Dit is nog nie seker hoe die departement van minerale en petroleumbronne die nuwe pypleidingtariewe in sy prysstruktuur gaan inkorporeer nie. Daar moet ook nog vir Woensdag se begrotingsrede gewag word om te kyk of die tesourie die brandstofheffing gaan verhoog, wat die gereguleerde vastekoste-deel van brandstofpryse nog verder kan opdruk.

Nersa waarsku hy is steeds besorg oor brandstofdiefstal en vandalisering van die Transnet-pypleiding. Dit is nie net 'n sabotasie van die land se ekonomie nie, maar lei ook tot sterftes, het die reguleerder gesê.

Met sowat 60% van Suid-Afrika se brandstofverbruik wat nou as reeds geraffineerde petrol, diesel, paraffien en vliegtuigbrandstof ingevoer word, word die koste van vervoer al hoe belangriker.

Volgens Nersa is Transnet se pypleidingstelsel die kostedoeltreffendste manier om brandstof van Durban na die binneland te vervoer. Die gebruik van die pypleiding verlig die druk op pad- en spoorinfrastruktuur.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA