Elektrisiteit al 800% duurder as in 2007

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Dedisa-dieselkragstasie by Coega naby Gqeberha in die Oos-Kaap. Dit is een van die private dieselkragstasies by wie Eskom krag koop as hy in die nood is.  Foto: Die Burger
Die Dedisa-dieselkragstasie by Coega naby Gqeberha in die Oos-Kaap. Dit is een van die private dieselkragstasies by wie Eskom krag koop as hy in die nood is. Foto: Die Burger

Sedert 2007 het Eskom se tariewe met 800% gestyg, maar verbruikersprysinflasie met net 103%.

Terwyl byna 75% van huishoudings wat vir die gratis basiese elektrisiteit van 50 kWh per maand kwalifiseer dit nié ontvang nie, is die duurder elektrisiteit 'n dubbele las op armes, want hul voedselsekerheid neem af terwyl energiearmoede toeneem.

Dít is van die faktore wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) in ag geneem het toe hy moes besluit oor Eskom se tariefaansoek vir die komende drie tariefjare, het Thembani Bukula, voorsitter van Nersa, Woensdag in die parlement gesê.

Nersa het in 'n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie sy redes verduidelik waarom hy aan Eskom 'n tariefverhoging van 12,74% toegestaan het vir die 2025-'26-tariefjaar, gevolg deur 5,36% in die 2026-'27-tariefjaar en 6,19% in die 2027-'28-tariefjaar.

Dit was in teenstelling met Eskom se aansoek vir verhogings van onderskeidelik 36,14%, 11,81% en 9,1%.

Volgens Bukula is daar 10 miljoen huishoudings in die land wat van welsynstoelaes afhanklik is, maar die relatiewe waarde van die toelaes daal namate elektrisiteitspryse styg.

Mededingendheid geknou

Die skerp stygende kragpryse het Suid-Afrika se mededingendheid geknou, met internasionale maatskappye wat besluit het om hul fabrieke hier te sluit en dit na ander lande te verskuif. Die sakesektor en huishoudings het ook toenemend van die kragnetwerk na eie kragopwekking weggeskuif.

Dit loop volgens Nersa op 'n dubbele vloek van verlore inkomste vir Eskom uit, sowel as verlore inkomste vir Suid-Afrika in geheel.

Hoewel Nersa nie toesig of beheer oor Eskom se onreëlmatige besteding het nie, het hy wel hefbome om te trek om seker te maak Eskom tree op 'n sekere manier op, het Bukula in vraetyd gesê.

Nersa kan byvoorbeeld verander aan die inkomste wat Eskom versoek vir sekere koste-items op grond van hoe Eskom daarmee vaar. Dit sluit in waar Eskom toelaat om agterstallige skuld te laat ophoop, want sy besteding aan rente word by sy bedryfskoste ingesluit.

As Eskom byvoorbeeld sy dieselkragstasies gebruik op 'n tydstip dat Nersa dink hy eerder sy steenkoolkragstasies kon gebruik het, kan Nersa besluit om inkomste aan Eskom toe te laat asof hy wel op daardie tydstip steenkoolkrag gebruik het, sê Bukula.

Steenkoolkoste

Wat steenkoolkoste betref, sê Bukula dat hoewel die steenkoolbedryf nie gereguleer word nie, dit eintlik gereguleer behoort te wees.

Talle steenkoolkontrakte het aan die einde van hul looptyd van 20 tot 30 jaar gekom en moet nou heronderhandel word. Die toelaatbare winsmarge aan Eskom word op die waardasie van sy bates gegrond.

Nomfundo Maseti, reguleerder by Nersa, sê die laaste batewaardasie is in 2020 deur Eskom gedoen, terwyl 'n waardasie gedoen deur Deloitte op 'n veel laer waarde gedui het. Volgens Maseti het Nersa Eskom gevra om die Deloitte-verslag aan hom bekend te maak.

"Ons monitor dit noulettend. Die waarde wat oordryf word, moet afkom - veral as jy na die prestasie van die kragstasievloot kyk."

Munisipale skuld

Wat die krisis met munisipaliteite se skuld aan Eskom betref, sê Bukula talle van die munisipaliteite kan eenvoudig nie hul skuld aan Eskom betaal nie weens die strukturele probleem van hul geldsake en die fiskale reëlings op plaaslike regeringsvlak.

Verlede jaar is net 9,8% van die staat se inkomste aan plaaslike regerings toegeken. Totdat die strukturele probleme met finansiering op munisipale vlak nie opgelos word nie, sal die skuldprobleem nie verdwyn nie.

Brian Sechotlho, hoof van Nersa se afdeling vir elektrisiteitspryse en tariewe, sê die program van aktiewe vennootskap wat Eskom aanpak, begin wel al tekens van vordering toon. Dit is waar Eskom sekere munisipaliteite met die invordering van hul eie kragrekeninge help.

Gratis basiese elektrisiteit te min

Oor vrae oor gratis basiese elektrisiteit het 'n amptenaar van die departement van elektrisiteit en energie gesê dis nou al algemene kennis dat die 50 kWh per maand hopeloos te min is en nie meer in pas met die huidige realiteit van armes se kragverbruik is nie. Die toekenning behoort nader aan tussen 150 en 200 kWh per maand te wees.

Tans word dit nog deur die billike toedeling uit die staatskas aan plaaslike regerings gefinansier, maar dis volgens die amptenaar juis ook deel van die probleem. Munisipaliteite wend dié toedelings verskillend aan en gevolglik kom die gratis 50 kWh nooit by die mense uit wat daarvoor kwalifiseer nie.

Volgens die amptenaar is gesprekke met die tesourie aan die gang om alternatiewe maniere te vind om dit te finansier. Enoch Godongwana, minister van finansies, kan dalk teen die tyd dat die mediumtermynbegrotingsraamwerk later vanjaar bekend gemaak word die koste-items vanuit die billike toedeling na elders in die begroting skuif. Die verwagting is dan ook dat dit tot tussen 150 en 200 kWh verhoog kan word.

Oor Eskom se besteding aan onafhanklike kragprodusente het Bukula bevestig dat dit die onafhanklike dieselkragstasies én groenkragaanlegte insluit.

Oop kragmark sal koste afdruk

Volgens die departement sal die koms van 'n oop, mededingende kragmark beslis help om elektrisiteitskoste af te bring, want Eskom se kragopwekkingsafdeling sal met ander moet meeding.

Van die eerste bodronde van die departement se groenkragprogram het groenkragkoste al van R3,87 per kWh afgekom tot 56c per kWh in die sesde bodronde. Eskom sal in 'n mededingende kragmark gedwing word om sy doeltreffendheid en betroubaarheid te verbeter, want die toe- of afname van sy kragverkope sal regstreeks daardeur bepaal word.

Onderhandelde kragpryse

Oor die DA-komiteelid Kevin Mileham se vraag oor onderhandelde kragkoopooreenkomste met Eskom, sê Bukula Glencore het om 'n verhoging teen inflasie aansoek gedoen, maar daar word nog oor Trans Alloy se verhoging gekonsulteer.

Albei dié maatskappye betaal volgens Bukula tans Eskom se Megaflex-tariewe. Hulle moet ook hul aansoeke by Nersa indien en Nersa moet dan kyk of die redes wat hulle aanvoer vir hul versoekte verhogings "identifiseerbaar en onderskeibaar is".

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA