Energie

Eskom soek kopers vir sy eie sonkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Eskom het sy eerste eie groenkragverkoopprogram begin waardeur hy groot kraggebruikers uitnooi om elektrisiteit regstreeks by sy eie sonkragaanlegte te koop.

'n Versoek om voorstelle is uitgereik om die elektrisiteit wat opgewek gaan word by 291 MW se fotovoltaïese sonkragkapasiteit via langtermynkragkoopkontrakte te verkoop. Die elektrisiteit sal opgewek word by sonkragaanlegte wat op Eskom se grond gebou word.

Die suksesvolle bieërs sal volgens Eskom kragkoopkontrakte van 5 tot 25 jaar kan sluit. Dit is omdat die groenkrag in fases van verskeie Eskom-persele gelewer sal word as alles volgens plan verloop.

Dit volg op 'n proses waarin belangstelling en aptyt getoets is. Daar was sterk vraag van kommersiële en nywerheidskliënte wat langtermynkragkoopkontrakte met Eskom wil sluit.

Met dié ooreenkomste kan die sakeondernemings hul kweekhuisgasvoetspoor verklein en mededinging verbeter deur aan internasionale volhoubaarheidstandaarde te voldoen. Dit beteken in effek die ondernemings sal regstreeks skoon elektrisiteit teen 'n gekontrakteerde prys by Eskom kan aankoop vir die duur van die kragkoopkontrak, anders as op die gewone manier waarop hulle tans teen die heersende Nersa-gereguleerde tariewe krag van die nasionale kragnetwerk moet koop.

1ste projek einde 2027 gereed

Eskom verwag dat die eerste sonkragprojek wat hy op sy eie grond wil bou teen Desember 2027 in bedryf sal wees.

Dan Marokane, uitvoerende hoof, sê dit is die volgende stap in Eskom se strategie om meer groenkrag in die kragnetwerk te integreer in pas met internasionale bedryfstendense om omgewingsvolhoubare kragoplossings te lewer.

"Ons fokus nou nie net daarop om beurtkrag te beëindig nie, maar ook om Eskom te stuur in die rigting van 'n volhoubare en mededingende maatskappy."

Die stap kom te midde van die hervormingsproses in die kragsektor waarin Eskom as kragopwekker met private kragopwekkers sal moet meeding wat hul elektrisiteit op die beoogde groothandelskragmark vir verspreiding sal verkoop.

Verskeie private kragopwekkers het al begin om sulke kragkoopooreenkomste met groot nywerheidskliënte te sluit.

Eskom het onlangs aangekondig hy gaan 'n toegewyde groenkragonderneming op die been bring om die bou van hernubare-energi-projekte te versnel. Daar is planne om sowat 2 000 MW se groenkragaanlegte van 2026 af te begin bou. Die langtermynplan is om teen 2040 soveel as 32 000 MW se groenkragkapasiteit te hê, wat groen waterstof insluit.

Die jongste tenderproses sluit op 19 September en Eskom verwys belangstellendes na sy tenderbulletin vir meer inligting.

- francois.williams@24.com