Energie

Eskom straf sonkraggebruikers met nuwe tariefplan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Hommeltuig-foto van een van die sonkraginstallasies wat Versofy onlangs by ’n luukse woonkompleks gedoen het. Foto: VERSOFY
’n Hommeltuig-foto van een van die sonkraginstallasies wat Versofy onlangs by ’n luukse woonkompleks gedoen het. Foto: VERSOFY

(die berig is aangepas met meer besonderhede sedert dit aanvanklik gepubliseer is.)

Onaangename verrassings wag vanaf 1 April op residensiële Eskom-kliënte wat hul eie sonkragstelsels het wat aan Eskom se netwerk gekoppel is.

Tesame met die styging van 12,7% in kragtariewe, het Eskom ook goedkeuring by die Nasionale Energiereguleerder gekry om sy tariewe te herstruktureer sodat 'n groter deel van die totale kragtariewe wat 'n huishouding moet betaal, voortaan uit die vaste koste bestaan. Dit is volgens Eskom om die koste om die kragnetwerk in stand te hou regverdiger te verdeel tussen mense wat hul eie bykomende kragbronne soos sonkrag het en dié daarsonder.

Nog voordat enige kilowatt-uur (kWh) gebruik is, gaan huishoudings op Eskom se Homeflex-tarief voortaan net meer as R556 per maand betaal bloot om aan die kragnetwerk gekoppel te wees, blyk uit 'n ontleding van Eskom se jongste kragtariefstruktuur. Let wel die Homeflex-tarief is net van toepassing vir huishoudings wat hul elektrisiteit regstreeks van Eskom koop, en is nie van toepassing op munisipale verbruikers wat hul krag van munisipaliteite aankoop nie.

Dit bestaan uit 'n diens- en administrasietarief van R3,76 per dag, 'n netwerkkapasiteitstarief van R13,95 per dag, en 'n opwekkingkapasiteitstarief van 83c per dag. Die R556 is dus vir 'n maand van 30 dae. Die vorige enkele vaste tarief op Homeflex was R12.10 per dag, of dus R363 vir 'n maand van 30 dae.

Eskom-kliënte met hul eie dakgemonteerde sonkrag gaan gedwing word om na die Homeflex-tarief oor te skakel as hulle nog nie daarop is nie, blyk uit 'n inligtingstuk van Eskom.

Tariewe oor spitstyd skerp op

Die nuwe energietarief in sent per kWh in tye buite spitstyd en standaardtyd is voortaan 183,15c. Die standaardtarief is R2,35 per kWh in die somer en R2,48 per kWh in die winter. Maar daarby kom nou ook nog 'n aanvullende diensgeld van 0,47c per kWh, 'n sogenaamde erfenistarief van 26,2c per kWh en 'n netwerkvraagtarief van 30,33c per kWh. Die erfenistarief word deur Eskom beskryf as 'n tarief wat gehef word om die koste te dek van kontrakte wat Eskom verplig is om te sluit met onafhanklike kragprodusente ingevolge die regering se groenkragprogramme.

Met al dié tariewe saamgetel, sal dit 'n huishouding wat 500 kWh per maand gebruik dus 'n minimum van R1 200 kos om Eskom-krag te gebruik teen die aftyd-tarief, benewens die bykomende R556 net om aan die netwerk gekoppel te wees. Die spitstyd-tarief geld weeksdae van 06:00 tot 08:00 soggens en 17:00 tot 20:00 saans in Junie tot Augustus. Die spitstyd in die ander maande is van 07:00 tot 09:00 soggens en van 18:00 tot 21:00 saans.

Eskom se verduidelikings oor hoe die nuwe tariefstruktuur werk, is geensins duidelik nie. Navrae hieroor is nog nie beantwoord nie, maar volgens Eskom word 'n deel van die vaste tariewe, soos 80% van die opwekkingkapasiteitstarief en 66,7% van die diens- en administrasietarief, ingesluit in die energietarief. Eskom dui nie aan of die deel van die diensgeld wat by die energietarief ingesluit is, afgetrek is van die gelyste bedrag van R3,76 per dag vir diensgeld of nie.

Nog ekstra vir slimmeter

Eskom vereis dat sy regstreekse huishoudelike kliënte ook nog uit eie sak vir 'n nuwe slimmeter van sowat R7 000 betaal as hulle hul eie sonkrag het. In munisipaliteite soos Kaapstad waar iemand nie ekstra krag aan die netwerk wil terugverkoop nie, is die meter gratis, maar andersins sowat R6 000.

Rein Snoeck Henkemans, uitvoerende hoof van die sonkragfirma Alumo Energy, sê die regering moet groter duidelikheid oor energiebeleid gee om verdere gelddruk op huishoudings te verhoed. Henkemans waarsku die nuwe vaste tariewe kan die energiebesparings ondermyn wat huishoudings gehoop het om te behaal met hul beleggings in sonkrag.

Groter deursigtigheid nodig

Deursigtiger beleid en billike prysstrukture is nodig om die skuif na skoner krag te steun, sê Henkemans.

Hy bestempel die hoër vaste tariewe van Eskom as 'n manier om verliese te verhaal weens verbruikers se grootskaalse skuif na alternatiewe kragbronne soos sonkrag. Hy waarsku die vaste diensgelde en tariefherstrukturering is kommerwekkend vir huishoudings wat reeds in sonkrag belê het. "Daar is 'n dringende noodsaak vir groter deursigtigheid oor hoe hierdie tariewe bereken word en of dit werklik billike netwerkgebruikkoste weerspieël."

Eskom dreig boonop met boetes van tot meer as R6 000 vir huishoudelike kliënte wat nie hul sonkragstelsels by hom registreer nie. Daar is wel uitstel tot Maart volgende jaar, maar Henkemans waarsku dit pak nie die breër kwessie van langtermynbekostigbaarheid aan nie. Verbruikers wat na sonkrag geskuif het, maar steeds aan die netwerk gekoppel is, word volgens hom nou onregverdig gestraf, al help hulle om die druk op Eskom te verlig.

Die Homeflex-tarief van Eskom vra veel meer vir elektrisiteit in spitstye in die winter, teen 'n tarief van R8,13 per kWh. Dit kan die kragbegrotings van Eskom-kliënte erg ontwrig.

Sonkrag bly aantreklike opsie

Franc Gray, medestigter van die sonkragplatform Glint, meen sonkraggebruikers wat hul kragverbruik na die tye buite spitstyd kan skuif en tydens spitstye batterykrag gebruik, kan wel daaruit voordeel trek. As hulle tydens spitstye oortollige sonkrag aan die netwerk kan terugvoer, kan hulle baat by Eskom se netto-rekeningstelsel. Hul kragrekening kan dan krimp na gelang van hoeveel krag hulle terugvoer aan Eskom. Gray meen ondanks die bykomende vaste tariewe bly sonkrag 'n aantreklike opsie.

-francois.williams@24.com

CTA