Oberholzer se battery-tender: ‘G’n belangebotsing gevind’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie.Foto: Argief
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie.Foto: Argief

Jan Oberholzer het sy voormalige rol in die Eskom-topbestuur verklaar in die bodproses vir 'n multimiljardrand-batteryprojek waarin 'n groenkragmaatskappy waaraan hy verbind word, suksesvol was.

Geen belangebotsing is gevind nie, het LP's Woensdag gehoor.

Dit kom nadat 'n storm vroeër vandeesmaand om Oberholzer, oudbedryfshoof van Eskom, se kop losgebars het toe Mulilo, die groenkragmaatskappy waarvan hy die voorsitter en nie-uitvoerende direkteur is, en wat die afgelope paar jaar talle kontrakte by die regering gekry het vir die bou van sonkragaanlegte en windplase, nou ook een vir batterystelsels ontvang het.

Vier van die vyf kontrakte in die derde ronde van die departement van elektrisiteit en energie se batterykragprogram is aan Mulilo toegeken om batterystelsels te bou.

Beswaar

Die MKP en die mynwerkersvakbond NUM het vroeër beswaar gemaak oor die toekenning van die tenders van R9,5 miljard, waarvan Mulilo die meeste gekry het, en het aangevoer dat dit neerkom op 'n belangebotsing. Die MKP het gevra dat die kriteria vir die bod-evaluering, die puntetoekenning en die redes vir die diskwalifisering van die 26 ander deelnemers openbaar gemaak moet word.

LEES OOK | MKP en NUM vra ondersoek na Oberholzer-firma se kontrakte

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, en die kantoor vir onafhanklike kragprodusente (IPP) van die departement, het Woensdag 'n voorlegging oor die bodproses aan die parlementêre portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie gelewer.

Lena Mangondo, waarnemende hoof van die IPP-kantoor, het verduidelik dat die bodproses baie deeglik en robuus was. Bewerings is egter gemaak oor 'n beweerde belangebotsing rakende 'n voormalige bedryfshoof van Eskom, onredelike bevoordeling van sekere bieërs, 'n gebrek aan plaaslike bemagtiging en die diskwalifisering van ander bieërs sonder duidelike regverdiging.

Kragtens die kriteria word sowat 90% van die gewig aan die prys gekoppel en 10% aan ekonomiese ontwikkeling. Die aankoop van grond, die omgewing asook finansiële en tegniese aspekte tel onder die ander kriteria.

Verklaring van belange

Wat die verklaring van belange betref, is integriteitstoetse uitgevoer kragtens die vereistes van die nasionale tesourie. Daar is ook van bieërs vereis om ander verklarings ten opsigte van hul lede en direkteure af te lê.

Jan Oberholzer, voorsitter van Mulilo en oudbedryfshoof van Eskom. Foto: Argief
Jan Oberholzer, voorsitter van Mulilo en oudbedryfshoof van Eskom. Foto: Argief

'n Spesifieke verklaring is ook vereis ten opsigte van plaaslike polities blootgestelde persone wat staatsentiteite betref. Dit verwys na iemand wat die pos van voorsitter van 'n beheerraad, uitvoerende hoof, finansiële hoof of beleggingshoof van 'n staatsentiteit vir ses maande of langer beklee het of wat in daardie tydperk in só 'n pos waargeneem het.

Mangondo het gesê daar was ingevolge die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) geen vereiste dat die betrokke maatskappy (Mulilo) 'n verklaring aflê nie.

"Die maatskappy het egter 'n openbaarmaking verskaf van die rol van sy voorsitter as die voormalige bedryfshoof van Eskom. Ons regsadviseurs het dit oorweeg en aangedui inaggenome dat dié persoon in daardie rol was tot 2023 en geen betrokkenheid gehad het by die tender wat tans beoordeel word nie, was daar geen risiko en inderdaad geen belangebotsing in dié verband nie," het sy gesê.

Vrae

Talle vrae is geopper oor Oberholzer se teenwoordigheid by Eskom toe die versoek vir voorstelle (RFP) in 2023 uitgestuur is.

Moses Mbatha, MKP-LP, was warm onder die kraag oor die kwessie en het volgehou daar was 'n belangebotsing. Hy het aangevoer Oberholzer was daar toe die konsep van batterykrag op twee afsonderlike strategiesessies bespreek is. "Die man is eintlik 'n polities blootgestelde persoon in jul definisie, maar ook in sy vorige pos was hy die mees blootgestelde besluitnemer wat gesit het en saam met die owerhede geëet het. Dit is wat blootgestelde mense is.

"Die man gebruik die vrugte van sy vorige betrokkenheid om homself en sy mense te bevoordeel," het Mbatha gesê.

Integriteit van proses beskerm

Ramokgopa het aan die begin van die sitting gesê dit is belangrik om die integriteit van die proses te beskerm. Hy het klem gelê op die belangrikheid van deursigtigheid van die prosesse van die departement.

Hy is uitgevra oor die potensiële implikasies indien die klaers voortgaan met hul dreigemente en die kontrak uitdaag.

Hy het geantwoord na dié skakeling met die komitee - waarin die departement die bodproses aan 'n oop en robuuste bespreking onderwerp het - moet beleggers van heinde en ver dit beskou as dat daar niks is om weg te steek nie.

"Suid-Afrika is 'n geloofwaardige beleggingsbestemming. Dié oefening is belangrik, ons verwelkom dit. Daar is niks om weg te steek nie."

Mbatha het later Woensdagmiddag in vraetyd in die Nasionale Vergadering herhaal dat Oberholzer deelgeneem het aan die beplanning van die batteryprogram. "Dit is 'n botsing van belange. Wat gaan gedoen word aan die botsing van belange?" het hy gevra.

Ramokgopa het geantwoord dat die kwessie vir vier uur in die komitee uitgetrap is en dat die bewerings nie gesubstansieer kan word nie. Die bedryfshoof het Eskom in Junie (2023) verlaat en die proses het in Julie begin." Hy het soos in die komiteesitting herhaal indien daar bewyse is wat die tender in twyfel trek, moet dit onder die aandag van die departement gebring word, of dit moet in die hof uitgedaag word.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA