Sasol gaan sy steenkool nou eerder doeltreffender en slimmer gebruik as wat hy minder steenkool gebruik, maar steeds sy kweekhuisgasteikens behaal teen heelwat minder van die koste.
Dít is deel van die planne wat die petrochemiese groep Dinsdag op 'n kapitaalmarkdag aan beleggers deurgegee het.
Danksy 'n sterk veldtog om nog meer hernubare energie te bou en te gebruik, beoog Sasol om minder steenkool vir sy eie kragopwekking te gebruik sodat hy meer steenkool vir brandstofproduksie by Secunda kan gebruik, en om steeds minder kweekhuisgasse vry te stel op 'n netto grondslag.
Sasol gaan ook markmeganismes benut, soos die aankoop van koolstofkrediete, om sy kweekhuisgas-impak te verlaag.
Sasol wil sodoende mik om sy Secunda-aanleg se produksie terug te kry by die vlak van 7,4 miljoen ton per jaar.
Volgens Simon Baloyi, uitvoerende hoof, het Sasol aanvanklik gemik om tussen R15 miljard en R25 miljard aan die uitvoering van sy kweekhuisgasverminderingsplan te bestee. Maar dit word nou verlaag tot tussen R4 miljard en R7 miljard. Dit is omdat Sasol nie meer die duur prosesse gaan volg om brikette uit fyn steenkool te vervaardig nie. Dit was die aanvanklike oplossing om sy fyn steenkool te gebruik. Maar nou gaan Sasol eerder die fyn steenkool, wat sowat 30% van die steenkool uit sy myne verteenwoordig, op ander maniere benut, soos om dit aan ander gebruikers te verkoop.
Volgens Sarushen Pillay, uitvoerende visepresident vir strategie en tegnologie by Sasol, word fyn steenkool steeds by Sasol se stoomketels gebruik, maar minder daarvan gaan by Secunda gebruik word, en meer gaan na Sasolburg gestuur word vir gebruik.
Steenkool wat voorheen vir uitvoer bestem was, gaan by die was-aanleg van klippe gesuiwer word om by Secunda vir brandstofproduksie gebruik te word.
Die meeste van die aardgas wat Sasol van Mosambiek kry, word vir chemiese en brandstofproduksie gebruik. Wanneer Sasol van 2028 af nie meer dié gas aan nywerhede verkoop nie, gaan dit net in sy eie prosesse gebruik word. Maar dié gasbronne gaan volgens Pillay vinnig uitgeput wees en die laaste gas sal na verwagting teen 2034 ontgin word.
Sasol soek lisensie as elektrisiteitshandelaar
Sasol het egter gevind dit gaan veels te duur wees om vloeibare aardgas (VAG) in te voer om steenkoolverbruik by Secunda te vervang. Sasol gaan wel van 2030 af help om VAG in te voer om te herverkoop aan ander, en om betrokke te wees by gaskragopwekking.
Sasol is volgens Pillay in effek reeds die grootste private kragopwekker in die land, en wil dié rol uitbrei. Sasol het aansoek gedoen vir 'n elektrisiteithandelaarslisensie by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa).
Sasol wil nog nouer betrokke raak by hernieubare energie deur meer van sy eie groenkrag op te wek deur sulke aanlegte op sy eie grond te bou. Hy wil ook minderheidsbelange in ander groenkragondernemings koop.
Volgens Pillay is dit reeds winsgewend vir Sasol om groenkrag op te wek, want benewens dat dit hom geld bespaar deur minder van Eskom af hoef te koop en minder steenkool daarvoor te gebruik, kan hy oortollige krag aan Eskom en ander verkoop.
Mikpunt vir laer skuld
Wat finansies betref, sê Baloyi Sasol wil sy skuldvlakke verder verlaag tot $3 miljard of minder.
Sasol mik om sy bedryfsdoeltreffendheid te verbeter om teen 2030 by 'n olieprys van $50 per vat die winsdrempelvlak te kan bereik. Tans haal hy die winsdrempelvlak eers as die olieprys op sowat $58 per vat is.
Met sy internasionale chemiese bedrywighede wil Sasol ook verbeter deur die winsmarge tot 15% te verbeter.
Die mikpunt is om in die lopende boekjaar reeds die chemiese afdeling te kry waar hy positiewe kontantvloei voor finansieringskoste behaal. Teen die 2027-boekjaar moet die afdeling sy eie skuld kan diens, en teen die 2028-boekjaar moet sy wins tussen $750 miljoen en $850 miljoen wees.
Walt Bruns, finansiële hoof van Sasol, sê die mikpunt is om Sasol se netto skuld oor twee jaar tot onder $3 miljard te bring. Sasol wil dan ook die punt bereik waar hy weer dividende kan betaal.
Deur dissipline en die veranderde toekenning van kapitaal, wil Sasol teen 2028 jaarliks tussen R10 miljard en R15 miljard spaar, met 'n oplopende besparing van R15 miljard tot R20 miljard oor die volgende drie jaar.
Pillay sê Sasol wil die hoeveelheid hernubare energie wat hy opwek van 1 200 MW tot 2 000 MW en meer verhoog. Danksy die groter gebruik van groenkrag mik Sasol na R4 miljard se besparing aan kragkoste oor die volgende vyf jaar, en 'n verlaging van 10 miljoen ton se kweekhuisgasvrystellings.
- francois.williams@24.com












