Die wêreld was verlede jaar baie warmer as ander jare. Mense het dus hul lugversorgers harder laat werk, en dit het daartoe bygedra dat die wêreldwye elektrisiteitsvraag met 4,3% gestyg het.
Die vraag na elektrisiteit het verlede jaar internasionaal byna dubbel so skerp gegroei soos die breër energievraag.
Dit is weens die groter vraag na elektrisiteit vir verkoeling, nywerhede wat meer krag gebruik, en die groter kragvraag aangedryf deur datasentra, kunsmatige intelligensie en die skuif na elektriese voertuie, blyk uit die Internasionale Energieagentskap (IEA) se jongste verslag oor energie in 2024.
Energievraag het wêreldwyd met 2,2% gegroei, wat minder is as die groeitempo van die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP), maar aansienlik vinniger as die gemiddelde jaarlikse groei in energievraag van 1,3% van 2013 tot 2023.
Kernkrag
Die IEA-verslag wys hernubare energie, kernkrag en aardgas het die meeste bygedra tot die groei in vraag. Hernubare energie en kernkrag het saam vir 80% van die groei in die internasionale elektrisiteitsvraag gesorg.
Ondanks volgehoue protes deur omgewingsaktiviste teen kernkrag, is meer as 7 000 MW se nuwe kernkrag in 2024 bedryf gestel, wat 33% meer is as in 2023.
Daar was 50% meer nuwe kernkrag-bouprojekte wat begin is as die vorige jaar, en al die nuwe projekte gebruik Chinese of Russiese ontwerpe.
Opkomende en ontwikkelende ekonomieë was verantwoordelik vir meer as 80% van die toename in internasionale energievraag. Dit was ondanks stadiger groei in China, waar energieverbruik met minder as 3% geklim het.
Ná verskeie jare waarin die energieverbruik in gevorderde ekonomieë afgeneem het, het hul energievraag in 2024 vir 'n slag weer gegroei, teen 'n gemiddeld van byna 1%.
Elektrisiteitsverbruik het met 4,3% gegroei, wat byna dubbel die jaarlikse gemiddelde groei van die afgelope dekade is.
Olievraag groei stadiger
Die vraag na olie het verlede jaar stadiger gegroei as voorheen. Dit was 0,8% meer.
Olie se aandeel in totale energievraag het vir die eerste keer tot onder 30% gedaal.
Dit is 50 jaar sedert die hoogtepunt, toe olie 46% van alle energievraag verteenwoordig het.
Elektriese voertuie
Die verkope van elektriese voertuie het verlede jaar met meer as 25% gegroei.
Internasionaal was een uit elke vyf motors wat verkoop is 'n elektriese model.
Dit het volgens die IEA aansienlik bygedra tot die afname in olievraag vir padvervoer, wat 'n groot deel van die toename in olieverbruik in die lugvaartsektor en die petrochemiese bedryf teengewerk het.

Steenkool
Die vraag na steenkool het met 1% gegroei, wat die helfte minder is as die groeitempo van 2023.
Die vraaggroei sou minder gewees het was dit nie vir intensiewe hittegolftoestande in China en Indië wat verkoelingsbehoeftes opgedruk het nie.
Meer as 90% van die totale jaarlikse groei in internasionale steenkoolverbruik word verteenwoordig deur die Chinese en Indiese verbruik weens die hittetoestande. Dit wys volgens die IEA hoe uiterste weerstoestande die verbruikspatrone van energie kan raak.

In China het steenkoolverbruik in sy yster-en-staalsektor met 2% verminder weens staalproduksie wat 1,7% laer is.
China se sementproduksie het met 9,5% gekrimp, en die IEA skat dat dié sektor se steenkoolverbruik dienooreenkomstig sou afneem.
China gebruik altesame 58% van die wêreld se steenkool.
In die gevorderde ekonomieë daal steenkoolvraag steeds.
In Amerika het dit met 4% gedaal, wat minder skerp is as die daling van 17% in 2023.
In Europa sluit al hoe meer lande steeds hul steenkoolkragstasies.
Teen September was Brittanje die jongste op die lys lande wat nie meer krag met steenkool opwek nie. Dit is die land waar die wêreld se heel eerste steenkoolkragstasie in 1882 begin is.

Kweekhuisgasvrystellings
Dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die IEA, sê die verslag se syfers lig uit hoe ekonomiese groei toenemend ontkoppel is van kweekhuisgasvrystellings. Kweekhuisgasvrystellings het met 0,8% gegroei, maar die wêreldekonomie het met meer as 3% gegroei.
Die koolsuurgasvrystellings van gevorderde ekonomieë was verlede jaar 1,1% laer op 10,9 miljard ton. Dit is nou so laag soos wat dit in 1974 was, al is die totale BBP van dié lande nou drie keer groter as 50 jaar gelede.
Die meeste van die groei in kweekhuisgasse het verlede jaar van opkomende en ontwikkelende ekonomieë buiten China gekom. China se kweekhuisgasvrystellings het stadiger toegeneem as voorheen.
- francois.williams@24.com




















